DEUR HELEEN MEYER; FOTO’S ADEL FERREIRA
Wees slim met verskillende gaarmaakmetodes en geurmiddels en omskep iets so basies soos wortels in ’n smaaksensasie.
Word wys met wortels
Wortels is een van die mees algemene groentesoorte op ons inkopielys. Die natuurlike soet smaak maak dit ekstra veelsydig. Dit is boonop lekker, of dit nou rou óf gaar opgedis word. En dit kan met amper enige gaarmaakmetode voorberei word.
- Geurmiddels wat dikwels saam met wortels gebruik word, sluit in: sitrus, komyn, karwysaad, vinkel, dille, gemmer, kerrie, sojasous, heuning, kaneel en neutmuskaat.
- Wortels wat saam met gekapte uie en seldery as die eerste stap in ’n resep saam gesoteer word, is ’n bekende en geurige basis vir baie soorte sop, bredie en ander geregte.
- Gerasperde wortels verskaf ’n natuurlike soet smaak aan tamatiesmoor, ’n maalvleismengsel, bredie of sop.
- En het jy al wortels oorweeg as die hoofbestanddeel in ’n wintergereg?
Geroosterde wortels en patats
Die natuurlike soet smaak van wortels en patats is nóg lekkerder as hierdie groentesoorte in die oond gerooster word. Sit dié eenvoudige maar baie geurige bygereg voor saam met gebraaide vis, varkvleis of geroosterde hoender.
Lewer 6 porsies
Bestanddele
- 250 g klein worteltjies, heel
- 250 g mediumgroot wortels, geskil en in die lengte in kwarte gesny
- 4 klein patats met die skil, in wiggies gesny
- 3 knoffelhuisies, in repies gesny
- 45 ml (3 e) olyfolie
- 10 ml (2 t) karwysaad (“caraway seeds”) of komynsaad
- 15 ml (1 e) heuning of sagte bruinsuiker
- ’n Hand vol vars kruisementblare
Metode
- Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas al die bestanddele, behalwe die kruisement, in ’n groot mengbak en meng die groente totdat dit deur die olie bedek is.
- Plaas die groente op ’n groot bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is en rooster dit 30-40 minute lank, na gelang van die groente se grootte, tot gaar en goudbruin. Sit dit voor met die kruisementblare.
__
Geroosterde wortelsop
Hier is ’n maklike en besonder geurige sop vir ’n lekker winter-ete. Dis boonop in ’n japtrap klaar.
Lewer 4-6 porsies
Bestanddele
- 500 g groot, ryp tamaties, in wiggies gesny
- 2 uie, in wiggies gesny
- 1 groot rooi soetrissie, ontpit en in repe gesny
- 750 g – 1 kg wortels, geskil en in dik skywe gesny
- 2 selderystingels met blare, in dik skywe gesny
- 2 knoffelhuisies, in kwarte gesny
- 15 ml (1 e) heel komynsaad
- 45 ml (3 e) gekapte Italiaanse pietersielie
- 10 takkies vars tiemie
- 45 ml (3 e) olyfolie
- Fyngerasperde skil en sap van een suurlemoen
- Sout en peper na smaak
- 1,25 liter (5 k) sterk Rooibostee
- 30 ml (2 e) grofgerasperde vars gemmer
- Ongegeurde jogurt, of suurroom, en Italiaanse pietersielie om mee voor te sit
- Geroosterde pampoensaad om mee voor te sit (sien wenke hier onder)
Metode
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Plaas die tamaties, uie, soetrissie, wortels, seldery, knoffel, komyn en die helfte van die kruie in ’n groot mengbak. Giet die olie oor en meng dit goed deur.
- Plaas die groentemengsel op twee groot bakplate of in vlak oondbakke. Geur dit na smaak met die helfte van die suurlemoenskil en -sap en die peper.
- Rooster dit 45 minute lank. Of totdat die groente gaar en goudbruin is, maar nie te donker nie. Haal daardie stukkies groente uit wat te donker is, of wat effens gebrand het.
- Plaas die geroosterde groente in ’n groot kastrol en roer die tee, gemmer en die kruie by, asook die ander helfte van die suurlemoenskil en -sap.
- Meng dit met ’n stokmenger totdat dit verpulp het, of skep alles in ’n versapper en verpulp dit. (Onthou: Wortels verpulp nie so glad soos botterskorsie nie. Wortelsop het dus ’n effens growwer tekstuur.)
- Geur die sop na smaak en verhit dit totdat dit deurwarm is. Voeg ’n bietjie water of nog Rooibostee by indien die sop te dik na jou smaak is.
- Sit dit warm voor met lepeltjies vol jogurt of suurroom of ’n paar druppels olyfolie, en Italiaanse pietersielie, peper en van die pampoensaad.
Wenke
- Geur die sop met gewone of gerookte paprika, as jy dit so verkies.
- Rooster die pampoensaad op ’n klein bakplaatjie terwyl die groente rooster totdat dit net goudbruin en aromaties is. Jy kan dit ook in ’n droë pan rooster, sonder olie en oor matige hitte. Wees egter versigtig, want dit rooster baie vinnig en kan maklik brand.
__
Hoender-en-wortelkerrie
Die wortels maak die gereg lekker kleurvol. Dit bevat ook genoeg stysel vir die ete en kan dus net so voorgesit word. As julle egter rys daarby verkies, geniet dit saam met klein porsies bruinrys of bruin basmatirys.
Bestanddele
- 30 ml (2 e) olyfolie
- 2 uie, in wiggies gesny
- 2,5 ml (½ t) heel vinkelsaad (“fennel”)
- 10 ml (2 t) heel komynsaad
- 2,5 ml (½ t) borrie
- 10 ml (2 t) matige kerriepoeier
- 6-8 kerrieblare, of 2 suurlemoenblare
- 15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
- 1 klein rooi brandrissie, ontpit en fyngekap
- 15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
- 100 ml water
- 6 wortels, geskil en in dik, diagonale skywe gesny
- 125 ml (½ k) hoenderaftreksel of Rooibostee
- 1 x 400 ml-blik klappermelk (sien wenke hier onder)
- 6-8 hoenderborsfilette, in skyfies gesny
- Sout en swartpeper na smaak
- 60 ml (¼ k) gekapte vars koljanderblare
- 60 ml (¼ k) kasjoeneute
- Ekstra koljanderblare
- Suurlemoenwiggies, as jy wil
Metode
- Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot, wye braaipan of wok. Soteer die uie ’n paar minute lank. Roer die speserye, kerrie- of suurlemoenblare, gemmer, brandrissie en suurlemoenskil by.
- Soteer dit ’n paar minute lank tot aromaties. Verlaag die hitte, giet die water oor die uie en laat prut dit oor lae hitte totdat die uie sag en geurig is en die water weggekook het.
- Roer die wortels by en soteer dit ’n paar minute lank totdat dit begin verbruin.
- Roer die aftreksel of Rooibostee by die uie- en wortelmengsel, asook die helfte van die klappermelk. Laat prut dit oor lae hitte totdat die vloeistof deurwarm en geurig is.
- Voeg die hoenderfiletskyfies by, saam met die orige klappermelk, en roer dit goed deur. Verhoog die temperatuur effens totdat die kerrie liggies begin prut. Laat prut dit 8-10 minute lank oor matige tot lae hitte, of totdat die hoender net gaar maar steeds sappig is. As die hoender te vinnig kook, sal dit droog word.
- Geur dit na smaak. Roer die gekapte koljanderblare by.
- Sit die kerrie met die kasjoeneute voor, asook die ekstra koljanderblare en die suurlemoenwiggies.
Wenke
1. Skud die blik klappermelk voordat dit oopgesny word sodat die inhoud goed deurgemeng is. Klappermelk skei in die blik en dit kan dalk vreemd lyk, maar daar is niks fout daarmee nie.
2. Sit die kerrie voor saam met liggiesgaargemaakte groenboontjies of broccoli.
3. Klappermelk pas perfek by speserygeure. Maar as jy nie van die smaak hou of dit nie in die hande kan kry nie, kan die resep ook met dubbel-dik jogurt gemaak word. Onthou dat die jogurt makliker as die klappermelk sal skif; maak dus die hoender oor lae hitte in die sous gaar.
__
Wortelkoek met ’n karameldrupsel
Wortelkoek word dikwels met ’n roomkaasversiersel voorgesit, maar probeer gerus hierdie weergawe met ’n karameldrupsel, met ’n tikkie sout daarby.
Lewer 1 koek
Bestanddele
Koek
- 500 ml (2 k) koekmeel
- 10 ml (2 t) bakpoeier
- 2,5 ml (½ t) koeksoda
- 2,5 ml (½ t) sout
- 10 ml (2 t) fyn kaneel
- 10 ml (2 t) fyn gemengdespeserye
- 5 ml (1 t) fyn gemmer
- 5 ml (1 t) fyn wonderpeper (“all spice”)
- 4 groot eiers
- 250 ml (1 k) suiker
- 250 ml (1 k) sonneblomolie
- 5 ml (1 t) vanieljegeursel
- 125 ml (½ k) karringmelk
- 500 ml (2 k) grofgerasperde wortels, die oortollige vloeistof uitgedruk
- 125 ml (½ k) grofgerasperde pynappel (of geblikte, gebreekte pynappel), die oortollige vloeistof uitgedruk
- 125 ml (½ k) grofgekapte neute wat jy verkies (’n mengsel van amandels, pekan-, makadamia- of okkerneute is heerlik)
Karamel met ’n tikkie sout
- 80 ml (⅓ k) sagte bruinsuiker
- 60 ml (¼ k) gouestroop
- 30 ml (2 e) botter
- 100 ml vars room
- 30 ml (2 e) water
- ’n Knippie fyn sout, niks meer as 1,2 ml nie
- Klapperskaafsels of droë klapper, óf van die grofgekapte neute vir garnering
Metode
- Koek: Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n 22 cm-koekpan met bakpapier uit en smeer dit liggies met olie.
- Sif die droë bestanddele saam in ’n mengbak.
- Klits die eiers en suiker 5-8 minute lank saam, totdat dit liggeel en donsig is. Gebruik ’n elektriese klitser in ’n groot mengbak of in ’n staanmenger. Voeg die olie, vanielje en karringmelk by en klits dit totdat dit goed gemeng is.
- Vou die droë bestanddele met ’n groot lepel by die eiermengsel in totdat dit net deurgemeng is. Moenie te veel roer nie.
- Vou die wortels, pynappel en neute in totdat dit net gemeng is, en skep dit in die pan. Bak dit 50-60 minute lank, of totdat ’n toetspen skoon uitkom. Maak seker dat jy die koek in die middel toets.
- Laat dit ’n paar minute op ’n afkoelrakkie staan. Keer dan die koek uit. Draai die koek om sodat die plat onderkant na bo wys. Laat dit só heeltemal afkoel.
- Karamel: Berei die karamel voor terwyl die koek afkoel. Plaas al die bestanddele, behalwe die sout, in ’n klein kastrolletjie. Verhit dit oor lae hitte en roer dit deurentyd totdat die suiker, stroop en botter opgelos het en ’n gladde mengsel vorm.
- Bring dit liggies tot kookpunt en laat dit 5-8 minute lank prut totdat die mengsel net begin verdik. Moenie dit te lank kook nie, want dan word dit te taai. Onthou dat dit ál dikker word hoe langer dit afkoel.
- Haal dit van die hitte af en roer die sout deeglik deur. Laat die karamel heeltemal afkoel voordat dit oor die koek gegiet word.
- Plaas die afgekoelde koek, met die plat kant na bo, op ’n groot koekbord. Dan is die bokant heeltemal gelyk vir die afronding.
- Giet die karamel eweredig oor die koek, smeer dit gelyk en laat dit self teen die kante afloop. Garneer dit met die klapperskaafsels, klapper of neute, en sit dit voor.