Dit voel soms of die lewe ons meer breek as wat dit ons opbou. Wanneer ons meer swaar dae as goeie dae beleef, en ons voel dat ons elke maand net-net deurdruk, soek ons ankers om aan vas te hou. Hierdie tien Bybelverse oor vrede is sulke ankers.
Verliese, teleurstellings en verwagtinge wat onbeantwoord bly bring dikwels emosies wat ons wil oorweldig. Om vrede hieroor te hê, beteken nie jy maak asof dié dinge nie ’n impak op jou het nie. Dit beteken dat jy eerder jou perspektief skuif om te fokus op die dinge wat vrede gee, en nie vrede steel nie.
Wanneer jy jou Bybel oopslaan om vrede op te soek wat slegs Jesus jou kan gee, is jy op ‘n goeie pad. Jy kyk dan met ’n lens van geloof en sien dat daar geen las oor jou pad sal kom wat jy nie kan dra nie. Vertroue in God se plan vir jou lewe kan rustigheid en vrede, en Bybelverse wat jy in jou hart oordink help om hierdie vrede te bring.
Hier is praktiese wenke hoe jy, saam met die Bybelverse oor vrede, weer die warboel in jou gemoed herstel:
Laat dinge los sodat jy vrede kan vashou
Aanvaar die dinge wat jy nie kon beheer nie. Ons is geneig om die fout te soek in onsself of ander om te verduidelik waarom iets ons oorgekom het. Dit is eers wanneer ons erken dat sekere situasies buite ons beheer is dat ons vrede kan maak. Dit help nie om die las van skuldgevoelens te dra vir uitkomste wat jy nie kon keer nie. Maak jouself vry van die “wat as”.
Dankbaarheid vir wat jy het bring vrede
Ongeag jou seisoen, is daar sekere dinge waarvoor jy eens gebid het wat jy nou as vanselfsprekend ervaar. Jy het dalk nuwe vriende gemaak, jou naastes bygestaan terwyl jy self gesukkel het of sterk gestaan in die aangesig van jou vrese. Met elke wending in ons geloofspad, word ons herinner waar ons krag vandaan kom. Daar is soveel dinge waarvoor ons nie dankbaar is nie, want ons is te behep met dit wat ons nie het nie. Om vrede te vind, moet ons ons oë oopmaak vir die goeie dinge wat ons wel het.
Laat jou geloof jou vrede bou
Deur in gesprek met God te leef, herinner ons daaraan dat Hy steeds besig is met ons – selfs al voel dit nie so nie. Wanneer ons biddend bly, sal ons elke uitdaging sien as ‘n geleentheid om te groei – in geloof, dankbaarheid en vrede. Ons vind vrede wanneer ons verstaan en beleef dat ons die lewe se uitdagings nie op ons eie kan hanteer nie, maar ons dit eerder deur geloof in Jesus kan hanteer en selfs in vrede daardeur leef.
10 Bybelverse oor vrede waaraan jy kan vashou
Niemand behoort hulle moegheid, hartseer of self skuld alleen te dra nie. Hier is tien Bybelverse oor vrede wat jou kan help om met rustigheid en vol vertroue jou geloofsreis aan te pak:
Jesaja 43:19
“Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”
Matteus 11:28
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”
Psalms 34:18-19
“As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”
Romeine 12:12
“Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.”
Psalms 147:3
“Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.”
Filippense 3:13-14
“Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.”
Joël 2:25
“En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het – my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.”
Psalm 55:23
“Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.”
2 Korintiërs 4:16
“Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.”
Psalm 18:29
“U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my.”
Kyk vorentoe vir vrede
Ons vind vrede wanneer ons ophou om die dinge van die verlede saam te dra, en sag begin instem op wat die toekoms vir ons inhou. Doen dit biddend, en met hierdie verse in jou hart gevestig.

















