DEUR SIMONE GAUCHE
Die son kom op en die son gaan onder. Die maan het verskillende fases. Die gety stoot in en trek weer uit. Daar is vier seisoene in ’n jaar. Daar is diere wat opgaar vir die winter en diere wat hiberneer. Daar is dié wat hul pels en voorkoms verander wanneer die seisoen verander. ’n Plantjie blom net in ’n sekere tyd van die jaar; die res van die jaar sien ’n mens hom nie eens raak nie.
LEES OOK: Ek dink vandag aan jou
Ja, die lewe is vol siklusse. Herhalende patrone.
Ons hemelse Vader het die wêreld só geskep. Daar is ’n bepaalde ritme. Die eb en vloed van die natuur is oral om ons sigbaar.
Maar ons sukkel daarmee
Tog vind die mens dit bitter moeilik om met so ’n soort ritme te leef. Ons verwag dat ons tydens élke seisoen in ons lewe dieselfde produktiwiteitsvlak moet handhaaf. Ons bereken ons waarde aan wat ons uitgerig kry. Ons ís wat ons doen, sê ons vir onsself.
Die intensiteit waarmee ons die lewe aanpak, verander nooit nie. En dan is ons verbaas as ons uitbrand, as ons knaend moeg voel. As die vreugde waarmee ons ons take gewoonlik aanpak eensklaps gedemp word.
Ons weier om te erken dat ons minder gedoen kry omdat ons onsself nie toelaat om te rus nie.
’n Vriendin skerts onlangs dat sy voel sy moet in die winter saam met die son kan opstaan. Dit voel vir haar of haar liggaam net nie in die koue wintersoggende uit die bed wil kom nie.
Ek weet waarvan sy praat. Iets in ons lyf sê vir ons dis verkeerd om in die donker op te staan en dan weer in die donker huis toe te kom. Ja, dalk steek daar meer waarheid in haar lighartige opmerking as wat sy self besef. Dalk moet ons meer na buite kyk, na die natuur om ons, sodat ons kan leer oor die seisoene in ons eie lewe. Dalk sal ons dan meer genade met onsself hê wanneer ons ’n seisoen van voorbereiding en rus beleef.
Die regte tyd
Hoor wat skryf die psalmdigter: “Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak” (Ps 1:3).
Luister weer: “Wat op die regte tyd vrugte dra …” Die régte tyd.
Ek het nog nooit daaraan gedink wat dit beteken om op die regte tyd vrugte te dra nie. Maar deesdae maak die psalmdigter se woorde baie sin. ’n Boom bot en dra vrugte in ’n bepaalde seisoen. Dis die tyd wanneer die weersomstandighede perfek is vir dié spesifieke boom om sappige, soet vrugte voort te bring. Die res van die jaar moet hy rus.
Dan kom die tyd dat die boom voorberei word vir die nuwe oes. Hy moet gesnoei word. Só kry hy ’n mooi vorm, die dooie takke word verwyder. Alles is daarop afgestem dat die boom, wanneer die regte tyd aanbreek, weer vrugte sal dra. En dalk meer en beter as die vorige keer.
Kan ’n boom “deurmekaar” raak? Kan hy op die verkeerde tyd bot? Dan sal sy vrugte vir seker nie reg wees nie. Dalk klein. Dalk smaakloos. Dalk sal niemand daarvan wil eet nie.
Luister tog mooi
Ons luister dalk net met die een oor wanneer ons die Bybelse metafore hoor oor bome wat moet vrugte dra. Dikwels hoor ons bloot die “moet vrugte dra”- gedeelte. Ons hoor nie “die regte tyd”- gedeelte nie. Ons wil dalk nie hoor dat dit ’n voorvereiste vir ’n vrugbare boom is om te rus nie. Ons wil dalk nie weet van die voorbereidingstyd nie.
Maar hier is ’n waarskuwing: As ons voorspoedig wil wees in alles wat ons aanpak, moet ons leer om op die regte tyd vrugte te dra. Ons moet ook weet verskillende bome dra vrugte op verskillende tye. Ons moet daarom bly wees saam met ons medegelowiges wanneer dit hulle seisoen is om vrugte te dra. As dit nie óns seisoen is nie, moet ons onsself toelaat om te rus, om voor te berei. Wanneer die regte tyd aanbreek vir ons om vrugte te dra, sal ons dan oorvloedige, sappige, soet vrugte dra.
Daar is genade en vrede te vind in rus en voorbereiding. Mag jy die seisoene ken, en elkeen daarvan aangryp. Dis nodig indien jy op die regte tyd wil vrugte dra.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.