Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Haar tweeling so oud soos toe sy hul ma geword het: ‘God se liefde het my gehelp om myself te vergewe’

‘Ek onthou dat ek my ma keer op keer om verskoning gevra het, terwyl sy deurentyd my hand vasgehou en my moed ingepraat het. Sy het geweet wat vir my voorlê.” Só vertel Annelene McCabe van die groot skok toe die dokter bevestig het dat sy ’n tweeling verwag. Sy was toe self nog ’n kind, skaars 14 jaar oud.

Daardie dag, 15 jaar gelede, toe Annelene uitgevind het sy is swanger, was die swangerskap reeds vyf maande ver. Sy het nie eintlik onraad vermoed nie; haar siklus was immers baie ongereeld.

Maar daar was allerlei gerugte. Haar ma het daarvan te hore gekom en haar gekonfronteer.

“My ma het gesê dat sy, toe sy die stories hoor, dadelik besef het dat dit die waarheid is. Sy het die tekens raakgesien – veral die vinnige toename in my gewig.

“Ons het begin praat. Sy het my nie veroordeel nie; sy was deurentyd kalm en rustig.

“Sy het begin deur my te vra wat die kanse is dat ek swanger kan wees. Ek moes erken dat dit moontlik is. Maar omdat my siklus so ongereeld was, het ek steeds in ontkenning geleef.”

‘Ek was oorweldig deur skaamte en vrees’

Annelene vertel hoe skaam sy was toe hulle by die dokter aankom vir ’n swangerskaptoets. Dit was hul jare lange huisdokter, wat by haar geboorte teenwoordig was. “My ma het my verseker dat ek nie alleen is nie, maar ek was oorweldig deur skaamte en vrees.”

Sy het steeds gehoop dat die toets negatief sou wees. Die dokter het besluit om nie ’n swangerskaptoets te doen nie, maar eerder ’n sonar-ondersoek.

“Die baba was duidelik sigbaar op die skerm. Die dokter het die baba gemeet en gesê dat ek vyf maande swanger is. Ek het in trane uitgebars.

“Toe het hy intens na die skerm gestaar, en vir ons gewys: Daar was twee babas.”

‘Dit was bykans ondraaglik’

Die volgende stap was om die tweeling se pa te laat weet, asook haar eie pa. Die pa van die tweeling was in matriek en Annelene in graad nege.

LEES OOK: In egskeiding, skaamte, veroordeling en nood is God steeds dáár

Annelene se pa was baie teleurgesteld, en sy het dit verstaan. “Ek dink my ouers het hulleself kwalik geneem. Ouers dink dikwels dat dit hulle skuld is as so iets gebeur.

“Daar is ook mense wat sommer aanneem dat jy uit ’n slegte huis kom. Dis nie waar nie; ek kom uit ’n baie gebalanseerde huis. My ouers was streng, maar ook liefdevol.

“Al was hulle in daardie stadium besig om te skei, het dit niks aan die atmosfeer in ons huis verander nie. Ek is steeds gekoester.”

Toe moes hulle die skoolhoof gaan spreek. Daar is besluit dat Annelene vir eers nie sou terugkeer skool toe nie. Sy is ook nie by sportbyeenkomste toegelaat nie. Daarop het sy die hele tweede kwartaal tuis deurgebring, en feitlik nooit die huis verlaat nie.

Die tweelingseuns is op 8 Junie gebore. Annelene is in die derde kwartaal terug skool toe.

“Dit was baie moeilik,” vertel sy. “Ek het soveel vriendinne verloor. Baie kinders en onderwysers het my veroordeel. Dit was bykans ondraaglik. Ek wou my kop in ’n gat druk.”

‘My ma was my rots’

“Tuis het daar ’n ander uitdaging op my gewag: Nou was ek ’n mamma.

“My ma was my rots. Ek het vir lank by haar in die bed geslaap sodat sy my met die nagvoedings kon help. Ek het ’n hele ondersteuningsnetwerk gehad: My sussie het kom help, en selfs my pa het ingespring. Ook my ma se vriendinne was gereeld byderhand. Ek sou nooit die tweeling sonder hierdie span kon grootmaak nie.

“Die tweeling se pa het elke naweek kom kuier. Die Here het ons elke dag gedra. Ek het sy hand in alles gesien.

“Dit was vir my ’n uitdaging om weer my identiteit te vind. Soggens wanneer ek wakker geword het, was ek ’n ma. Ek moes doeke ruil, babaformule aanmaak en die kleintjies voed. En ’n paar uur later was ek ’n skoolkind.

“Middae ná skool en wanneer die skoolaktiwiteite afgehandel is, was ek weer ’n mamma.

“Ek was altyd moeg. My dae van oorslaap, partytjies of ’n koffieafspraak met ‘n vriendin was nie meer deel van my lewe nie. Sommige van my vriendinne se ouers wou ook nie hul kinders aan my en my geselskap blootstel nie. Dit was rof.

“In my graad tien-jaar het ons Betlehem toe getrek. Ek was verlig om op ’n skoon bladsy te begin. Maar dit was nie lank nie of die nuwe skoolmaats het van die tweeling geweet. Die geboelie het van voor af begin.

“Dit was ’n baie donker tyd in my lewe. Aan die einde van graad 10 het my ma, ter wille van my emosionele welstand, weer Kroonstad toe verhuis.”

‘Sagte omgeekinders’

Hoewel dit ’n besonder moeilike tyd was, sê Annelene dat die vreugde daarvoor vergoed het. “Om die tweeling, Johan en Francois, groot te maak was ’n enorme uitdaging. Maar dit was ’n goeie leerskool. Ek dink nie buitestanders het my reis as skooldogter met twee babas so goed begryp nie.

“Vandag is hulle 15, en ek kan my lewe nie sonder hulle voorstel nie. Hulle is sagte omgeekinders wat hul sussie en boetie met liefde omvou. Hulle help my baie met die agtjarige Charlotte en die driejarige Matthew.

“Soms, as ek nou na die tweeling kyk, maak dit my emosioneel. Ek was so oud soos hulle tans is toe ek hul ma geword het.

“Die seuns se pa is steeds baie betrokke by hulle. Hulle sien hom elke tweede naweek en elke vakansie.

“Dis vir my belangrik dat hulle weet dat ek hulle wou gehad het, al was ek so jonk. Ek gee hulle daagliks daardie versekering. Ek sou die reis nooit anders wou hê nie.

“Dis wel ook vir my noodsaaklik om openlik met hulle te praat oor die feite van die lewe. Onkunde doen niemand ’n guns nie. Ek wil nie hê my kinders moet eendag verkeerde besluite neem omdat hulle nie oor genoeg kennis beskik het nie.” 

‘Ek is God se genade werd’

Annelene het nooit gedink dat sy ooit ’n man sou ontmoet wat ook die tweeling sou aanvaar nie. Die Here het egter vir Eddie (34) oor haar pad gestuur. Hulle is nou nege jaar getroud, en hy het ’n baie hegte verhouding met die seuns. Volgens hul ma is hy baie betrokke by die seuns en hul lewe, en hy loop nie een van hul aktiwiteite mis nie.

Annelene praat openlik oor haar geloof: “Ek het jare lank geestelik gesukkel. Ek kon nie aanvaar dat die Here vir my lief kan wees nie. Ek was skaam voor Hom. Ek wou nie sy vergifnis aanvaar nie omdat ek myself kwalik geneem het oor my misstappe. Ek het vir lank geglo dat ek nie God se genade werd is nie.

“Eendag het my suster my na ’n vrouekamp geneem, en hier het ek God se liefde opnuut ervaar en myself vergewe. Die skaamte en die donkerte is deur Hom na die lig gebring. En ek was weer Annelene – die een voor die seer.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►