Die Katolieke Kerk se bewondering vir Maria van Nasaret, die moeder van Jesus, het my nog altyd gefassineer. Oor die wêreld heen dra Katolieke kerke en katedrale en plekke van aanbidding haar naam: Daar is, onder meer, die Notre-Dame de Paris in Frankryk, die Onze-Lieve-Vrouwe-katedraal in België en die Basílica de Nuestra Señora de Guadalupe in Mexiko.
Maria is waarskynlik die figuur wat die meeste in die Westerse kuns uitgebeeld is. En dan dikwels waar sy haar Baba aan die kyker voorhou. Sy bly op die agtergrond, terwyl die Kindjie, weerloos en kwesbaar, die aandag trek. Almal se oë rus op die Kind.
Die nuwe Eva
In die Christelike tradisie word Maria dikwels as die nuwe Eva beskou, die een wat deur haar gehoorsaamheid help herstel wat as gevolg van die eerste Eva se ongehoorsaamheid gebreek is. Daarom word sy soms uitgebeeld waar sy op die slang trap wat Eva in die Tuin van Eden verlei het.
Miskien interesseer Maria my omdat ek, ’n Protestant, dikwels beleef hoe God se vroulike eienskappe doelbewus, of minstens onnadenkend, op die agtergrond geskuif word. God is tog nie man of vrou nie, maar die Skepper wat alle menslike kategorieë en skeidslyne te bowe gaan.
Of dalk is dit omdat vroue se rol in die kerk plek-plek steeds bevraagteken word. Dit is immers vroue wat geboorte gee, wat versorg en koester. Wanneer ons na die skepping verwys, praat ons van Moeder Aarde. Die Bybelskrywers gebruik dikwels beeldspraak wat op ’n ma van toepassing is wanneer hulle God se sorg en ontferming beskryf.
Een van ons
In Lukas 1:38 lees ons Maria se bekende woorde aan die engel wat haar besoek het: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”
Maria sê ja wanneer God haar roep. Daarmee moedig sy ons aan om ook ja te sê wanneer Hy ons roep. Wanneer sy Jesus aan die wêreld gee, herinner sy ons daaraan dat God se grootste gawes nooit net vir onsself bedoel is nie. Dit moet altyd aangegee word, meegedeel word.
Maria is een van ons. Sy was ’n gewone mens, vol foute en onsekerhede soos enige ander mens. Daarom kan ons met haar identifiseer. Buiten die feit dat sy Jesus se ma geword het, was daar op die oog af niks wat haar van ander jong vroue onderskei het nie. Sy het nie wonderwerke verrig nie. Sy het nie groot heldedade gedoen nie. Tog sien ons hoe sy haar, vol vertroue, by die bruilof in Kana na haar Seun wend wanneer die wyn opraak. Sy weet Hy sal iets daaraan doen.
Soos soveel destydse vroue bly sy grootliks in die skaduwee. Daarom vind baie van ons aanklank by haar wanneer sy in Lukas 1:48-49 sê: “Hy het die nederige posisie van sy diensmeisie raakgesien. Kyk, van nou af sal al die geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dinge aan my gedoen – heilig is sy Naam.”
Die buitengewone God
God kies dié wat deur die wêreld as onbelangrik beskou word, en dan keer Hy die wêreld se waardes om. Hy werk met en deur hulle wat nie aansien het of ’n belangrike posisie beklee nie. Al wat Maria in werklikheid gedoen het, was om te sê: “Hier is ek. Ek is gewillig en beskikbaar.”
Van haar eerste ja aan die engel Gabriël tot by haar laaste ja aan die voet van die kruis het sy bly vertrou. Ten spyte van alles wat met haar gebeur het – en dalk juis as gevolg daarvan – het sy aan God vasgehou.
Wanneer Christus in ons lewe gestalte kry, word ons, net soos Maria, geroep om Hom aan die wêreld te verkondig. Dít is die krag van genade: dat God buitengewone dinge deur gewone mense doen.
En miskien is dit die rede waarom Maria my steeds boei. Nie omdat sy buitengewoon was nie, maar omdat sy die moed gehad het om ja te sê vir ’n buitengewone God.
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.





















