Mari Botha (33) van Kemptonpark en haar man Johan (41) het twee jaar lank probeer swanger raak. Mari was 21 jaar oud toe sy met die outo-immuunsiekte lupus gediagnoseer is. Asook APLS, ook ’n outo-immuunsiekte, wat gekenmerk word deur abnormale bloedklonte en herhalende swangerskapverliese. Sedertdien veg sy hierteen.
Sy was amper drie jaar in remissie toe sy op ’n dag die goeie nuus ontvang dat sy wel swanger is.
‘Die kanse is skraal dat sy sal oorleef’
Tydens ’n roetine-ondersoek op 12 weke het haar ginekoloog egter bloedklonte in haar plasenta gediagnoseer.
LEES OOK: ‘Die dokters het geen hoop vir Janri gehad nie; ons bly vashou aan die Woord’
Mari vertel: “Ek moes toe gereelde ondersoeke ondergaan om seker te maak die baba word nie negatief geraak nie. Maar toe ek 16 weke swanger was, het die ginekoloog gemerk my baba se groei is nie wat dit in daardie stadium moes wees nie.
“Buiten die bloedklonte in my plasenta was daar bloedklonte in die naelstring, wat verhoed het dat my ongebore baba suurstof en vloeistowwe kon ontvang. Haar lyfie het ook heeltemal buite verhouding ontwikkel: Die kop was byvoorbeeld groter as die res van haar lyf; die arms en bene was piepklein.”
Op 8 Mei 2019 het Mari gevoel iets is nie pluis nie en sy het ’n noodafspraak gemaak. “Die ginekoloog het vasgestel die bloedvloei na my ongebore baba se lyf was nie voldoende nie. Ek was toe ’n week in die hospitaal en is met onder meer steroïede behandel om die toestand te monitor en te kyk of ek my baba nog langer kan dra. Volgens die dokters moes ons probeer om die swangerskap tot 28 weke te verleng.
“Maar vanweë al die risiko-faktore, en die feit dat die Dopplervloei omgekeer het, is die bevalling vervroeg.
“So is Ruaché op 15 Mei 2019 op 25 weke in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria gebore. Sy het 440 g geweeg. Haar lyfie was so lank soos ’n pen, met die omvang so groot soos ’n blikkie koeldrank. Sy was in ’n broeikas, en ’n voedingsbuis en asemhalingsmasjien is aan haar gekoppel.
“Die dokters het gesê die kanse is skraal dat sy sal oorleef. Enige baba wat minder as 550 g weeg, is nie eintlik lewensvatbaar nie.”
‘Ek moes hard baklei om Ruaché weer te sien’
Twee dae ná Ruaché se geboorte tref nog ’n terugslag die Botha-egpaar: Mari se niere het opgehou funksioneer omdat die bloedklonte die niere beïnvloed het. “Ek was drie maande in die hoësorgeenheid in dieselfde hospitaal as my kind, totaal geïsoleer, en ek het elke dag dialise ontvang.
https://lig.christians.co.za/leefligter-die-volgende-40-dae-ander-se-getuienisse-help-ons-om-verby-vrees-en-verdriet-te-kyk/
“Ek het Ruaché net een of twee keer ná haar geboorte gesien, maar daarna mag ek haar vir twee maande nie besoek het nie weens allerlei infeksies en ander komplikasies. Vanweë al die vog in my liggaam het ek 37 kg opgetel; ek kon skaars beweeg. Maar ek het hard baklei om die vog te verloor sodat ek net na Ruaché kon gaan.”
Ruaché was maar tien dae oud toe ’n derm gebars het. Sy moes ’n ileostomie kry. Dis ’n chirurgiese prosedure om die stoelgang deur middel van ’n buis te herlei. Sy het vir eers binneaarse voeding ontvang, en daarna buisvoeding deur haar neus. Op ongeveer nege maande is ’n “peg tube” ingesit en sy kon toe die kos direk deur haar maag ontvang.
Mari onthou die dag goed toe sy haar “wonderwerkie” die eerste keer weer kon sien. “Dit was ’n dramatiese dag. Ek mag glad nie aan Ruaché gevat het nie omdat haar vel so maklik kon skeur. Sy het daar in ’n ‘ziplock-sakkie’ gelê. En daar was sóveel buise aan hierdie klein, hulpelose mensie gekoppel … Dit het my hart gebreek.
“Ons kon haar eers op drie maande optel en vashou.”
Mari se wederhelf Johan, ’n bestuurder by ’n beroepsgesondheidmaatskappy, het elke dag 47 kilometer van Kemptonpark na die hospitaal in Pretoria gery om by Mari en sy eersgeborene te gaan kuier. Mari se ouers, wat op dieselfde erf as hulle woon, het hulle deurentyd onderskraag en het gesorg dat daar kos op die tafel is wanneer Johan tuiskom.
Die enigste uitweg
Ruaché is uiteindelik, ná 330 dae, in April 2020 ontslaan en sy kon huis toe gaan. Sy het ’n skrale 1,8 kg geweeg, moes steeds buisvoeding ontvang en was steeds aan ’n ventilator gekoppel. Gelukkig het ’n verpleegsuster, wat tydelik by hulle tuisgegaan het, met die versorging gehelp.
Nadat Mari uit die hospitaal ontslaan is, het haar niere ál verder verswak en sy moes drie keer per week dialise ontvang. ’n Nieroorplanting was die enigste uitweg.
“Maar,” vertel sy, “dis ’n lang proses om ’n geskikte kandidaat vir ’n nieroorplanting te vind; dit kan soms jare duur. My pa het dadelik gesê hy sal ’n nier skenk, maar hy is ná talle toetse afgekeur; hy was nie die regte pasmaat nie.
“My oom, Kallie van Niekerk, het ingestem om een van sy niere te skenk. Gelukkig was hy ’n geskikte kandidaat.”
Op 2 Desember 2021 het Mari ’n nuwe nier ontvang. Maar op die derde dag ná die oorplanting het haar liggaam die nier begin verwerp. Chemoterapie en ander medikasie moes haar liggaam help om die verwerping teë te werk. “Want indien my liggaam nie die nier aanvaar nie, was ons terug by die begin.
“’n Mens se liggaam is veronderstel om ’n nuwe orgaan 100% te aanvaar – en in my geval werk die nier slegs 27%. Maar ek leef daarmee saam en is baie dankbaar. Gelukkig hoef ek nou nie meer vir dialise te gaan nie.”
‘Ons loof die Here’
Mari en Johan het ná haar nieroorplanting, en met klein Ruaché tuis, op ’n manier hul ou lewe hervat. Mari bedryf haar eie kultuurskool, Encore Culture School, in Kemptonpark. Hier bied sy drama-, sang-, kitaar- en klavierlesse aan vir leerders van graad een tot matriek. Smiddae hanteer sy ook ’n program oor kuns en kultuur op Die Waarheid Radio.
Intussen is klein Rauché besig om goed te vorder. “Die buis in haar lugpyp word binnekort verwyder aangesien sy nie meer bykomende suurstof nodig het nie. En sodra sy leer om self reg te eet en te sluk, word die voedingsbuis ook verwyder.
“Haar ontwikkeling is uiteraard stadiger as ander kinders s’n, maar sy ontvang gereeld arbeids-, fisio- en spraakterapie. Donderdae woon sy ’n speelgroepie by ons kerk by, en sy sosialiseer reeds goed met die maatjies.
“En op 15 Mei vier sy haar vierde verjaardag! Ons loof die Here vir hierdie groot wonderwerk.”
‘Mý plan; sý plan’
’n Groot ondersteuningsnetwerk – wat haar ouers, hul familie, vriende en gemeente insluit – het Mari en Johan deur hierdie uitdagende vier jaar gedra. “Daar is sedert Ruaché se geboorte SMS- en WhatsApp-groepies vir gebedsgroepe op die been gebring. En toe Ruaché se longe vir die hoeveelste keer platgeval het, is ’n spesiale biddag by die Wilgers-hospitaal se kapel gehou. Ek het meer as ooit die krag van gebed besef.”
“En deurentyd,” vertel Mari, “was Johan my groot steunpilaar. Die feit dat so baie mense vir ons gebid het, het ons voortdurend bemoedig. Ek het baiekeer op ’n plek beland waar ek net nie meer kon aangaan nie, veral tydens die dialise. Ek het soms soos ’n wandelende lyk gevoel.
“Maar al kon ek soms nie opstaan nie, het die Here my laat opstaan. Ek het my lewe honderd persent in sy hande oorgelaat. ’n Mens verstaan dikwels nie waarom jou lewe ’n bepaalde koers ingeslaan het nie, en ek het soms baie kwaad geword en die Here gevra: ‘Hoe weet U ek is sterk genoeg om al hierdie ontberinge te hanteer?’
“Maar ek het ook besef ek moet alles aan Hom oorlaat en Hom ten volle vertrou. Al is dit nie mý plan nie, is sý plan beter. Ek het ook geweet ek moet om Ruaché se onthalwe aanhou veg, want sy is ons klein wonderwerkie. En sy het haar mamma nodig.”
‘Ek het geleer …’
Mari sê sy het in dié tyd ’n klompie waardevolle lewenslesse geleer: “Ek het geleer om ‘in die oomblik’ teenwoordig te wees; om nie aan môre te dink of my oor môre te bekommer nie.
“Ek het ook geleer dat my krag in die Woord lê. God se Woord is die waarheid, en alles wat ek soek, sal ek daarin vind.
“En boweal het ek geleer om in my geloof te volhard. Sonder dié volharding sou ek dalk lankal tou opgegooi het.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.