“En gee ons ‘n goeie nag se rus,” het my pa klokslag die tafelgebed vir aandete afgesluit.
Hoe vreemd dat my pa so iets vir die Here moes vra, het ek kleintyd gedink. Dis mos nou voor die hand liggend: as jy jou kop neersit, is jy vinnig-vinnig in droomland. Om vir ‘n goeie nag se rus te vra, was soos om te vra dat die son tog môre moet opkom. Heeltemal oorbodig.
Tot my eersteling haar opwagting gemaak het.
Toe raak “gee ons ‘n goeie nag se rus” nie net die afsluiting van ‘n gebed nie, maar die hele gebed. Pleitend, en vol hoop.
Smekend het ek al in die donker nag gevra dat ons baba tog net moet slaap. Net vir ‘n rukkie nog. Net so ‘n klein rukkie totdat ons darem die vroegdag se voëltjies kan hoor sing. Of ten minste net tot dit lig genoeg is om die buitelyne van haar lyfie in die skemer te sien.
Ek onthou dat my pa ook soms gebid het: “Bewaar ons deur die nag.”
Ja, bewaar ons daarvan om waansinnig te raak van slaap wat gedurig onderbreek word. Van vier, vyf keer uit die bed uit moet opstaan. Elke keer met die verkeerde voet.
Bewaar ons van deurkners op ons tande in die klein uurtjies van die nag. En bo alles, bewaar ons van onbesonne dade, van middernagtelike moord.
En dan kom die antwoord op my smeekgebede.
Dit kom in die koergeluide van ‘n kleintjie wat hier langs jou lê. Kostelike klankies wat frustrasie laat wyk soos die donker voor ‘n helder lig. Die antwoord op gebed is onskuldige glimlaggies wat ‘n slaapversteurde ouer se hart vermurwe. Ogies wat vol vreugde en verwagting na jou loer.
En dan, wanneer die nag op sy donkerste is, die gevoel van ‘n sagte baba teen jou bors. Die ritmiese asemhaling van ‘n kleintjie wat slaap. ‘n Soet asempie teen jou nek.
En ‘n stil gebed: “Dankie, Here. Vir ‘n goeie nag.”



















