Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Boervrou getuig te midde van droogte, kanker: ‘Jy leer kinderlik glo wanneer die uitsigloosheid jou baasraak’

“Nog ’n bakkievrag maer ooitjies wat mark toe moet gaan omdat die bankbestuurder nie meer kan toegee nie … Hoe gaan ons die rekenings betaal, diesel vir die bakkie ingooi en die kinders se skoolfonds betaal?”   

Dit is die soort kwelvrae wat Janine Brynard telkens vir haarself moes afvra sedert ’n knellende droogte op hul plaas Excelsior, in die hartjie van die Hantam en 40 km van Calvinia, toegeslaan het. Dié droogte duur al bykans 15 jaar.

Maar niks kan hierdie moedige en diep gelowige boervrou onderkry nie. Ook nie haar borskanker-diagnose meer as twee jaar gelede nie.

Janine vertel: “Ek het vroeg in my huwelik met Joppie besef hoe naby ’n mens aan die Here moet leef te midde van bitter omstandighede. My hart breek soms, veral as ek sien hoe ’n ooi wegloop pas nadat sy gelam het, hoe sy haar lammetjie net so los.

“Die grootmaak van die hanslammers was my verantwoordelikheid. Dit was ’n bittersoet ervaring. Dalk was dit die Vader se manier om my voor te berei op wat toe nog sou kom …”

‘Dis uitmergelend’

Maar die droogte is wreed. Die bossieveld is net stoppels; die warrelwinde, en die stof wat dit opskop, vee alles plat; daar is geen voer en water vir die kudde nie; daar is nie lammers om te slag nie; die skape vrek voor die voet; die kuil op die plaas droog op. 

LEES OOK: Weduwee en boervrou vertel: ‘Ek is God se trofee van genade’

“Dis uitmergelend en breek my hart …”  

Weens al die gepaardgaande finansiële uitdagings het hierdie ma van drie met ringnek-papegaaie begin boer en die kleintjies aan troeteldierwinkels verkoop. Later het sy ook met die eiers van ’n klompie lê-henne gesmous.

Toe is dit groenvye, olywe, kweperjellie, pruimjellie, gehekelde lappies, geskenksakkies, kaartjies, miniatuur-vetplantjies. Intussen bak Joppie skuinskoek, so op die tradisionele manier, met ’n suurdeegplantjie.

Janine se produkte word by plaaslike blomme- en feesmarkte verkoop. Sy bak tema-koeke op bestelling, asook kolwyntjies.

Al dié dinge dien as ekstra inkomste vir huishoudelike benodigdhede. Sy vertel: “Dié projekte het ons aan die lewe gehou.  

“Ek is ’n praktiese mens wat graag vooruit wil beplan. Dit het egter geweldige innerlike spanning tot gevolg. ’n Mens leer binnetoe huil as jy sien dat jou planne opraak.

“Maar ek was nooit kwaad vir die Here nie. Trouens, ek deel my kommer en onsekerheid met Hom. En ek kan eerlik sê dat die jare se swaarkry my beslis nader aan Hom gebring het. ’n Mens leer regtig kinderlik glo wanneer dinge so uitsigloos is.”

Janine vertel hoe hulle in 2015 hul hele kudde verloor het. “Skaap is jou vaste en standhoudende jaarlikse inkomste, mits daar ’n lammeroes is. Daar is ook elke seisoen se saaigewasse en lusern, maar as dit nie regtig reën nie is daar geen oes nie.”

Weens hul finansiële probleme is daar geen permanente werksmense op die plaas nie. Met die reën wat in 2018 en 2019 heeltemal weggebly het, was dinge so benard dat die windpomp byna geen water gegooi het nie. “Ons het nie water in die huis gehad nie. Ek het Vrydae 25 liter-kanne in die dorp vol water gemaak en plaas toe gebring. Ek het die wasgoed in die dorp gewas.

“Die veld was net stoppels, die waterkuil het opgedroog en water vir die paar skape is van die buurplaas se opgaardam aangery. Die grootste deel van die tuin was tot niet. Die pragtige reuse-akkerboom, wat al geslagte lank staan, het gevrek.”

Hulp en uitkoms

Hulp het genadiglik uit verskeie oorde gekom. Mense en ondernemings het voerbale en mielies geskenk, asook groente en kruideniersware vir die huis.    

Janine vertel: “Maar ons kon steeds nie finansieel oorleef nie. Toe het ek ’n pos as koshuismoeder in Calvinia gekry, waar die kinders op skool was. Dit was ’n antwoord op baie gebede. Ek kon weer die skoolfonds betaal en huishoudelike benodigdhede aankoop. Gelukkig kon ons meestal in die koshuis bly en ook daar eet.”

In 2019 het Janine ook by Liefland Kleuterskool op Calvinia begin werk om haar inkomste aan te vul. Daarby was sy die laerskool se snoepie-koördineerder.

In 2020 het daar verdere verligting gekom: die bekende Burre Burger se droogtehulp, wat die kinders se skool- en koshuisgelde betaal het gedurende die droogte; skenkers wat gehelp het met broodnodige dinge, soos ’n koeltrok waarmee Joppie slaglammers Boland toe kon neem om dit daar te bemark; voer- en kruideniersware-skenkings wat landwyd ingesamel is.

Ook BRINO, ’n plaaslike droogtehulp-organisasie, het die Brynards gehelp, veral met huishoudelike- en kruideniersware.    

In 2021 het hulle ’n buitengewone groot groenvye-oes gehad. Die nuus oor die ingelegde groenvye is deur Burre Burger op sosiale media geplaas, en mense regoor die land het daarvan bestel.

’n Nuwe onsekerheid

Maar toe tref ’n verdere ellende die Brynard-gesin: In November 2022 is Janine met fase 2-borskanker gediagnoseer. Sy vertel: “Dit was ’n uiters emosionele tyd. Ek sal nooit die seer en onsekerheid in Joppie en die kinders se oë vergeet toe ek hulle daarvan sê nie. 

“Ons mediese fonds-plan het nie onkologiedekking ingesluit nie en ons kon in daardie stadium nie ’n verhoogde premie bekostig nie. Met die hulp van die organisasie BRINO is ’n fondsinsamelingpoging geloods en ’n klompie slaglammers is uitgeloot. Die reaksie was oorweldigend. Daardie inkomste het ’n hele paar maande se verhoogde premie gedek.

“Die Calvinia-omgeegroep het met my operasie en die daaropvolgende behandeling ’n finansiële bydrae gelewer, asook die JAP127-uitreik.

“Omdat ek ’n baie rare oorgeërfde veltoestand onder lede het, pemphigus, wat uiters aggressief op enige hormoonbehandeling reageer, het ons gebid vir leiding oor moontlike alternatiewe behandeling. ’n Terapeut het ’n moontlike behandelingsplan voorgestel. Dit het natuurlike middels ingesluit.”

Ná nege maande se behandeling het Janine weer skanderings ondergaan. Daar is geen spoor van die kanker gevind nie.

“Ek loof Koning Jesus wat my genees het! Die Here tel ’n mens op wanneer dit voel asof niks meer sin maak nie. Hy vertroos en bemoedig jou met sy liefde en teenwoordigheid. Dis Hy wat jou krag gee wanneer jy liggaamlik en emosioneel nie in staat is om selfs jou kop op te lig nie.”     

‘Weer vertrou ek die Here vir uitkoms’

In die loop van 2023 en in Julie en Oktober 2024 het dit wel op die plaas gereën. “Dit was ’n asemskep-jaar. Dit het baie gehelp om die watertafel te voed, hoewel dit nog nie naastenby is waar dit moet wees nie, en steeds nie genoeg is om die veld te laat herstel nie.

“Droogte het ’n langdurige uitwerking; dis nie bloot gekoppel aan reën wat nie val nie. As die opvolgreën wegbly, is daar nie veel in die bossieveld wat ons kan gebruik nie.

“Ons skaapgetalle is steeds baie laag. Maar die Vader het ook hierin voorsien: Ons het skenkings gekry van ’n klompie boere in die Burgersdorp-omgewing wat vir ons ’n paar merino-ooie gestuur het. En boere uit Swellendam het koringsaad geskenk ná die reën in 2023.

“Ons is wel nou weer midde-in die droogtestryd. Die skaap is honger, hulle is dors. Die veld is tot niet en die warrelwinde staan weer op.” 

Janine is terug op die plaas, waar sy haar Unisa-studies wil voltooi, met die klompie kalwers help, en die administrasie en boekhouding van die boerdery hanteer. Die dogters is ook by die huis en studeer aanlyn. Hul seun, wat vanjaar met sy tweede jaar by Elsenburg naby Stellenbosch sou begin, het pas gehoor dat sy Nasionale Studentefondsbeurs afgekeur is.

“Weer vertrou ek die Here vir uitkoms,” sê Janine. “Ons bid elke aand saam, en ons voel sy teenwoordigheid en nabyheid elke dag. Dit gee ons moed vir môre. Hy het ons nog nooit gelos nie. Waarom dan wanhoop? Ek weet Hy het ’n wonderlike plan vir ons.”                                                     

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►