Nege jaar gelede het die 53-jarige Sandra Sissons skielik ’n weduwee geword. Haar man Clint is ná ’n kankerstryd oorlede. En sy moes Sissons Feeds in Magogong, sowat 15 km noord van Hartswater, alleen behartig.
Gelukkig is Sandra, wat op ’n plaas grootgeword het, lief vir boerdery. Daarom het sy kans gesien om dié gemengde boerdery – lusern, pekanneute, mielies, koring, gars, sonneblomme en grondbone – oor te neem.
Sy moes ook drie kinders alleen grootmaak.

‘Ek verstaan dit nie, Here.’
Clint was ’n boer in murg en been, ’n goeie sakeman, hardwerkend en ’n wonderlike gesinsman. Op 4 Augustus 2014 het hy begin siek voel en hy is na Mediclinic Kimberley gehaas. Daar is verskeie toetse op hom gedoen.
Sandra vertel: “Dit was seweuur die aand toe die dokter ons die skokkende nuus meedeel dat Clint met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is. Dat hy dadelik Kaapstad toe moes gaan vir behandeling.
LEES OOK: ‘Ek was deurentyd bewus van die Here se teenwoordigheid,’ getuig boervrou ná plaasaanval
“Ek het eers behoorlik tot verhaal gekom toe ek alleen in my motor klim. Dit was alles net te veel. Ek was diep geskok. Die woord ‘kanker’ was vir my gelykstaande aan ’n doodstyding. En ek het nooit gedink dit sou ons gesin tref nie. Ek het só magteloos gevoel … Die trane het geloop.
“Ek het net gesê: ‘Ek verstaan dit nie, Here.’”

‘Ek het gevoel om weg te kruip’
“Daarna het ek, wanneer ons by hom gaan kuier het in Mediclinic Constantiaberg se onkologie-afdeling, met al sy opdragte oor die boerdery teruggekeer plaas toe. Ek het ook van die administratiewe werk saamgeneem sodat hy dit saam met my kon deurgaan.”
Clint kon soms huis toe kom vir ’n langnaweek. Tydens dié besoeke het hy deur die plaas gery en al die bedrywighede goed bekyk, raad gegee, en nuwe opdragte.
Die plaaswerkers het toe reeds ’n lang pad saam met Clint en Sandra gekom. Hulle was uit die staanspoor baie lojaal teenoor Sandra.
Op 4 Junie 2015, vyfuur daardie oggend, het Sandra die gevreesde oproep van die Kaapse hospitaal gekry: Clint het gesterf.
Sy vertel sy het in trane uitgebars, en toe die nuus aan haar drie kinders, Kyle (18), Tyla (17) en Dylan (13) oorgedra. Hulle vier is Kaapstad toe, waar Clint veras is. Met Clint se as by hulle het hulle weer in die pad geval, terug plaas toe.
Maar die boerdery moes onverpoos voortgaan. “En ek moes reëlings tref vir Clint se gedenkdiens hier. Ek was totaal oorweldig. Ek het gevoel om weg te kruip vir die wêreld. Om net eers tot verhaal te kom.
“Ongelukkig staan die wêreld nie stil nie, en veral nie ’n boerdery nie.
“Ek het die Here gevra: ‘Hoe doen ek dit nou, vrou alleen?’”

‘Hy het ’n spesiale plek vir weduwees en weeskinders’
“Ek en die kinders het Clint nodig gehad. Ek het my Bybel oopgemaak – en daar was ’n nota in: ‘As jy aan die Here behoort, kan daar niks met jou gebeur wat nie deel van God se plan met jou lewe is nie.’
“My pa het my raad gegee en gesê: ‘My kind, ons wik maar God beskik. Hanteer dit sekonde ná sekonde, minuut ná minuut. En dan een dag op ’n slag. Die Here sal voorsien. Hy sal jou die nodige krag, wysheid en insig gee.’
“Ek moes elke dag hard baklei teen die trane. Ek moes egter sterk bly ter wille van die kinders; ek wou nie voor hulle huil nie.
“Maar saans, as almal slaap, kon ek die krane oopdraai en dan het die trane gerol. Hoe kon ek ma én pa vir my kinders wees? My kinders gaan sonder ’n vaderfiguur die lewe ingaan. Ek het hulpeloos en moedeloos gevoel.
“Maar op ’n dag maak ek my Bybel oop by Psalm 68, en ek lees van vers 5 af: ‘Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: Here is sy Naam; en jubel voor sy aangesig! ’n Vader van die wese en ’n regter van die weduwees is God in sy heilige woning. God laat die eensames woon in ’n huisgesin.’
“Net daar besef ek dat ek en die kinders nie alleen is nie. Dat die Here ‘daar’ is vir ons. Hy het ’n spesiale plek vir weduwees en weeskinders.
“Ek weet nie hoe mense trauma en skok kan hanteer as die Here nie in hul lewe is nie. Hy voorsien jou daagliks van innerlike krag. Ek het Hom gevra om my vennoot te word – in my lewe en in die boerdery.”

‘Om te boer is baie harde werk’
Volgens Sandra was dit nie altyd maklik om al haar verpligtinge as ma na te kom nie, want die boerdery het baie van haar tyd in beslag geneem. En as die kinders Sondagmiddae met die bus moes teruggaan koshuis toe, het sy so ’n hol kol op haar maag gekry wanneer sy na die leë huis moes terugkeer.
“Daar was ’n ewige leemte. Niks of niemand kon dit vul nie, al het my ouers en familie baie ondersteuning gebied. Die Here het my egter met drie wonderlike kinders geseën. Elkeen het skouer aan die wiel gesit en gehelp waar hulle kon.”
Sandra onthou hoe sy een Maandagoggend deur die plaas gery en na die boerderybedrywighede gekyk het. “Ek wou net weer begin paniekerig word, toe ek skielik hierdie oorweldigende kalmte beleef het. Ek kan dit nie beskryf nie, maar dit was asof ek die Heilige Gees se teenwoordigheid kon aanvoel.
“Ek het nuwe hoop gekry. Sou ek sy teenwoordigheid so ervaar het as Clint nie gesterf het nie? Ek beskou myself as God se trofee van genade, want sonder Hom sou ek nie my drome kon verwesenlik nie.
“Om te boer is baie harde werk. Dis liggaamlik en geestelik uitputtend. Daar is finansiële druk, en die bemarking van jou produkte, en die sluit van kontrakte. Ek het talle inligtingsdae bygewoon.
“Boonop is ’n boer afhanklik van die natuur, want dit bepaal jou opbrengs en uiteindelik jou sukses. Juis daarom is dit belangrik om na aan jou Skepper te leef.
“Jy het die inspirasie en leiding van die Heilige Gees nodig om te kan oorleef. En ek hou vas aan Paulus se woorde in 2 Timoteus 1 vers 7: ‘Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.’”
Sandra se oudste, Kyle, het intussen by die boerdery aangesluit. Hy is vir Sandra ’n groot hulp. Boerdery is ook sy passie.
“My swaarkry as enkelma en voltydse boer het my geleer dat jou verhouding met God die belangrikste is. Deur op Jesus te fokus, deur tyd saam met Hom deur te bring en daagliks sy Woord in te drink, sal vir seker die leemte in jou vul. Daarom voel ek opgewonde oor dit wat Hy vir my toekoms beplan.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.



















