Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Reisende klaskamers – ’n goeie antwoord op ’n moeilike vraag

Twee klaskamers vol boeke en propvol passie reis daagliks na laerskoolkinders wat arm is aan stories en taal, en veral arm aan hoop. Deur dié projek word Bolandse kinders uit agtergeblewe gemeenskappe se wêreld groter gemaak. En dit gee hulle die geleentheid om self hulle vlerke te sprei.

En só lyk dié projek:

“Toe lees ons die storie van die prinses en die ertjie en ek vra: ‘Wie weet hoe groot is ’n ertjie?’”

So vertel Karin Nel, een van die twee Reisende Klaskamer-onderwyseresse. Sy onthou hoe die kindertjies, wat soos sardientjies in die moderne biblioteek- en rekenaarklaskamer ingeryg gesit het, elkeen ’n raaiskoot gewaag het. Die antwoorde het gewissel tussen ’n enorme voorwerp waarom hulle hul dun armpies net-net sou kon slaan, tot iets so groot dat twee graad 1-handjies dit skaars sou kon vashou.

’n Doodgewone ertjie? Nee, dié kinders in die landelike gebied buite Wellington het nie geweet hoe groot daardie stukkie groente is wat onder die prinses se tien matrasse gelê en haar ’n slapelose nag besorg het nie.

Wanneer Karin en haar kollega Cathy Naeem ’n skool besoek, word daar elke keer stories gelees. “Ons lees verskillende stories. Ons wil hulle aan ’n verskeidenheid onderwerpe blootstel,” vertel Cathy. “Wilde diere, die seelewe. Daardie dinge wat nie deel van hul leefwêreld vorm nie. Ons hoop dan om op dié manier kreatiwiteit te stimuleer.”

Die “reisende klaskamer” se doel is immers om leesvaardigheid te help kweek, en om ’n wiskunde-grondslag in die onderskeie skole te help lê.

Juffrou Cathy Naeem lees vir die kinders voor

Die klaskamer help skryf aan ‘n nuwe lewenstorie

Dié innoverende projek is ’n inisiatief van DGB – ’n privaat wyn- en spiritusvervaardiger en -verspreider – se liefdadigheidstrust. Ree du Toit, produksiedirekteur by DGB en trustee van die DGB-liefdadigheidstrust, sê: “Die reisende klaskamers gee aan kinders die geleentheid om ’n nuwe lewenstorie te skryf.”

Die eerste van dié klaskamers, ’n enorme, 22 meter lange sleepwatrok, is in 2022 toegerus en uitgestuur om opvoedingswerk in die Wynland te doen. In 2025 is ’n tweede een bekendgestel, grootliks befonds deur die DGB- en Hutch – Giving Children A Chance-trust. Dit word voorts ondersteun deur hoofdonateurs Daimler Truck, Ardagh-glasverpakking en Rhenus Logistiek, asook ’n groeiende netwerk van passievolle individue, sakeondernemings en -organisasies.

Tans bedien dié twee klaskamers nagenoeg 5 000 kinders by 19 laerskole. Dit versterk en verryk die onderrig van 153 onderwysers wat daar skoolhou.

Ree vertel hoe die saadjie geplant is: “Ek was oorweldig deur die groot aantal plaasskole in die Boland se behoefte aan hulpbronne en goeie onderwys. Ons liefdadigheidstrust se hooffokus is opvoedkunde, en ons bedien die hele spektrum: van vroeëkinderontwikkeling tot om beurse vir naskoolse studie te bied aan die kinders van die werkers in ons eie kelder.”

Omdat die behoefte so groot was, het DGB op dié unieke konsep besluit. Hulle het hieroor met die mense by die Rawsonville-kelder gesels, wat ’n landelike skool naby dié dorpie bedryf.

Ree vertel: “’n Outjie by dié skool het my tydens ons besoek aan die mou getrek. Hy het met so ’n wakker-akker-gesiggie na my opgekyk en gevra: ‘Antie, gaan ek nou ’n robot sien?’

“Ek, met my beperkte kennis van robotte, het probeer dink wat die seun bedoel. Het hy ’n soort Spiderman of Batman in gedagte gehad?

“‘’n Robot?’ het ek gevra.

“‘Ja Antie. Daai ding met die rooi en die groen en die oranje lig.’

“Hierdie kind woon 10 kilometer buite die groot dorp Worcester en het nog nooit ’n verkeerslig gesien nie. Ná daardie ontmoeting het ek geweet dat die beplande reisende klaskamers moet help om dié kinders se klein wêreldjie groter te maak.”

Busbestuurder JP Peterson

Talle helpers vir die reisende klaskamer

Die twee sleepwatrokke is met rekenaars toegerus, asook ’n biblioteek vol uitgesoekte Afrikaanse kinderboeke. “DGB het kenners ingeroep om ons te help met die bestuur en die daaglikse, praktiese aktiwiteite,” sê Ree.

Dr Thys Smith, Ilse Human en Gertie Smit bestuur die reisende klaskamer-projek. Thys het aanvanklik die 19 skole geïdentifiseer deur elke skool met sy bakkie te besoek, en dan te vertel van die diens wat deur so ’n klaskamer gelewer sou word. Hy vertel: “Die skole het ons met ’n dankbare hart ontvang, en hulle is steeds dankbaar vir die werk wat ons by hul leerders doen.”

Die gebrek aan geriewe by die skole het Thys opgeval. “Daar is geen rekenaars nie. Geen biblioteke nie. Sommige skole het wel ’n vraghouer vol boeke tot hul beskikking. ’n Soort biblioteek – maar tog ook nie. Die boeke is verouder en verslete. En daar is niemand beskikbaar wat ’n biblioteekstelsel kan behartig nie.

“Daarenteen is die boeke in ons reisende klaskamers met die hand uitgesoek. Gertie, voorheen ’n dosent in die grondslagfase by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie, kies hierdie boeke self, sodat dit sowel opvoedkundig as taalkundig gesproke geskik is.” Gertie is ook verantwoordelik vir skakeling met die provinsiale onderwysdepartement.

Elke klaskamer beskik oor ’n bekwame busbestuurder, iemand wat die bielie-van-’n-bib-op-wiele oor smal grondpaaie en om moeilike draaie navigeer. Hulle is ook opgelei om die biblioteekstelsel te behartig.

Jacobus Minnaar is een van dié busbestuurders, en hy vertel: “Ek sorg dat die trok veilig daar kom en dat dit in ’n goeie toestand bly. Ek sorg ook dat die kragopwekker reg werk.” Laasgenoemde is nodig om krag aan die rekenaars te voorsien en die internetverbinding in stand te hou. Én die lugversorgers in die versengende Bolandse somer.

Jacobus se kollega, JP Peterson, is op dieselfde manier verantwoordelik vir die ander reisende klaskamer.

Uit die staanspoor was nóg kennis en hulp nodig. Kinderland Akademie, die gemeenskapsuitreikaksie van die Kinderland-trust in Wellington, bemoei hulle met die opleiding van opvoeders by kleuterskole in agtergeblewe gemeenskappe, en dié akademie was die perfekte vennoot om die reisende klaskamers in die regte rigting te stuur.

Juffrou Karin Nel

‘Dis hulle leefwêreld’

Die twee onderwyseresse, Cathy en Karin, het onderskeidelik 20 en 12 jaar se toepaslike ondervinding wat hulle in staat stel om met kinders uit agtergeblewe gemeenskappe te werk. Die passie waarmee dié bedrewe leerkragte hul liefdestaak in die reisende klaskamer verrig, syfer deur in elke verhaal wat hulle vertel.

Karin: “Ons lees eendag ’n storie oor iemand in die hospitaal, en ’n seun roep uit dat sy ouboet ook in die hospitaal was. Ek vra toe, ewe belangstellend, waarom hy in die hospitaal was en ek maak my reg vir ’n antwoord oor siekwees. Maar toe kom dit: ‘Hy is doodgesteek, Juffrou.’
“Dís hulle leefwêreld.

“’n Deel van die reisende klaskamer se kurrikulum is daaop gemik om gesonde waardes saam met die leesvaardighede in te skerp. Ná daardie gesprek het ons gepraat oor hoe geweld nie probleme oplos nie.”
Cathy vertel hoe sy op ’n dag ’n prentjie van ’n miskruier vir die kinders gewys en gevra het. “En wie weet wat hierdie gogga doen?

“Hulle het geweet, ja. Daardie bolletjie mis wat hy so met sy agterpote rol …

“Toe vra ek ook, soos ’n onderwyser maar dikwels vra, aan watter woorde hulle nóg kan dink wat ‘mis’ beteken.

“Die antwoorde wat dáár uitgekom het …”

Cathy lag haar vrolike lag. ’n Lag wat kinders opbeur en hoop gee.

Sy vertel verder van ander verrassende antwoorde uit die mond van kinders wie se ouers nooit vir hulle voorlees nie. Sulke kinders se lot sal dieselfde wees as dié van hul ouers – as hulle nie aan ander moontlikhede blootgestel word nie. Dis ’n sage van armoede, van ’n sporadiese werkie op ’n plaas, van kinders grootmaak terwyl hulle self nog kinders is. Dis ’n skynbaar eindelose kringloop.

Lees hier hoe jy betrokke kan wees by jou kind se ontwikkeling.

’n Tipiese dag in die reisende klaskamer

Cathy vertel: “Ons besoek altesaam 10 skole in ’n twee weke-siklus. Wanneer ons daar aankom, gaan spreek ek die skoolhoof. Dan kom die kinders in die grondslagfase-klasse na ons toe.

“Gewoonlik sal ek hulle eers aanpraat: ‘Gooi weg jou kougom; steek in jou hemp; trek reg jou hare.’ Hulle kom sit in rye voor ons, styf teen mekaar, sodat elkeen ’n plekkie het.

“Dan sal ek ’n storie voorlees. Soms speel ek musiek; ander kere wys ek ’n video op die grootskerm in die klaskamer. Ons gebruik die storie om die kinders gesonde waardes te leer.

“Daarby probeer ons om, deur die storie, taalvaardighede vas te lê. Die kinders se onderwyser kan die boek uitneem waaruit ek sopas voorgelees het. Sy neem ook ander boeke uit vir die kinders in haar klas, wat hulle dan tydens leesperiodes kan deurblaai of self lees. Sodoende kry die kinders die geleentheid om goeie boeke te lees. Hopelik kweek dit by hulle ’n liefde vir lees en leer.

“Dié wat in graad 3, 4 en 5 is, werk met die rekenaars. Dit is hoofsaaklik om wiskundige begrippe vas te lê en te versterk.”

Die hoop is om in die komende jaar nog reisende klaskamers op die pad te sit. Kontak DGB by Charitable.Trust@dgb.co.za of skakel 021 864 5303 om met Ree du Toit te gesels.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►