Ons leef asof ons ’n eiland is. Ons praat van mý werk, mý gesin, mý probleme, mý geld. Maar die Bybel beskryf nooit die kerk as ’n eiland nie. Paulus gebruik, onder meer, die beeld van ’n liggaam. Só skryf hy: “Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus” (1 Kor 12:12).
Só is dit met ’n liggaam
In ’n liggaam werk dinge anders as by ’n versameling enkelinge. In die liggaam van Christus behoort dit wat aan een gegee is eintlik aan almal. Wanneer die been sterker word, kan die hele liggaam verder loop. Wanneer die brein skerper dink, reageer die hele liggaam vinniger.
Dit beteken dat daar geen plek vir iets soos jaloesie is nie. Wat iemand anders ontvang het – ’n gawe, ’n deurbraak, ’n seëning – is nie iets om te beny of te begeer nie, maar om saam oor bly te wees. Want dit is nie net húlle wins nie, dis ons almal s’n.
LEES OOK: Verruil kalklig-verslawing vir ’n plek by Jesus se voete
Net so hoef ons nie terug te hou as ons gee nie. Om te deel, om te help, om ander op te bou, beteken nie jy word minder nie. Inteendeel, in die liggaam van Christus werk die ekonomie anders as wat baie dink: Wanneer jy gee, ontvang jy ook. Wanneer die voete skoene kry, loop die hele liggaam sonder pyn. Wanneer die maag gevoed word, word die hele liggaam versterk. Daar is genoeg vir almal. En wanneer elke deel genoeg het, funksioneer die liggaam soos dit bedoel is om te funksioneer.
Die beeld van Christus se liggaam is lewendig en konkreet. Daar is, byvoorbeeld, balans nodig, daardie soort ewewig wat lewe moontlik maak. Wanneer iets versteur word, voel die hele liggaam dit. Wanneer een deel swaarkry of nie reg funksioneer nie, raak dit die hele liggaam.
Die ander, heerlike gevolg
Die hart van hierdie liggaam is liefde. Paulus skryf in Romeine 5:5 dat God sy liefde in ons hart uitgestort het deur die Heilige Gees. Dis hierdie liefde wat lewe gee, wat energie verskaf, wat die liggaam aan die gang hou. Daarsonder sterf ons. Geen deel van ’n liggaam kan sonder ’n kloppende hart oorleef nie; ook nie die liggaam van Christus as dit buite die stroom van God se liefde leef nie. Hoor wat skryf Paulus hieroor: “Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan” (1 Kor 12:27).
Hierdie waarheid vra van ons om te kies om in verhouding met die ander te bly, selfs wanneer dit moeilik is. Deur swaarkry, misverstande, versoeking en weerstand bly ons aan mekaar verbind. Nie omdat dit altyd maklik is nie, maar omdat dit die plek is waar lewe is.
Dié waarheid leef in Jesus self. Hy het nie aan sy lewe vasgehou nie, maar dit afgelê sodat die hele liggaam kan lewe. Sy dood was nie die einde nie, maar die begin van iets groters: ’n gedeelde, oorvloedige lewe vir almal wat in Hom is.
Hy leer ons dat om jou lewe vir ’n ander te gee nie verlies is nie, maar vermenigvuldiging. Dit is uitbreiding van jouself en van die hele liggaam.
In die liggaam van Christus verloor jy jouself nie wanneer jy gee nie; jy vind jouself op ’n dieper manier.
Miskien is dit een van die redes waarom Jesus gesê het ons moet ons naaste liefhê soos onsself. Want wanneer jy werklik verstaan dat jy nie eenkant bestaan nie, weg van jou naaste nie, verander jou lewe. Jou naaste, dit weet jy nou, is nie iemand “daar ver” of “daar buite” nie; jou naaste is deel van jou lewe. Om die naaste lief te hê is dan nie meer ’n moeilike opdrag nie; dit word die natuurlikste ding denkbaar.
Ons kan dit dus nie bekostig om die ander te ignoreer of uit te sny nie; ons beste kans op oorlewing lê juis in ons verbondenheid.
En dalk is dit die uitnodiging: om nie langer as losstaande dele te leef nie, maar as een liggaam – waar elkeen gee en elkeen ontvang. En waar ons uiteindelik ontdek dat die lewe sáám “gebeur”.
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.



















