Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Advent: Verruil die nuttelose gejaag vir ’n sinvolle lewe saam met Christus

Om te wag is nie vir almal ewe maklik nie. Baie mense wonder hoekom hulle so lank moet wag, en wat hulle veronderstel is om te doen terwyl hulle wag. Die Adventtyd help ons met albei hierdie sake. Meer nog: Ons leer in hierdie tyd hoe dit moontlik word om te onderskei tussen dié dinge wat belangrik is en dié wat minder belangrik is.

So oud soos die Bybel

Dit frustreer ons om te wag. Dit toets ons geduld. Dikwels kan ons voel hoe die irritasie, die stres, minuut ná minuut in ons groei. Ek dink dit was maar altyd so, maar ek weet dis deesdae erger. Dit is wat “vinnig leef” aan ons doen, daardie aandrang op onmiddellike bevrediging. Alles moet nóú gebeur. “I want it all, and I want it now,” het die Britse rockgroep Queen gesing. En ons sing luidkeels saam … deur ons geklemde kake. Dalk troos dit gelowiges om te weet dat om te (moet) wag so oud soos die Bybel is. Maar hier is die verrassing: Die Bybelskrywers praat heel anders daaroor, en inderwaarheid veel positiewer as wat ons daaroor voel. Daar is trouens min Bybelboeke waarin die opdrag dat die gelowiges moet wag, of dat hulle moet rustig wees en die Here se tydsberekening vertrou, nie in die een of ander vorm voorkom nie. In talle van die Psalms word dit as ’t ware ’n refrein. Dit was ook ’n wesenlike deel van ongeveer al die geloofshelde in die Ou Testament se lewe. Dink maar aan Abraham en Sara, wat vir byna alles wat die Here hulle beloof het, moes wag. Die heel langste wag was natuurlik vir Isak, die kind wat vir hulle ’n nageslag verseker het. Moses moes telkens vermaan word om geduldig te wag, op sy volk en op sy Here. Dit was toe juis sy ongeduld, sy onvermoë om te wag, wat hom die geleentheid ontneem het om die beloofde land te sien. Ook in die Nuwe Testament het wag ’n prominente plek. Dit was ’n deurlopende tema in Jesus se preke, en heelwat van sy gelykenisse het gehandel oor hoe belangrik dit is om te wag. Inderdaad: In die Bybelse tye was wag ’n integrale deel van die lewe. Goed en wel, maar hoekom is dit steeds so? Hoekom moet hedendaagse Christene daarmee vrede maak dat hulle sal wag, en alte dikwels wag en wag en wag …? Ons weet nie regtig hoekom nie. Die Here gee ons wel ’n klompie leidrade in sy Woord. En wanneer ons dit vervolgens ondersoek, help dit jou dalk.

Twee belangrike tekste

Daar is twee tekste waarin Bybelskrywers heel direk oor hierdie hoekom-die-gewag-vraag praat. In 2 Petrus 3:8-9 lees ons: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie; Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” Dan voeg die skrywer in vers 16 die volgende by: “Beskou die geduld wat die Here met ons het as ’n geleentheid tot bekering.” In Matteus 24:14 hoor ons iets soortgelyks wanneer Jesus sê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom.” Ons hoor hier duidelik dat wag op die een of ander manier altyd te doen het met die Here se genade en liefde, en met kanse wat Hy vir ongelowiges gee om tot bekering te kom, en vir Jesusvolgelinge om ’n meer vrugbare lewe te lei. Om tyd te hê (dit te ontvang!), ja, om te moet wag, is ’n geleentheid om nóg iets sinvols, iets betekenisvols, vir die Here en sy koninkryk te doen. Ons hoef nie alles te probeer doen nie, maar ons kan met klein liefdesdade ons naaste se lewe verander. En daardeur die Here groot vreugde besorg.

LEES OOK: Geestelike gawes: Ek en my huis sal die Here dien

Beloftes en lesse

Die vermoë om te wag, kan ons op nog maniere help, allereers om die Here beter te leer ken. As ons ophou rondhardloop en leer stil word, kan ons oë oopgaan en kan ons die Here in sy groot liefde, sy heerlikheid en sy genade duideliker begin sien. Dis nogal ironies dat as iemand vir ons sê “wag op die Here”, ons gewoonlik slegs die woordjie “wag” hoor. En die res ignoreer. Tot ons groot skade. Want ons wag nie op niks of niemand nie, of sommer dat die tyd moet verbygaan nie; ons wag op die Here. Só word ons geroep om stil te word, om ons oë oop te maak en te sien wat die groot en magtige God, die Vader van ons Here Jesus Christus, in sy liefde en genade doen. Daar is boonop ’n reeks beloftes in elke teks wat oor wag handel: Die Here sal daar wees; Hy sal sorg; Hy sal ons nooit in die steek laat nie; Hy sal sy woord hou. Daar gebeur nog iets met ons terwyl ons wag: Die Here begin timmer en beitel aan ons. Hy begin om van ons nuwe mense te maak. Só leer ons deugsaamheid. Ons leer geduld en verdraagsaamheid. Ons leer om ander te waardeer, om lief te hê. Uiteindelik leer ons om dieper te kyk en helderder te dink, en om op dié manier die dinge waarop dit regtig aankom, te onderskei.

Die vier opdragte

Daar is ’n laaste en baie belangrike saak wat ons oor wag moet weet: Om te wag beteken nie om niks te doen nie. Dit beteken, inteendeel, dat ons met die regte dinge moet besig wees. In die Amerikaanse prediker Tommy Brown se boek The speed of soul wil die skrywer sy lesers laat nadink oor die spoed waarteen hulle leef. En, belangrik, wat dit aan hulle doen. Brown wil gelowiges help om uit die elkedagse gejaag te ontsnap en om ’n sinvoller, rustiger lewe te lei. Hy verwys na Paulus se opmerkings in 1 Tessalonisense 4 en onderstreep vier opdragte:

1 Gelowiges word opgeroep om diep, diép lief te hê (verse 9 en 10), om met liefde te leef, en om hulle selfs meer daarop toe te lê (vers 10b). Dit is die evangelie se vernaamste opdrag, én Jesus s’n. En, trouens, die ganse Bybel s’n.

2 Dit moet gelowiges se eer en strewe wees om stil en rustig te leef. Stil en rustig genoeg dat hulle die Here kan hoor en hul oordeelsvermoë kan terugkry, en sodat hul lewe nie ’n nuttelose gejaag na wind word nie.

3 Gelowiges moet hulle streng met hul eie sake bemoei. Dié waarskuwing word aan mense gerig wat tog so hard besig is om hulle met ander te vergelyk, wat dikwels oor die muur loer om te sien hoe die bure leef en wat hulle alles het. Die Here raai ons aan om te leef met wat Hy ons gegee het en om die beste daaruit te kry. Daar is min dinge wat ’n mens se lewe so vlak maak en jou waardes so deurmekaarklits as wanneer jy jou deurentyd met ander mense vergelyk.

4 Gemeentelede word aangesê om met hul eie hande te werk. Ek moet erken dat ek nogal lank oor hierdie laaste opdrag moes nadink. My probleem is dat ek nie juis handvaardig is nie en beslis nie meganies aangelê is nie. Ek sou maar gesukkel het as ek ’n bestaan uit handearbeid moes maak … Maar ek reken Paulus bedoel hier dat die Here ons almal bepaalde vaardighede gegee het. Ons moet dit raaksien en dit vir onsself toeëien en dit ontwikkel sodat ons Hom en ons naaste met dié gawes kan dien.

Ek moet bely dat Paulus ook vir my met dié opdragte help. Terwyl ek wag, sal ek my ’n hele ruk daarmee kan besig hou. Sterkte, medegelowige, met die wag. Dit hoef nie so sleg te wees as wat jy vrees nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF