Toe dié afgetrede skoolhoof in 2023 gevra is om die swakste skool in die Wes-Kaap te probeer red, wou hy sommige dae letterlik by die voorhek uitvlug.
En indien Stephen Price wel sou vlug, sou hy boonop die grootste gedeelte van die leerders buite die skoolhek aantref besig om dwelms te gebruik.
Tot hy besluit het om vir die leerders, onderwysers en elke personeellid van Lotus High in Grassy Park deur sy voorbeeld te wys hoe gehalte en verandering lyk.
Eerstens het hy eiehandig ’n fondsinsamelinprojek op sosiale media vir die skool geloods. “Binne drie of vier maande is daar R300 000 kontant en sowat R400 000 in goedere ingesamel,” vertel Stephen.
Tydens die afgelope Desembervakansie het Stephen toe self moue opgerol. “Ek het vir 30 dae saam met plaaslike diensverskaffers gewerk om skoolgeboue van kwaliteit te lewer. Ons het die klaskamers en gange opgeknap. Ons het geteël, geverf … Die skool het swartborde gehad. Ek het 25 jaar laas ’n swartbord gebruik. So ons het witborde opgesit. Onderwysers het voorheen hulle eie dataprojektors gekoop en elke dag saam skool toe geneem. Daarom het ons nog dataprojektors gekoop.
“As jy voorheen ons skool besoek het, sou ek doodbang gewees het dat jy die badkamers sou besoek. Dit was verskriklik. Daarom het ons ook al die badkamers, kantore sowel as die personeelkamer opgeknap. Voorheen was die personeelkamer so onaangenaam dat niemand daar gesit het nie. Dit was met my aankoms een van die eerste dinge wat ek die personeel belowe het. Dat as ek die dag hier weggaan, sal hulle ’n nuwe personeelkamer hê. Toe die personeel in die nuwe jaar teruggekom het skool toe, het een van die dames op die vloer gelê en ’n ster gevorm. En van plesier gegil toe sy die pragtige personeelkamer sien,” vertel Stephen met ’n glimlag.
Volgens Stephen was dit sy manier om gehalte aan die onderwysers te lewer. Hy sê: “Wanneer ek vir hulle gehalte gee, dan gaan hulle ook gehalte in die klaskamers lewer. Toe ek vir die leerders die opgeknapte geboue wys, het hulle ook geweet dis wat ek van hulle verwag.”
Lotus High het tot dusver ook ander groot verbeteringe ondergaan. Leerders kom nou met trots in hulle skoolklere skool toe. Voorheen het leerders met enige klere opgedaag, vertel Stephen. Ook besef hulle nou hoe belangrik dit is om betyds te wees. Toe Stephen soggens die skool om agtuur begin sluit, het leerders binne vier dae besef dit is óf betyds, óf hulle bly vir die dag buite.
Maar volgens Stephen het hy ook baie geleer. Eerstens, hoewel hy gedink het hy weet hoe die leerders se omstandighede lyk, het hy eintlik geen idee gehad nie. ”Sommige van die leerders kom elke dag skool toe net om vir my baie groot probleme te veroorsaak. Ek kon dit nie verstaan nie. Maar hulle het my geleer dat hulle skool toe kom omdat dit vir hulle die veiligste plek is. En dit was mý werk om hulle nie uit te skop nie, maar om ’n manier te vind om hulle daar te hou. Dit is nie altyd maklik nie. Maar, ek dien ’n God van tweede kanse, en hy het my al dikwels ’n tweede kans gegee.”
Stephen deel ’n staaltjie wat tydens sy verjaardag gebeur het. “Ek het ’n verjaardagkaartjie by leerders gekry waarin gestaan het: ‘Meneer, toe jy hier aangekom het, het ons nie gedink jy sal lank bly nie. Maar jy het gebly, en nou het ons die beste skool in die wêreld.’”
Vir Stephen maak oomblikke soos dié dit die moeite werd. “Al kan ek nie altyd die verbetering sien nie, ís daar verbetering.”
Stephen Price was voorheen meer as 17 jaar die hoof van Bergvliet High School in Constantia, Kaapstad. Ná sy aftrede is hy gevra om te probeer om ’n positiewe verskil by Lotus High te maak en hy het die geleentheid aangegryp.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.