Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Aimee Moore Ackers ses jaar ná ongeluk: ‘Ek bid vir krag, vrede en hoop’

“Ek bid ook nou anders as ander mense. Ek bid vir krag. En dan bid ek vir vrede. Vrede om myself te aanvaar. Vrede om my situasie te aanvaar … Dan bid ek vir hoop.”

Aimee Moore Ackers sit in die ateljee van LiG: God se krag in my krisis in Kaapstad en vertel hoe sy die afgelope paar jaar die trauma verwerk nadat sy in 2018 in Thailand van haar bromponie af gery is.

Aimee onthou toe sy wakker word ná die ongeluk, was sy in soveel pyn dat sy God gevra het om haar óf te kom haal, óf dat sy weer haar bewussyn sal verloor. Haar brein was “oop” as gevolg van erge kopbeserings, haar neus was op twee plekke gebreek en haar wange was vergruis. Aimee se een sleutelbeen, kuitbeen en skeenbeen was ook onder andere gebreek en haar hak was boonop vergruis.

“Op ’n goeie dag sukkel ek om in die spieël te kyk,” sê dié grimeerkunstenaar wat intussen bo verwagting herstel het. Aimee, die suster van sangeres Demi Lee Moore, verduidelik hoe haar hele gesig vol snye was en hoe sy vandag haar bes gedoen het om dit toe te maak. Sy het ’n stylvolle pienk bloes en broek aan.

Maar, wat vir Aimee veel erger was, was dat haar voet byna geamputeer is. Sy is ’n Suid-Afrikaanse kampioen in Latyns-Amerikaanse dans en baldans.

Die “beste chirurg in die Wes-Kaap” het haar beloof: “Ons gaan nie jou voet afsit nie. Ons gaan jou moontlik kry om weer te loop.” Aimee se antwoord was: “Dokter, ek wil nie loop nie. Ek wil dans.”

Vandag kán Aimee weer loop. Sy het boonop ’n paar hoëhaksandale aan. En sy kan weer vir ontspanning dans. Maar dan het sy hewige pyn vir dae daarna. Aimee vertel sy het eintlik konstant pyn waarmee sy moet saamleef.

Maar, van opgee en hoop verloor is daar geen kans nie. Aimee vertel dat sy besef God het haar ’n tweede kans gegee en sy gaan dit aangryp.

“Ek bid vir dinge wat in my versterk moet word. Dit help nie jy sit terug en sê: ‘Here, help my.’ En dan sit jy en wag nie. Dit werk nie so nie.”

Aimee noem haar tweejarige dogtertjie “’n geskenk van bo”. Sy vertel dit is vir haar so belangrik om vir Ari te wys jy kan enige iets doen as jy jou beste probeer. “Ons het baie sterk vroue in ons familie en ek wil hê sy moet weet sy is ook sterk. Sy moet vir haarself opstaan en weet as sy hulp nodig het is ons álmal daar om haar te dra.”

Demi Lee het vroeër vanjaar op 8 Januarie die volgende vir haar sussie op Instagram geskryf: “Ses jaar gelede het ons lewe onherroeplik verander. Het ek, as mens, heeltemal verander. Ek is so dankbaar dat die Here jou vir ons gespaar het. Jy is die sterkste vrou wat ek ken (nes mamma). Jy is die beste ma vir Ari, sy is net liefde en dit kom van jou af. Jy is nog steeds so mooi vir my soos voor die ongeluk jou hele gesig vergruis het. Ek hoop jy weet hoe lief die Here jou het, en hoe Hy net guns oor jou lewe spreek.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.