Cheré Steyn is nou 74 jaar oud. Sy glo steeds, ná al die jare, dat haar suster en haar broer se selfdood die gevolg was van hul pa se tirannieke optrede. Omdat hy net seuns wou gehad het, is die dogters gereeld geslaan. En heeltemal verwerp. Wanneer hul ma tussenbeide gekom het, is ook sy geslaan.
Cheré was die oudste van die drie kinders. Frannie was die jonger sussie, en later het Danie sy opwagting gemaak. Hy was die pa se “kroonprins”.
’n Slaanding uit hout en leer
“Ek het ʼn koue, geïsoleerde lewe gelei,” vertel Cheré vandag. “Dit was vir my baie sleg. My pa het selfs my ma van my af weggehou. Ons is gereeld geslaan, sonder rede.
“Op ʼn keer het hy Frannie se neus gebreek, toe haar skouer. Hy het ʼn slaanding uit hout en leer gemaak waarmee hy ons pimpel en pers gelooi het. Maar éintlik was die verwerping die ergste …
“Ek was in graad 10 toe ek die man ontmoet het met wie ek sou trou. My pa was bang vir hom en het dus opgehou om my te slaan. My pa het ook baie gedrink, wat hom onvoorspelbaar gemaak het. Hy was ʼn meesterlike manipuleerder en ʼn narsis.
LEES OOK: ‘Ek is mishandel, verkrag, verwerp, verlaat – maar vandag gebruik God my verhaal’
“Ek het besluit om verder te studeer, en dit was vir my ʼn uitkoms. My pa het egter geweier om vir my studies te betaal, al was hy welgesteld. My ouma, my vertroueling, het besluit om vir my studies te betaal.
“Ek het vroeg getrou en ons het drie kinders gehad.
“Nadat my man sy graad in tandheelkunde behaal het, het ons van Pretoria na die Kaap verhuis. Ek het in sy praktyk gewerk. En ek kon genadiglik alle kontak met my liefdelose pa verbreek. Frannie en Danie het gereeld kom kuier.
“Ongelukkig het Frannie te veel begin drink. Dié probleem was later heeltemal buite beheer; ek kon haar nie help nie.
“Intussen het my pa sy toksiese gedrag op my broer Danie gerig. Aangesien my man ʼn suksesvolle tandarts was, is Danie gedwing om ook in tandheelkunde te studeer. Danie was sielsongelukkig en het elke oomblik van sy studies gehaat.”
Die plek waar daar geen liefde was nie
Frannie, wat haar as ʼn boutekenaar bekwaam het, het troos in vele verhoudings gesoek. Sy was uiteindelik vyf keer getroud. Daarna het sy na haar disfunksionele ouerhuis teruggekeer.
Danie het sy studies voltooi en het as tandarts gepraktiseer. Hy het in ʼn stadium by sy swaer se praktyk gewerk. Sy vrou was egter ontrou aan hom.
Later het Danie met dwelms begin eksperimenteer. “Dis maklik,” sê Cheré, “om dwelms in die hande te kry as jy in ’n mediese beroep is.
“Deur al die jare het ek my sussie en broer probeer beskerm, hulle eintlik óórbeskerm. Alhoewel Danie die fisieke mishandeling vrygespring het, was die druk wat ons pa op hom geplaas het bitter erg.
“Ek het gedink ek doen reg om my vervreemde pa te kontak en hom van Danie se dwelmprobleem te vertel. Dit het tot niks gelei nie. Hy was steeds die ongevoelige mens wat ek onthou het.
“Daar is wel probeer om Danie tuis te probeer rehabiliteer. Maar hy het uiteindelik aan ʼn oordosis gesterf. In sy ouerhuis, die plek waar daar geen liefde was nie. Hy was 44 jaar oud.”
Nog ’n tragedie
Daar sou ʼn volgende tragedie wees. Cheré is hardhorend en ondervind dikwels probleme om per selfoon te kommunikeer. Op ʼn dag het sy ʼn oproep van Frannie ontvang, wat toe in Hartenbos gewoon het. Omdat die ontvangs swak was, het sy vir Frannie gesê dat sy haar sal terugbel.
Toe sy dit doen, het niemand geantwoord nie. Die volgende dag het ʼn speurder gebel en gevra dat Cheré en haar man na die polisiekantoor toe kom.
Hier het hulle die nuus gekry dat Frannie haarself om die lewe gebring het. Volgens die beskikbare kamera-beelde was sy bedwelm toe sy petrol oor haar kar uitgegiet en met die brandende voertuig teen ʼn heuwel afgery het.
Die kar het ontplof. Frannie was 50 jaar oud.
In daardie stadium het Chere nog nie die Here geken nie. Haar ma was ʼn Katoliek en Cheré is na ʼn Katolieke skool gestuur. Maar sy was nie juis gelowig nie.
‘My eerste werklike ontmoeting met die Here’
Cheré se dogter Jo-Marie was 12 jaar oud toe sy eendag onverwags in die hospitaal opgeneem is. Die dokters kon nie vasstel wat haar makeer nie. Hulle het Cheré se man hospitaal toe laat kom.
Daar is later vasgestel dat verskeie organe in haar liggaam ingegee het en sy is na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Hier het nie minder nie as 12 spesialiste haar ondersoek. Almal het saamgestem dat sy dit nie sou oorleef nie.
“Ek het steeds nie die Here geken nie. Ons het in daardie stadium aan die Presbiteriaanse Kerk behoort. Ons predikant, ds Eras van Zyl, het ons op ’n besonderse manier ondersteun. Hy het my letterlik elke dag besoek.
“Uiteindelik wou die dokters die lewensondersteunende masjiene afskakel. Hulle het my na ʼn vertrek gestuur waar ek die nodige vorms moes onderteken. Ek het my kop teen die muur bly kap, ek het vir God gesê dat ek nie beheer oor die situasie het nie en dat Hy die beheer daarvan moet oorneem.
“Dis hier waar ek die eerste keer in my lewe die Here werklik ontmoet het.”
God het haar kind genees. Cheré onthou Jo-Marie se eerste woorde: Sy wou Fanta en chips hê.
‘My God is getrou’
Ná jare se rehabilitasie is Jo-Marie later as hipochondries bestempel. Cheré sê: “Terwyl sy so siek was, het sy almal se aandag geniet …”
Maar Jo-Marie is toe ook met bipolêre gemoedstoornis gediagnoseer. Sy is getroud en het reeds vroeg in haar huwelik aan voorskrifmedikasie verslaaf geraak. Cheré moes toekyk hoe die lewe om haar opnuut inmekaartuimel.
Jo-Marie is geskei. Maar ten spyte van etlike rehabilitasiepogings kon sy nie haar verslawing afskud nie.
Cheré is daarvan oortuig dat Jo-Marie se bipolêre gemoedstoornis nie geneties van aard is nie, maar eerder die gevolg van ʼn breinbesering wat sy opgedoen het toe sy destyds so siek was.
“My volgende uitdaging is dat my dogter by ʼn alkoholis beland het. Hy is ’n baie aggressiewe mens. Ek bid ernstig dat God die ketting van geestesongesteldheid moet breek sodat my kleinkinders nie ook daaronder gebuk moet gaan nie.
“En ek glo dat dié gebede verhoor sal word. My God is getrou.”
Cheré leef na aan die Here. Sy glo onwrikbaar dat elke terugslag haar uiteindelik tot by sy voete gelei het.
Cheré se man is sowat drie jaar gelede oorlede. Volgens haar het hy lank teen lugpypkanker geveg en gebid dat hy nie uiteindelik van versmoring sal sterf nie. Hy is toe aan ’n hartaanval oorlede.
Vandag waai daar ʼn vars briesie in Cheré se huis, met twee van Jo-Marie se kinders, Zané en André, wat nou by haar woon. Sy sien Jo-Marie nooit meer nie nie, maar sy het ook met hierdie verlies vrede gemaak.
“God is goed,” getuig sy. Sy is uiteindelik gelukkig.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.