Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Alkoholisme – ’n gesinsverwoester

Alkoholisme

Onlangse navorsingstatistiek toon dat drie uit tien volwassenes beweer alkoholisme het groot probleme in hulle huisgesinne veroorsaak. En alkoholisme binne huisgesinne neem jaarliks toe.  

’n Alkoholis in die gesin het ’n uiters negatiewe impak op ander gesinslede, en elke gesinslid beleef ’n alkoholis se verslawing op ’n unieke wyse. Dikwels dink die gesinslede dat dit net die alkoholis is wat hulp nodig het, maar dit is ongelukkig nie die geval nie. Gesinslede kan hulleself bemagtig deur die nodige kennis te hê.

My storie met alkoholisme

Sy het grootgeword in ’n huis met ’n alkoholis-pa, vertel Karen Brink (Skuilnaam). Aanvanklik het sy nie besef watter groot impak alkoholisme op haar, haar broer en haar ma gehad het nie.

“Toe ek op laerskool was het my pa skielik meer begin drink. Dit was moeilik om maatjies by my te laat oorslaap, omdat ek bang was hulle sien hom só en vertel dit dan vir ander by die skool. Ek het dit hanteer deur vir my ’n lewe buite die huis te bou. Ek het goed presteer en al hoe harder gewerk. Dit is waaraan ek vasgehou het en dit het gekompenseer vir my ongelukkige lewe by die huis. Ek en my broer was naweke ook min by die huis en ek het meestal by vriendinne en vriende gespeel of oorgeslaap.

“Ek was ook dikwels bang, omdat my pa laat sou wakker bly en die deure sou ooplos. Ek weet my ma het altyd vir ons veiligheid gevrees. Daar was ook groot drama wanneer my pa soms nadat hy gedrink het nie werk toe gegaan het nie. Omdat die alkoholisme ook my ouers se verhouding verwoes het, was my ma onder baie druk en moes sy baie verantwoordelikheid aanvaar.

Dit het gemaak dat nie een van my ouers baie betrokke by my lewe was of veel aandag aan my prestasies gegee het nie. Ek het dikwels na aandag gesmag. En vandag nog is kwaliteit-aandag van iemand anders een van die belangrikste dinge in my lewe.

“Op hoërskool het my pa se drinkery nog erger geraak en dit was nie meer so maklik om dit weg te steek nie. Ek dink dikwels terug daaraan, maar ek is nie seker presies hoe dit my broer se lewe in daardie stadium beïnvloed het nie. Ek weet net vandag is hy verantwoordelik en pligsgetrou, omdat hy nie soos my pa sy werk wil afskeep nie.

“As my pa nie gedrink het nie, was hy ’n wonderlike, sagte mens, maar alkoholisme is ’n lelike siekte. En ’n mens ontsnap nie maklik uit drank se kake nie.

“Vandag neem ek hom nie meer kwalik daarvoor nie. Hy het ons nooit fisiek mishandel nie, maar ongelukkig het ons almal sielkundige letsels oorgehou. My ouers is later geskei. Ek ly aan ligte depressie en is baie gespanne en raak soms angstig oor die kleinste dingetjie wat verkeerd gaan. Ek het altyd gedink dis maar in my gene, maar eers later het ek besef dat ons huislike omstandighede dit dalk kon veroorsaak het. Ek is bly ek verstaan dit nou beter; nou kan ek hulp kry. Ek gaan ook nie toelaat dat ek ’n produk van my verlede word nie. Daar is altyd hoop.”

Alkoholisme se impak op gesinslede

Marlene Snowdowne, dosent in Maatskaplike Werk aan die Universiteit van die Vrystaat, sê: “Gesinslede moet hulself bemagtig met inligting en feite oor alkoholisme. Sodra jy weet waarmee jy te doen het word dit makliker om daaroor te praat.”

Inligting oor alkoholisme help gesinslede om verskeie simptome te kan identifiseer en om sodoende die nodige professionele hulp te kry.

Johan Piek, kliniese sielkundige van Belville, sluit vervolgens by Marlene aan en vertel wat die impak van alkoholisme op gesinslede is:

Die impak op ongebore babas

Moeders wat gedurende swangerskap alkohol misbruik kan  ernstige fisieke en kognitiewe geboortedefekte by hulle baba’s verwag. Fetale alkoholsindroom by kinders veroorsaak gesigsabnormaliteite en groeidefekte, asook breinskade wat intellektuele inperking kan veroorsaak.

’n Alkoholis-ouer se impak op kinders

Kinders wat grootword in ’n gesin waar ’n ouer alkohol misbruik, loop ’n groter risiko om aan verskeie vorme van mishandeling blootgestel te word en sielkundige probleme te ontwikkel, soos:

  • ’n Negatiewe selfbeeld
  • Skuldgevoelens
  • Gevoelens van alleenheid en vrees vir verwerping
  • Chroniese depressie
  • Hoë angs- en spanningsvlakke

Hierby gee Marlene ook raad: “Kinders leer gedrag aan om hulself te beskerm teen pynlike emosies en om situasies te hanteer. Hierdie “oorlewingstrategieë” word dan dikwels voortgesit in so ’n kind se volwasse lewe, maar is dan nie meer effektief nie, want die situasie het verander. Dit lei tot probleme met die hantering van gesonde emosies en verhoudings. Kinders wat aan alkoholisme binne hulle gesinne blootgestel is moet leer om hulle gevoelens, sowel as spanning te hanteer. Daar moet gefokus word op effektiewe probleemoplossing en kommunikasievaardighede, asook die bou van sinvolle verhoudings.

Die impak op volwasse kinders

Wanneer kinders wat grootword in ’n huis waar alkohol misbruik word volwassenheid bereik, duur die sielkundige impak op hulle lewens dikwels voort. Algemene probleme sluit in:

  • Verhoudingsprobleme
  • Depressie en angs
  • Aggressiewe en impulsiewe gedrag
  • Middel- en alkoholmisbruik
  • Negatiewe selfbeeld wat dikwels wanaanpassing binne hulle beroep tot gevolg het, asook in ander sosiale omstandighede en in familieverhoudings.

Die impak op huweliksmaats

Alkoholisme het dikwels ’n diepgaande effek op die huweliksmaat. Ernstige sielkundige trauma is nie uitgesluit nie. Egskeiding is ’n algemene gevolg van die negatiewe impak van alkoholisme op die huwelik. Ander probleme binne die huwelik sluit in:

Die nie-drinkende huweliksmaat neem dikwels die rol van oppasser aan. Dit kan selfbejammering en uitputting tot gevolg hê, en selfs lei tot haatgevoelens.

  • Swak kommunikasie
  • Toenemende woede en spanning
  • Verminderde intimiteit en libido
  • Mishandeling
  • Finansiële bekommernisse

“Die huweliksmaat word ook dikwels mede-afhanklik en hou soms die alkoholis se verslawing in stand deur te probeer om die drinker te beskerm. Voorbeelde hiervan sluit in om leuens te vertel oor die drinker se gewoontes, om inligting weg te steek, of om die drinker se verantwoordelikhede op hulle eie skouers te neem,” sê Johan. Volgens Marlene is die sober ouer ook so besig om die afhanklikheidsprobleem te hanteer dat die kinders se behoeftes nie raakgesien word nie. Of daar is gewoon nie genoeg energie oor om dit te bevredig nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►