“Ek het altyd gedink drank bring bevryding; nou weet ek wat ware vryheid is. Ons dien ʼn God wat hoop bring en redding gee, en ek is die lewende bewys van sy genade.” Só getuig Marietjie Viljoen, wat sewe jaar gelede, ná vele onsuksesvolle pogings, drank finaal gelos het.
Marietjie Viljoen (70) van Bapsfontein, ʼn gerehabiliteerde alkoholis, vertel haar verhaal: “My pad na alkoholisme was een van geleidelike verval. Ek het elke sekonde ál dieper in ʼn donker gat weggesink – en steeds vas geglo ek drink omdat dit vir my lekker is.
“Alkohol het my ʼn valse gevoel van vryheid gegee. Dit het my laat glo dat daar fout is by mense wat nié drink nie …”
‘If you can’t beat them, join them’
“Wanneer ek in die newels van my dronkenskap weggesak het, het ek van al my bekommernisse vergeet. Die drank het my na ʼn soort sprokiesland weggevoer, ʼn plek waar jy nie omgee wat ander van jou dink of sê nie.
LEES OOK: ‘Ons wil getuig sonder wegsteek, wegkruip of skande’ – gesin ná donker pad met alkoholisme
“Dit het ook nie saakgemaak wat my drinkery aan my geliefdes doen nie. Hul pleidooie, verwyte en dreigemente was ʼn leë geraas. Alhoewel my man Pieter ook gedrink het, het hy gesê dat as ek nie ophou nie, hy my sou los. En ek het die grond aanbid waarop hy loop.
“Maar Pieter was ook een van die redes waarom ek begin drink het. Destyds het die meeste mans wat hulle in die weermag bevind het, gedrink. Veral ook dié wat grensdiens verrig het. Pieter was twee maal daar, en van toe af was dit vir hom doodnormaal om gereeld ʼn dop te drink.
“Aanvanklik het ek my daarteen verset, maar mettertyd het ek agtergekom dat daar ʼn soort vrede op ons neerdaal as ons saam drink. Dan is al twee vrolik, en niemand is vir niemand kwaad nie. Ja-nee, ‘if you can’t beat them, join them’.
“Op ʼn Vrydagaand sou ons ʼn klomp bier, ʼn papsak wyn en ʼn liter hardehout koop om die naweek mee in te gaan. Teen Saterdagmiddag was alles op, en die voorraad is gou-gou aangevul.
“Kort voor lank was ons twee die hart van elke partytjie. Spoedig word jy egter nie meer genooi nie, want jy drink te veel. En jy wil in elk geval niemand na jou toe nooi nie, want dan moet jy jou drank met jou gaste deel.”
ʼn Dors wat nie geles word nie
“Ek het my blind gehou vir die waarskuwingstekens. Ek het gemaak of ek nie weet dat jy ʼn drankprobleem het as jy alleen drink nie, as jy ál vroeër in die dag begin drink, as jy nie jou drank wil deel nie, as jy soggens opstaan en dadelik ʼn ‘regmaker’ soek.
LEES OOK: Vroue, pasop vir drank as ‘selfmedikasie’
“Die statistiek wys ook uit dat vroue makliker vatbaar is vir alkoholmisbruik as mans. By my het dit inderdaad maklik gebeur. Ek het ál meer begin drink omdat ek die hele dag tuis was terwyl Pieter gewerk het.
“Later maak jy allerlei skelm plannetjies om die drinkery weg te steek. Net voor jou man by die huis kom, sluk jy vinnig-vinnig twee glase vol af. Jy skink vir hom iets, en (weer) vir jouself – en die res van die aand kuier julle hárd.
“Ek het gedrink totdat ek my bewussyn verloor, net om ure later wakker te skrik en verder te drink. Teen dié tyd het Pieter alleen begin uitgaan, maar hy was altyd ‘gaaf’ genoeg om te sorg dat daar drank byderhand is wanneer ek bykom en besef hy is nie tuis nie.
“Uiteindelik het hy iemand anders in een van die kroeë ontmoet en met haar getrou. Ná 25 jaar was ons huwelik verby. My hart was gebreek. Maar my verhouding met alkohol was nog lánk nie verby nie.”
Sonder raad en sonder antwoord
“‘Dink julle ek drink te veel? Nóú gaan ek julle wys wat drink beteken!’
“Dis hoe ek ná elke rehabilitasie-poging gevoel het. Drankmisbruik stroop jou van jou inhibisies, en alles draai slegs om jou. Dis net ‘me, myself, and I’. My familie was raadop. My seun Johan wou later niks meer met my te doen gehad het nie. En my dogter Adelle, wat verstandelik gestrem is, het gepleit: ‘Ma, asseblief, stádig …’
“Wat alkohol so slinks maak, so gevaarlik, is die feit dat dit sosiaal aanvaarbaar is, én oral beskikbaar. Dit draai jou vas sodat jy later nie meer kan loskom nie. In my nugter ure was ek skaam oor my gedrag, maar eintlik magteloos om anders op te tree.
“Ek onthou die keer toe ek dronk-dronk aan die slaap geraak het terwyl ek op die sitkamerbank lê. Toe ek later bykom, was ek verslae toe my kleinseun, toe vyf jaar oud, met so ʼn hartseerstemmetjie vra: ‘Ouma, hoekom doen Ouma dit?’
“Ek het nie vir hom ʼn antwoord gehad nie.”
Slegs deur God se genade
“My grootste vrees was dat ek sonder klere aan my lyf langs ʼn vreemde man sou wakker word. Of dat ek van strafbare manslag aangekla sou word. Ek het dikwels dronk agter ʼn motor se stuur ingeklim, en baie aande nie geweet hoe ek by die huis gekom het nie.
“Soms het ek my in lewensgevaarlike situasies bevind, soos die keer toe ek gaan drank soek het by ʼn sjebeen. Een van die swart mans daar het my gewaarsku: ‘Pasop, dié ouens het planne met jou.’ Daardie man het saam met my huis toe gestap om seker te maak ek kom veilig tuis.
“ʼn Ander keer het my kar in ʼn sloot beland, iewers in ʼn afgeleë gebied. Ek het net daar bly lê, buite weste, die kar se binneliggie aan, die sleutel in die aansitter.
“Dit is slegs deur God se genade dat ek nog hier is … Maar ek het Hom glad nie geken nie, en ek wou Hom ook nie ken nie. Nogtans het Hy deur die jare heen telkens mense oor my pad gestuur om my te help en nader aan Hom te bring.”
Ek moes self besluit
“Die ommekeer het gekom daardie dag toe ʼn dierbare vriendin vir my gesê het: ‘Meraaitjie, ek kan nie meer nie. Kom reg, dan help ek jou verder.’
“Sy was altyd beskikbaar, altyd reg om my te help, maar toe het selfs sý genoeg gehad. En ek het besef ek is self verantwoordelik vir wat verder met my gebeur, self aanspreeklik vir my dade. Dit was ék wat ʼn keuse moes maak.
“My raad aan alkoholiste se hartsmense is eenvoudig: Moenie daardie mense oppiep nie. Hulle is die ene selfbejammering, vol verskonings en selfregverdiging. Hulle is meesterlike manipuleerders. Wees dus ondersteunend, maar ferm.
“ʼn Alkoholis moet sélf wil regkom.
“Ek kon dit nie sonder die Here doen nie. Daar was eenvoudig te veel slaggate, te veel versoekings. Ek het keer op keer geval, en elke keer was die drang na drank groter.
“Tydens my laaste rehabilitasie-poging het ek geweet dis nou of nooit. Ek het toe reeds ‘miljoene’ kanse gehad, ek kon nie dié keer ook misluk nie …
“Daar was ook ʼn groeiende hunkering in my hart om die pad na genesing saam met die Here te stap. Ek het die begeerte gehad om Hom beter te leer ken en Hom deel van my lewe te maak.
“En dié keer het die Heilige Gees die leemtes in my binneste gevul. Ek het geleer om Hom ten volle te vertrou, vir elke uitdaging en vir elke oorwinning.”
Wat maak dit dié keer anders?
“Ek is bitter versigtig en ek loop nie te koop met my soberheid nie. Ek raak nie aan ʼn oopgemaakte blikkie of ʼn glas met vloeistof wat iemand anders vir my aanbied nie. Ek laat ook nie toe dat iemand iets vir my inskink nie.
“En wanneer mense wil weet waarom ek nie drink nie, sê ek eerlik: ‘Ek wil nie en ek kan nie, want ek is ʼn gerehabiliteerde alkoholis.’
“Dis nou sewe jaar later, en ek kan getuig dat die Here my ʼn splinternuwe lewe gegee het. Ek het ʼn vaste werk, ʼn lieflike blyplek, en ek het my eie motor. As ek na myself in die spieël kyk, sien ek ʼn nuwe, gelukkige mens.
“Ek het altyd gedink drank bring bevryding; nou weet ek wat ware vryheid is. Ons dien ʼn God wat hoop bring en redding gee, en ek is die lewende bewys van sy genade. Hy het dit vir my gedoen, en Hy kan dit vir jou ook doen.”
* Benodig jy hulp met ʼn drankprobleem? Kontak Marietjie per WhatsApp by 072 120 3838.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















