Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Bemin mekaar met Hooglied-liefde!

Die Bybelboek Hooglied skets ’n prentjie van twee mense wat daarin slaag om mekaar se behoefte aan emosionele en seksuele intimiteit wedersyds te bevredig. Soos die Skepper dit bedoel het.

Deur René Badenhorst

“Gelowige egpare behoort die beste, mees vervullende, mees bevredigende seksuele intimiteit denkbaar te kan hê. Hulle aanbid en dien immers die Skepper van die liefde.”

Só sê die verhoudingkundige en seksualiteitopvoeder,
dr Darleen Edwards-Meyer.

Maar, voeg sy by, ongelukkig is seksuele verwarring, ontnugtering en ontevredenheid aan die orde van die dag in hierdie seks-sat samelewing. So dikwels is die norm vir huweliksmaats gedurige mededinging, en konflik oor verskille. Eerder as om met ’n selfopofferende, onselfsugtige gesindheid mekaar te stig en te bou.

“Die antwoord is om terug te keer na die Skepper van liefde en sý ontwerp vir die huwelik,” sê Darleen. “In Hooglied gee God ons ’n prentjie van heelwees en hoop.”

Laat die twee Hooglied-geliefdes ons nou wys hoe om mekaar te bemin.

Eers die hofmakery …

Jong vrou

“Soen my weer en weer! Jou liefde is soeter as wyn” (1:2).

“Jou parfuum ruik heerlik. Jou naam is soos parfuum! Dit is waarom meisies so baie van jou hou” (1:3).

“Jy is baie aantreklik, my liefling” (1:16).

“My liefling is tussen die ander jong mans vir my soos ’n appelboom in die boord. Om onder sy skaduwee te sit, is vir my pure genot en sy vrugte is soet in my mond” (2:3).

“Hy vat my saam na ’n banketsaal toe. Sy liefde vir my is vir almal duidelik” (2:4).

“My liefling behoort net aan my en ek is net syne” (2:16).

Jong man

“As jy nie weet nie, mooiste van die vroue …” (1:8).

“My beminde, jy is vir my soos ’n perd voor die farao se oorlogwa” (1:9).

“Jy is pragtig, my beminde” (1:15).

“Soos ’n lelie tussen doringbosse, so is my beminde tussen die ander meisies” (2:1).

“Jou stem is so mooi en jou gesig is pragtig” (2:14).

“Sweer vir my, vroue van Jerusalem … dat julle nie die liefde sal aanblaas voordat die tyd daarvoor ryp is nie” (2:7; 3:5).

 … en dan die troue

“Vroue van Sion, gaan uit dat julle kan kyk na die kroon van koning Salomo. Daarmee het sy ma hom gekroon op sy vreugdevolle troudag” (3:6-11).

Die liefdesles

Sy bewys eer aan hom en toon respek deur sy naam en sy aangename liggaamsgeur te erken. Sy komplimenteer en prys hom.

Hy wys dat hy vir haar lief is deur haar sy “beminde” te noem. Hy vergelyk haar met ’n koning se perd – destyds ’n baie groot kompliment!

Uit die staanspoor sien ons dus ’n pragtige uitbeelding van ’n jong man en ’n jong vrou se groei in wedersydse respek en liefde, en ’n toenemende begrip van mekaar se behoeftes. Dit is alles duidelik in dit wat hulle oor mekaar sê en dink – en dit boonop voordat daar sprake van enige seksuele betrokkenheid by mekaar is.

God se plan en bedoeling was – en is steeds – dat seksuele intimiteit binne ’n huweliksverhouding uitgeleef word tussen ’n man en ’n vrou wat mekaar eer, respekteer en liefhet, en wat mekaar se behoeftes leer verstaan en probeer om daarin te voorsien.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF