Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Die dag toe ek nie meer wou leef nie’ – vrou van alkoholis

“Ons ly in stilte – en dít is wat ek graag met my getuienis wil verander. Ons hoef nie stil te bly nie.” In dié twee sinne het Rosie Kotze die groot rede opgesom waarom sy haar boek Pienk, pienker pienkste geskryf het. Hieronder is ’n uittreksel uit haar boek. Sy beskryf dié dagboekinskrywing as haar “laagste punt van haar lewensreis”.

Foto: Karla Pretorius / The Olive Tree Photography

2 Augustus 2023

Ek is verskriklik lief vir my kinders.

Ek is lief vir Jaques ook – dit maak séér hóé baie.

Ek weet hy is nie meer lief vir my nie, is al lankal nie meer nie.

Wie gaan my ooit liefhê?

Is daar ’n God? Dit voel nie so nie. Hoekom het ek nooit iemand

gekry wat my liefhet nie?

Ek wil doodgaan, maar wat van Dylan, Yumari en Chenique.

My alles. Maar as hulle groot is … wat word van my?

Waar is God? Of is dit Jesus? Wie is wie en is dit waar? My hart

sê ja, my seer hart sê néé!

Ek wil nie meer lewe nie …

Jesus, maak my dood.

Wat van my kinders? Ek het hulle so, so lief!

Ek wil VREK! LOS MY UIT! Hoekom het jy my gekies?

Waarom?

Oor en oor, weer en weer. En heeltyd bly dit seer. Hoe kry jy dit

reg? Oor en oor!

Ek is NIKS. NIKS. VREK. Ek is … wat? Niks. Sleg. Was nog

nooit goed genoeg nie. Sal nooit wees nie. Vat my weg, Here. Of

is dit God? NEE!

Jy het my gebruik, ek moes alles gee vir jou. Nou wil jy soos jy

sê “fokkol te doen hê” met my.

Ek is moeg. Ek wil ophou asemhaal. Sal jy my dán kan liefhê?

My dán waardeer?

Op 30 Augustus 2023 stuur ek die volgende WhatsAppboodskap

aan ds Pieter Swanepoel, ons leraar by die NG gemeente

in Edenvale, Johannesburg.

Hi, Ds, hoop dit gaan goed. Is daar dalk môreoggend ’n

gaatjie in Ds se dagboek? Weet nie waarnatoe om te draai

nie, maar my lewe het ’n keerpunt bereik en ek het geestelike

hulp so, so nodig. My kiddies ook. Rosie

Ds Pieter: Hoe laat … so 09:00?

Ek: Perfek, dankie.

Ds Pieter: Skuus, ek sien ek het ’n verg by Solheim vanaf 08:00.

Behoort so 11:00 terug te wees.

Om 11:00 daag ek vir hierdie afspraak op, met ’n splinternuwe

Bybel op die voorste sitplek van my kar. Ek het die vorige aand my

ou Bybel in duisende stukkies geskeur.

Vir die eerste keer in my lewe moet ek aan iemand anders erken

dat my man ’n alkoholis is.

Ek besef op hierdie oomblik nie eens heeltemal wat daardie

woordjie beteken nie. Al die pleisters wat sorgvuldig die wonde oor

die jare toegeplak het, is nou afgeruk.

Ek moet erken dat ek my man die vorige dag in ’n kroeg geslaan

het. Op sy neus. Ek dink dit was gebreek, want my hand het gepyn.

Al wat ek gesien het, was die gebroke kinderhartjies wat in die kar

gewag het. Jaques en sy vriend het in die kroeg gesit – elkeen met

’n glas brandewyn.

Hy het ’n afskuwelike grynslag op sy gesig gehad toe ek instap, en

al wat ek wou doen, is om hom seer te maak. Soos hy ons seergemaak

het. Maar geen hou sou ooit naby die pyn in ons harte kon kom nie.

Ek onthou die eienaar het vir my gesê dis nie die plek dié om

so iets te doen nie. Ek kon aan geen beter plek dink nie. Hy het

drank bo ons gekies en ek was magteloos. Stukkend. Alleen. Met

drie kindertjies wat deur die ergste pyn denkbaar moes gaan. Hulle

pappa, hulle held, het hulle weggegooi.

Daardie dag gooi ek al Jaques se klere op die sypaadjie. Dylan

het gesnik, en hoe meer ek uitdra, hoe meer dra hy terug. Ons

troufoto word van die muur geruk en val in stukke op die vloer.

Die kinders sien alles – beleef alles. Van ’n mamma wat die seer nie

meer kon binnehou nie. Die etter het uitgeloop.

Ná my afspraak met ds Pieter maak ek daardie aand my nuwe

Bybel oop. Dit het ’n pienk omslag.

En ek begin oor.

Dis nie maklik nie. Allesbehalwe.

Ek onthou hoe ek op die vloer voor ons bed sit. Flenters.

Stukkend. Verniel. Sal iemand ooit regtig verstaan as ’n mens nie

self hierdeur gaan nie?

En God gee vir my Psalm 37 om aan vas te hou …

Vertrou op die Here, en doen wat goed is.

Woon in die land, en geniet veiligheid.

Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee.

Vertrou jou lewe toe aan die Here.

Vertrou Hom, en hy sal vir jou sorg.

Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die lig.

En die regverdigheid van jou saak soos die middagson.

Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom.

Moenie kwaad word nie, laat staan liewer jou woede.

Drie keer sê Hy vir my: “Vertrou My!”

Ek bly wonder wat beteken “doen wat goed is”. Ek probeer goed

doen soos ek dit verstaan – ek sorg vir ons kinders. Ek het hulle

liewer as die lewe! En ek hou aan bid dat hulle ook deur hierdie

storm sal kom.

As ék sukkel, hoeveel te meer sukkel húlle nie?

Wees bly … sjoe!

Hoe is ’n mens bly in so ’n storm?

Hy sê vir my dat my onskuld sal deurbreek.

Hoeveel keer is ek beskuldig? Hoeveel keer het ék die skuld

gekry? My hart is seer, maar hoe wonderlik is die Here nie?

Dis net die begin van hierdie wonderlike reis saam met Hom.

Dit gebeur nie onmiddellik nie … dis ’n reis van meer as ’n jaar. En

dis nog net die begin.

Hoewel Rosie haar donkerste dag met lesers deel, wil sy die volgende uitroep: “Genesing saam met Jesus is moontlik. My gebed vir elkeen wat ’n 2 Augustus 2023-oomblik beleef is dat jy ook genade sal ervaar want dit is daar vir almal.”

LEES OOK Rosie en haar gesin se onlangse getuienis: ‘Ons wil getuig sonder wegsteek, wegkruip of skande’ – gesin ná donker pad met alkoholisme

*Pienk, pienker, pienkste kan per WhatsApp by 073 203 3523 bestel word. Dit kos R230 per eksemplaar. Die boek is ook in Engels beskikbaar. Die titel is The Power of Pink: A story of indescribable grace.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
LiGland Kyk nou ►