“My genoeg-is-genoeg-oomblik het gekom toe ek in my geestesoog gesien het hoe ek by drie graffies staan.”
Rosie Kotze (43) van Kempton Park het jare lank alles in haar vermoë gedoen om haar alkoholis-man te probeer help. Sy vertel: “Ek is deur ontkenning verblind en was vasgevang in ’n lewe vol frustrasie. Net soos Jaques nie sy drinkery kon beheer nie, kon ek Jacques nie beheer nie. Nog minder kon ons die uitwerking beheer wat alkoholisme op ons kinders gehad het.”
LEES OOK van Rosie se laagste punt: ‘Die dag toe ek nie meer wou leef nie’ – vrou van alkoholis
Nie Jaques se twee onsuksesvolle besoeke aan ’n rehabilitasiesentrum, sy woedeuitbarstings en verbale mishandeling, of sy weke lange verdwyning kon Rosie laat moed opgee nie. Maar toe kom die dag dat die maatskaplike werker Karien Keeve vir haar vra: “Wat gaan gebeur as jou kinders sterf omdat hy dronk agter die motor se stuurwiel is?” Toe het Rosie geweet: Tot hiertoe en nie verder nie.
In 2024 het Rosie ’n beskermingsbevel teen Jaques bekom. Op daardie oomblik het sy geweet dat nie sy óf haar drie kinders – Dylan (nou 16), Yumarie (nou 12) of Chenique (nou 4) – hierdie traumatiese pad langer kon stap nie. “Die maatskaplike werker het my boonop laat besef dat ek Jaques as ’t ware in sy misbruik sterk. Hy kon immers steeds terugkom huis toe.”
In daardie stadium het Jacques soms weke lank verdwyn – net om, dikwels besope, weer by die huis op te daag.
‘Ek wens nie meer ek is dood nie’
Dis nou meer as ’n jaar sedert Rosie, saam met God, en sonder die drankduiwel in hul gesin, op ’n genesingsreis vertrek het. “Ek wens nie meer ek is dood nie,” sê sy vandag. “Ek hoor die voëls in die bome, ek voel weer die lewe. Ek kan weer glimlag. Ek staan elke dag op en herinner myself daaraan dat ek God se prinses is. Ek is waardig om liefgehê te word.
“Ek leef nie meer saam met drank nie. Nooit weer nie. Ek het by God se voete skuiling gevind. Hy is my Rots, my Redder.”

Dit alles beskryf Rosie in haar boek Pienk, pienker, pienkste wat sy onlangs self uitgegee het. Nadat haar kinders se spelterapeut dit voorgestel het, het Rosie die volle verhaal in haar hart geskryf. Mettertyd het sy dit begin neerpen, van dagboekinskrywings tot briewe aan Jacques. Uiteindelik is al dié skryfsels in die boek opgeneem. Sy het dit met dié woorde aan haar kinders opgedra: “Mag julle leer om elke stryd op julle knieë te veg.”
Rosie wil graag haar storie aan ander vertel. Sy wil mense wat ook saam met ’n alkoholis geleef het of steeds leef, hoop gee. “My verhaal is een van hoe alkohol alles probeer vernietig het, maar mý nie kon breek nie.
“Dit was bitter moeilik, maar God het deur dit alles ’n getuienis in my hart geplant. Ek wil dit uitbasuin. Ek wil vir almal vertel hoe goed Jesus vir ons is.”
Die pad na herstel was wel báie moeilik. Rosie was veral bekommerd oor hul middelkind Yumarie. “Sy wou nie praat nie, sy het ál stiller en stiller geword …
“En Dylan moes ewe skielik ’n verantwoordelikheid aanvaar bo en behalwe sy gewone verantwoordelikhede. Ons seun het die taak op hom geneem om sy pa te probeer beskerm, meestal ten koste van homself. Jacques het dikwels, wanneer hy weg van die huis af was, met Dylan gekommunikeer en hom sy boodskapper gemaak.
“Chenique sou oor en oor vra: ‘Is Pappa nie meer kwaai nie?’ Sy sou in die middel van die nag in haar slaap oor haar pappa begin huil. Dit was alles tekens van ontsettende trauma.”
Rosie self was gebroke. “My kinders was by my toe ek my Bybel stukkend geskeur het. Toe ek my man se klere op die sypaadjie gegooi het, voor my seun dit weer teruggedra het. Ek was heeltemal buite myself.
“Maar met my kindergesiggies voor my en Psalm 37 in my hart het ek opgestaan.”
‘Ons hoef nie stil te bly nie’
Rosie was geskok toe sy uitvind hoe min hulp daar vir die verslaafde se gesin beskikbaar is. “Ek het desperaat op Instagram gaan soek na nog vroue wat die soort trauma beleef wat ek beleef. Slegs twee profiele het daar verskyn. Net twee in hierdie groot, wye wêreld. Een van dié profiele se naam het onlangs verander. Eers was dit wife.of.an.alcoholic; nou is dit widow.of.an.alcoholic. Só lyk die werklikheid van hierdie siekte.
“Ons ly in stilte – en dít is wat ek graag met my getuienis wil verander. Ons hoef nie stil te bly nie.”
Stadig maar seker het dié ma en haar drie kinders die stukke begin optel. Almal het gereeld berading ontvang. Rosie vertel dat sy ook in die begindae van haar genesingsreis die bekende Stormie Omartian se boek Die krag van ’n vrou wat bid deurgewerk het. Hierin het sy geleer dat lofprysing en aanbidding ’n wapen teen die vyand is.

Sy is ook daarvan oortuig dat musiek ’n doeltreffende soort terapie is vir ’n mens se gemoedstoestand, pyn en angs. Sy het Dylan gevra om vir haar ’n eie speellys op Spotify saam te stel. Hieroor sê sy: “Daar is nou al meer as tagtig liedjies. Elkeen daarvan het iets vir my op hierdie reis beteken.
“Dit is al waarna ek luister. Musiek het ’n veilige ruimte geword waarin ek my pyn, woede, hartseer en hoop kan uitdruk. Die kinders het, sonder dat hulle dit geweet het, aktief aan hierdie terapie begin deelneem – op pad skool toe of by die huis.” Van haar gunstelinge op die speellys is “Still Waters” en “Fragile Heart” van Leanna Crawford.
Rosie sê dat sy baie lank gesukkel het om te vergewe. Maar toe leer sy dat om te vergewe nie beteken dat jy die oortreding verskoon nie. “Niks wat Jaques in sy verslawing aan ons gedoen het, is aanvaarbaar nie. In die Bybel beteken die Griekse woord wat met ‘vergifnis’ vertaal word letterlik ‘om te laat vaar’. Dis soos iemand wat nié daarop aandring dat skuld afbetaal moet word nie.”
Sy sê: “Ek moet nog elke dag onthou om Jaques te vergewe. Sommige dae kom dit makliker as ander. As die seerkry weer oorneem in my hart, is dit moeilik …”
‘Wanneer die Here werk …’
Rosie het vir Jacques bly bid: “Ek het gebid dat hy sal ophou om van die Here af weg te hardloop. Ek het gebid dat die Here hom veilig hou en gesond maak.”
En op 4 Oktober 2024, ’n gewone Vrydagoggend, het Jacques in sy bakkie gesit, ’n bottel brandewyn in die een hand en ’n foto van sy gesin in die ander. Hy het besef hy is nou by rock bottom. Hy het daardie oggend ’n e-pos van sy werkgewer ontvang waarin hy meegedeel is dat hulle van voorneme is om hom te verbied om verder sy werk te verrig.
Hy het uiteindelik die brandewyn uitgegooi en ’n WhatsApp-hulpkreet aan sy vriend Hennie gestuur. Só het hy vir die derde keer by ’n rehabilitasiekliniek beland. Rosie vertel: “Jacques het ’n ontmoeting met die Here gehad, en net daar het hy besef dis nou of nooit.”
Jacques het dié keer die rehabilitasie suksesvol voltooi. En sy werkgewer het hom nog ’n kans gegee.
“Die begin van die herstelpad was die reëling dat Jacques een keer per week die kinders kon sien – onder toesig van ons maatskaplike werker. Hy het elke keer sy telefoon-afsprake met die kinders nagekom. En uiteindelik kon hy die kinders alleen ontmoet, in ’n openbare plek.”
Rosie vertel dat sy en Jacques mekaar die eerste keer ook onder Karien se toesig ontmoet het. En toe kom die groot verrassing: “Ek het nooit gedink daar sal versoening plaasvind nie. Maar Jacques het op 1 Desember 2024 weer huis toe getrek. En dit gaan goed. Wanneer die Here werk, gebeur dinge vinnig!
“Die kinders het ook goed aangepas. Ek dink dit is omdat ons hulle deurentyd deel gemaak het van die genesingsproses.”
Die gesin ondergaan steeds gesamentlike berading, en Jacques ontvang ook individuele berading. Hy word gereeld vir alkoholgebruik getoets.
Rosie vertel: “Ek is trots op wie ek is. Maar dit beteken nie dat ek nie somtyds sukkel nie. Die genesingsproses duur voort. Ek moet elke dag besluit ek gaan nie vasgevang word in dit wat was nie.
“Ons hele storie berus daarop dat ons nie skaam is oor wat gebeur het nie. Ons is nie skaam dat hy ’n alkoholis is nie. Maar ons getuig dat herstel wel moontlik is.”
- Pienk, pienker, pienkste kan per WhatsApp by 073 203 3523 bestel word. Dit kos R230 per eksemplaar. Die boek is ook in Engels beskikbaar. Die titel is The Power of Pink: A story of indescribable grace.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















