Ek klouter halsoorkop uit die bed uit; ek is báie laat! Ek het déúr my wekker se geraas geslaap. In die kombuis kom ek agter die melk is suur en die kinders is dikmond oor hulle pap. Ek het vergeet van die kinders se wys-en-vertel by die skool en nie een van my haastige voorstelle dra my jongste se goedkeuring weg nie.
Ek soek hoog en laag na waterbottels en kosblikke, wat toe nooit gister in die wasbak gesit is nie. En niemand wil aantrek of hul tande borsel nie. Alles is een groot gesukkel.
Op hoop van seën is elke verkeerslig rooi. Ek gaan selfs later by die werk aankom as wat ek gedink het. “Dis weer een van dáái dae …” sê ek vir myself.
Maar eensklaps wonder ek: Is dit regtig so erg? Is dit nodig om so te voel? En ek probeer my gesindheid regkry voor ek by die werk instap. Doelbewus trek ek my uit die gat waarin ek myself gedompel het. Terselfdertyd wonder ek hoekom dit so maklik gebeur dat ek in dié soort put beland …
LEES OOK: God stil jou honger
Ons verkies om die ergste te glo
Ek het onlangs iets gelees wat die historikus Deirdre McCloskey geskryf het: “Om redes wat ek nog nooit kon verstaan nie, is mense mal daaroor om te hoor die wêreld is op pad hel toe.” Pessimisme klink vir ons na die intelligenter en geloofwaardiger opsie. Dit trek ons aandag, en dan klou ons daaraan vas.
Dié negatiwiteit kom van oraloor op ons af, veral ook via die media: radio, televisie, sosiale media. Daar word weinig aandag aan goeie nuus gegee omdat bitter min mense skynbaar daarin belangstel. As iemand dus vir ons sê dat alles oukei sal wees, dat dinge reg sal uitwerk, is ons skepties en lag hulle uit. Maar as iemand ons waarsku dat ons in gevaar is, het hulle dadelik ál ons aandag. Dis asof ons verkies om te glo dat daar om elke hoek en draai ’n ramp op ons wag. Die einde van die wêreld wag op ons!
Ons is daarvan oortuig dat die wêreld gewelddadiger is as ooit, dat dit vreesaanjaend is, dat alles hopeloos is – ten spyte van ’n gebrek aan bewyse om hierdie oortuigings te staaf. Ons maak maklike afleidings oor die toekoms – sonder om in ag te neem dat die mens wonderbaarlik aanpasbaar is.
Ja, dit ís so dat die wêreld voortdurend verander, maar dit was nog altyd so, ook in ons voorouers se tyd.
Die waarheid is dat die wêreld vir die meeste mense steeds beter word. Die mediese en tegnologiese vooruitgang oor die afgelope klompie dekades is asemrowend, en ons geniet die vrugte daarvan. Mense se lewensverwagting en lewensgehalte het drasties verbeter. Dink ’n bietjie terug: tien, twintig, vyftig jaar gelede … En dink aan hoe dit destyds was. Verstommend, nie waar nie?
Dit is egter so dat ons optimisme sommige mense laat frons. Hulle sê ons is oningelig, ons het kwansuis nie al die risiko’s in ag geneem nie, ons is naïef, en selfs onsensitief. Heimlik wonder ons of hulle nie dalk die waarheid beet het nie …
Hoekom reageer mense so? Hoekom is hulle – en ons – so geheg aan slegte nuus? Is dit ons poging om ons op die verwagte rampe en ellende voor te berei? Is dit ’n soort oorlewingsmeganisme? Met ander woorde, is ons dalk “geprogrammeer” om gevare ernstiger op te neem as goeie nuus? As dit alles waar is, beteken dit dan dat ons vir altyd in hierdie soort pessimisme vasgevang bly?
Ek dink daar is ’n alternatief.
Om anders te begin dink
Ons is geroep om anders te dink. Dit is nie iets wat natuurlik kom nie; dit gebeur slegs deur die Heilige Gees se werk in ons.
Optimisme is om te glo dat daar, te midde van allerlei uitdagings en gereelde terugslae, ’n God is wat dit goed bedoel met ons. Dit is Hy oor wie Paulus getuig: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom 8:28). Optimisme en positiwiteit is dus nie gelyk daaraan om met toe oë deur die lewe te gaan nie; dis juis om ons oë wyd oop te hou, gevestig op Hom.
Hoe sal dit klink as ons om ’n braaivleisvuur staan en begin om hoop te verkondig eerder as om te kla? Om positiwiteit uit te straal oor ’n koppie tee saam met vriendinne? Dit is tog die opdrag wat aan ons gegee is: om die goeie nuus te verkondig, om vas te hou aan die hoop wat ons bely. Want God is getrou. Hy doen wat Hy beloof het (Heb 10:23).
Nee, dié soort positiwiteit kom nie vanself nie; dis ook ’n doelbewuste besluit. En dit kán gedoen word. Só verwoord Paulus ons roeping: “Deur die goeie nuus wat ons verkondig, het God julle hiertoe geroep sodat julle die heerlikheid van ons Here Jesus Christus kan verkry (2 Tess 2:14).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.