Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

#2 ‘Die hardste woorde wat ek nog ooit moes aanhoor’

Ek is daardie Sondag ontslaan. Maandag het my ander boetie, Thys, en my skoonsus Anandi my Alberton-hospitaal toe geneem waar ek Handrè vir die eerste keer weer sou sien. Ons het by Pieter-hulle in Kempton Park gebly om sodoende nader aan Handrè te wees.

Maandag, besoektyd, het ek my Vinkie-kind vir die eerste keer gesien. My hart het gebreek. Daardie klein, stukkende lyfie met al die pype en masjiene …

My hart en bors het letterlik gebrand van die pyn. Die pediater het die kamer ingekom, haar voorgestel en vir my gesê dat sy die dokter was wat al die pype in my kind se keel geplaas het. Sy het vertel dat hy baie bloed verloor het, en dat daar byna geen bloeddruk te bespeur was toe hy by die hospitaal aangekom het nie. Hy moes toe dadelik drie eenhede bloed kry.

LEES OOK:#3 ‘Gebede tel ons op en dra ons in die lang pad wat voorlê’

Sy het vertel hoe hulle gesukkel het om Vinkie te stabiliseer voordat hulle hom teater toe kon neem. En in die teater het sy hart gaan staan. Hulle moes hom weer bybring.

‘Dit het my byna gebreek’

Daar was ’n span van vyf pediaters wat om die beurt aandag aan my kind gegee het. Oor die situasie met sy brein kon hulle in daardie stadium geen uitsluitsel gee nie. Sy niere en longe het dalk ook skade opgedoen.

Dit was die hardste woorde wat ek nog ooit moes aanhoor.

Ek kon dit tot nou toe vir niemand vertel nie; ek kon net vir Henro sê dat Vinkie báie moes deurmaak. Dit het my byna gebreek. Om te dink: Ek sit langs sy bed, en ek kan niks doen om hom te help nie. Ek kon niks doen om dit beter of makliker te maak nie. Ek kon nie met hom praat of aan hom vat nie.

Die dokters het gesê dat Vinkie baie sensitief vir stimulasie is. Sodra daar stimulasie is, verhoog die drukking in sy brein. En dit was in daardie stadium van kritieke belang dat die druk laag bly.

Ek het dus net daar gesit en na Vinkie en al die masjiene gestaar. Dit het gevoel asof my hele lyf brand. Ek was steeds in ’n rolstoel, ek het steeds geweldige pyn verduur wanneer ek probeer loop het.

Ek kon nooit langs my kind se bed huil nie. Ek was te bang hy sou hoor en dat dit hom sou ontstel en onrustig maak.

‘Die berg wat ons moes oor’

Die personeel het my later tot by die hysbak gestoot, en daar het ek gesit en huil. Dit was so seer. Die berg wat ons moes oor, het ál hoër gelyk, en ek het oorweldig gevoel.

’n Dokter wat verbygeloop het, het by my kom sit en gevra of ek oukei is. Sy het my gerusgestel en gesê dat Handrè in goeie hande is, en dat sy ook vir hom sal bid.

Die gewag tussen besoektye was lánk. En die aande het ekstra lank gevoel. Ek kon, vanweë die pyn, nie snags slaap nie. My lyf het ook baie seer geword omdat ek net in een posisie moes lê; ek kon my glad nie self draai of self regop kom nie.

Dit was die eerste keer in 14 jaar se getroude lewe dat Henro my met alles moes help: Was, aantrek, help opstaan, help sit. Ek kon regtig niks vir myself doen nie, dit was te seer. Die magteloosheid het my dikwels in trane gehad.

Ek was saans bang om aan die slaap te raak. Sê nou ek hoor nie as die foon lui nie? Ek het die aande omgehuil, want in die dag moes ek sterk wees vir Vinkie. Dit het ook vir Juan en Sion ontstel as hulle my sien huil het. Soms het ek met Bluetooth-oorfone in my ore geslaap sodat ek die foon sou hoor as dit lui. Só het ek toe ook na my aanbidding-speellysie gelê en luister, en dit het my ’n bietjie rustiger gemaak.

Die bewustelike besluit

Op Dinsdag, 2 Mei het die dokters ’n Doppler-sonar op Vinkie se brein uitgevoer. Dit was, soos ek dit verstaan het, om na die bloedvloei in die brein te kyk, en om moontlike blokkasies op te spoor.

Die nuus was positief: Die bloedvloei na albei kante van Vinkie se brein was goed, en daar was geen blokkasies nie. Dit was net nóg ’n wonderwerk.

Juan was steeds in die hospitaal; Henro en my skoonma was by hom. Die Here het ook vir Juan aangeraak: ’n Operasie, wat baie gevaarlik kon wees vanweë die hemofilie, was toe nie nodig nie. Juan is op 4 Mei ontslaan. Hy moes ’n nek- en rugstut dra, maar hy kon hom by ons aansluit.

Dit het egter vir my gevoel asof Vinkie begin sieker word. Dit het my onrustig gemaak. Sy bloeddruk, byvoorbeeld, was baie hoog, hoër as ’n volwassene s’n. Ook sy niere het begin swaarkry en dit kon nie behoorlik uitskei nie.

My kind was baie geswel en die dokters het oor nierdialise begin praat. Vir die eerste keer was ek werklik bang dat ons Vinkie kon verloor. Terwyl ek daar langs sy bed gesit het, het ek só gewens ek kon hom optel en styf vashou. Dat hy my net kon voel, dat hy weet ons is daar. Ek het gepleit dat die Here ons asseblief genadig sal wees.

Terwyl ek langs Vinkie se bed gesit en hulpeloos gevoel het omdat ek niks vir hom kon doen nie, kry ek die prentjie waar die Here met Vinkie in sy arms sit. Toe het ek besef dat ek Vinkie in die Here se arms moet plaas, want Hy alleen kan vir Vinkie doen waarvoor ek met my hele hart gepleit het. Ek het gesoebat dat die Here asseblief vir Vinkie styf vashou, dat Hy hom veilig sal hou, totdat sy lyfie weer sterk genoeg is.

Vir die eerste keer het ek ’n mate van vrede en rustigheid beleef. Ek het toe ook besef dat ek heeltemal moet oorgee en dat ek die Here met alles in my moet vertrou. Ek moes elke dag, en met elke besoek, die bewustelike besluit neem om oor te gee en te vertrou.

‘Iets is nie reg nie’

Op 6 Mei het hulle steeds gesukkel om Vinkie se bloeddruk te beheer, en hy het medikasie gekry. Die drukking en die erge swelling het stremming op sy longe geplaas, en nierdialise is sterk oorweeg.

Ek het gebid dat dit asseblief tog nie nodig sou wees nie, want die een pediater het gesê dat as dialise vermy kon word, Vinkie buite die gevaarsone sou begin beweeg. Die volgende dag het ek ’n boodskap ontvang dat mense oraloor om elfuur daardie oggend vir Vinkie gaan bid. Daardie Sondag was Moedersdag, en ek het ook gehoor dat daar by verskeie kerke vir Vinkie ingetree is.

Met besoektyd het die pediater na ons toe gekom. Hy het van die Donderdag tot die Sondag by die hospitaal in die dokters se slaapkamer oornag om naby Vinkie te wees. Die Maandag, toe ons by die vertrek instap, was die pediater wat in niere spesialiseer daar. Ek onthou sy was besig om aan die ventilator te stel en na Vinkie se longe te luister. Die professor wat die breinoperasie uitgevoer het, was ook daar en hulle was in ’n druk gesprek gewikkel.

Ons het in die hoekie bly staan, en afgelei iets is nie reg nie. Ek het wel gehoor die pediater sê sy moes Vinkie “bag”; ek het nie geweet wat dit beteken nie. Ek het wel gewonder of dit beteken dat Vinkie se longe platgeval het, maar ek was te bang om te vra.

Die dokter het toe gesê dat Vinkie se longe glad nie goed klink nie en dat sy uitskeiding baie min is. Hulle het X-strale geneem wat gewys het dat daar vog op sy longe is. Die nierspesialis het nog medikasie voorgeskryf en gesê die volgende 48 uur is kritiek belangrik. Vinkie was steeds aan die ventilator gekoppel.

‘Maar God kan’

Op 9 Mei het daar ’n draaipunt gekom: Vinkie se uitskeiding het begin verbeter en die dokter het gesê sy longe begin ook beter klink. Die moontlikheid van dialise is vir eers op die lange baan geskuif.

Vir die eerste keer het ek gesien dat my kind se vingers begin beweeg. Die volgende dag het sy bloeddruk ook verbeter. Die ICP-masjien, wat die drukking in die brein monitor, is uitgehaal. Dit het beteken dat ons met Vinkie kon  praat. Ek kon ook sy hand vashou.

Ek het elke dag my aanbiddingsliedjies vir Vinkie gespeel. “My Provider” was ’n gunsteling, want die woorde het presies gesê wat in my hart was. Soveel mense het vir my gesê ek is sterk – maar dit is glad nie waar nie. Die woorde van “My Provider” het my krag gegee, en die Here het my elke oomblik gedra. Ek het geweet ek kan self niks daarvan regkry nie, maar God kan. En ek het daaraan vasgehou.

Die ander liedjie waarna ek herhaaldelik geluister het, was “In Jesus Name” van Katy Nichole. Ek het dit oor en oor gespeel. Dit was die gebed wat ek vir Vinkie gebid het.

Op 11 Mei moes Vinkie weer bloed kry. Sy kop was nog erg geswel en hy het bedsere agter op sy kop gekry. Hulle het hom gereeld begin omdraai sodat die drukking eweredig versprei kon word.

In die intensiewesorgeenheid ry jou emosies behoorlik wipplank. Ek druk gewoonlik die seuns se hande met twee vinnige, kort drukkies – wat vir ons beteken: “Love you”. Vandat ek Vinkie se hand kon vashou, het ek kort-kort twee drukkies gegee, en gehoop hy weet ons is by hom en dat ons hom liefhet. En dat ons hoop hy sal vasbyt en baklei.

Die dokter het vir ons gesê dis nie ’n naelloop dié nie, maar ’n marathon. Op die 13de Mei kon hulle die bloeddrukmedikasie staak. Die niere se uitskeiding het verbeter, en daar is begin om die sedasie te verminder, asook die suurstof. Hulle wou hom so gou moontlik van die ventilator speen.

‘Mamma’

My kind het begin frons wanneer hulle met hom gewerk het. Sy gesig het beter gelyk en ons wat hom goed ken, het gesien sy gesigsuitdrukking het weer ons Vinkie s’n geword. Soms het dit egter gelyk asof hy huil sonder dat daar geluide kom, en dan het my hart opnuut gebreek. Die behoefte om hom dan in my arms te hou, was oorweldigend.

LEES OOK:#1 ‘Ek kon hulle nie groet in die chaos nie’

Op 14 Mei het ons laat opgedaag vir besoektyd – maar ná die tyd het ek die Here se hand ook daarin gesien. Toe ons by Vinkie se kamer kom, het hulle pas die ventilator ontkoppel. Dit het vir die eerste rukkie baie erg gelyk, en dit het aanvanklik geklink asof hy aamborstig is.

Maar ons was oorstelp van dankbaarheid. Die Here se genade was so onbeskryflik groot. Die dokter het ons wel gewaarsku dat die onttrekking van al die medikasie “moeilik” sou wees. Hulle sou dit stelselmatig verminder totdat ons kind se lyf daarsonder kon klaarkom.

Hy het steeds baie geslaap. Af en toe het hy sy oë oopgemaak wanneer hulle met hom werk. Op 16 Mei het hy vir die eerste keer “mamma” gesê. Dit was maar ’n preweling en sy stem was baie hees, en dit was só sag dat ek nie seker was dat ek reg gehoor het nie. Maar die gevoel wat dit in my laat posvat het, was groter as toe hy die eerste keer, as ’n baba, “mamma” gesê het.

Hy was egter steeds baie deurmekaar. Hy het gehuil en na ons geroep wanneer ons nie daar was nie. Hy het kwaai geskop, en met die baie gewig wat hy verloor het, was sy bene gou blou van die gestamp teen die bed se raamwerk. Ons het “pool noodles” gekoop, dit opgesny en op die bed gerangskik dat dit erger beserings kon voorkom.

‘Wonderwerkbaba’

Ek het uitgesien na die dag waarop my kind weer daardie mooi bruin oë sou oopmaak. En op 17 Mei het dit gebeur … maar hy het net voor hom gestaar. Dit was asof hy kyk, maar nie sien nie. Ons het nie geweet of sy sig aangetas is nie. Was dit dalk die nagevolge van die sterk medikasie? Al wat die dokters kon sê, was dat ons geduldig moet wees. Wag en kyk.

Namate Vinkie beter geword het, het die personeel ook gemakliker met ons begin kommunikeer. Een van die susters wat by Vinkie gewerk het in die tyd toe hy nog regtig baie siek was, het vir ons gesê dat Vinkie hul “wonderwerkbaba” is. Sy het bevestig wat ons vermoed het: dat sy toestand die naweek van Moedersdag kritiek was. Sy het bygevoeg dat hulle hom daardie tyd nie ’n oomblik lank alleen gelos het nie. Daardie naweek was ’n keerpunt, het sy vertel, en sy toestand het algaande begin verbeter.

Daar het ek besef dat die Here elkeen wat in daardie naweek gebid het se gebede verhoor het. Hy het ons kind aangeraak en sy lewe gespaar.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Jy kan ons help nog meer Bybels versprei en die Evangelie verkondig

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir Jesus leer ken

Kinderpret-leesreeks Storietyd

Beleef ‘n pret, leersame en avontuurlike leesreis vir jong lesers

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders

Laat ‘n Ligspoor

Laat kinders leef met lig, lag en liefde

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF