Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Die Here het waarlik ons oes beskerm,’ vertel Namibiese tamatieboer

Ek is ’n tamatieboer in die Namibiese Kalahari. Ek wil baie graag vertel wat die Here vir ons gedoen het met ons tamatie-oes in 2023 en 2024. Hier is my getuienis:

Ons is groenteboere in die Stampriet-omgewing in Namibië. Tydens ons tweede jaar met die tamatieboerdery (dit was in 2022) het ons ons hele oes verloor vanweë ’n baie klein mot met die wetenskaplike naam tuta absoluta

LEES OOK: Roggeveld-boervrou se ‘huis van gebed’ en hul droogte-wonderwerk

Terwyl die gewone bladmyner slegs blare vreet, val die tuta-mot die blare én die vrug aan. Dié mot se lewensiklus verloop bitter vinnig: van eier tot eier kan so kort soos 24 dae duur. 

Ná baie gebed het ons in 2023 weer tamaties geplant, dié keer slegs ongeveer drie hektaar – baie minder as voorheen. Skaars drie weke nadat ons die tamatie-saailinge uitgeplant het – dit was in Oktobermaand – het ons ’n groot aantal tuta-motte in ons tamatieland sien rondvlieg. Ons het ook die skade op die blare van die klein tamatieplantjies opgemerk.

 Volgens ons beplanning sou ons vyf weke ná die planttyd groot lokvalle vir die motte uitplaas. Maar ons moes dit noodgedwonge twee weke vroeër doen omdat daar toe reeds motte was. Ons het die tamatieland ook bespuit, maar dit het vir ons gevoel asof dit geen uitwerking het nie.

Die tuta-mot op een van die tamatieplantjies. Foto verskaf
Die skade wat Willem op die tamatieplantjies opgemerk het. Foto verskaf

Ons het gebid, vir leiding gevra, om hulp gesmeek. Steeds het dit gevoel asof niks werk nie. In die week van 23 Oktober het dit gevoel asof my hele wêreld inmekaartuimel. Ek het gesien hoe die oes vernietig word. Dit was die oes waarmee ek vir my gesin moes sorg. 

Die De Jager-gesin. Van links af is Wihan (9), Líke (3) Willem en sy vrou Liné. Judha (5) en Zion (7) sit op die regterkantste perd. Foto verskaf

Op Vrydag 27 Oktober 2023 het ons 100 lokvalle uitgeplaas.

In daardie week het my vrou ’n paar keer vir my gesê: “Kom, ons moet die blok gaan salf. Ons moet daar gaan bid.” 

Die Vrydagmiddag laat het sy en ek die hoekpale van die tamatieland gaan salf. Ek was egter so moedeloos dat ek nie meer wou bid nie. 

Maar by die laaste hoekpaal het ek duidelik beleef hoe die Heilige Gees aan my vra: “Hoekom wil jy alles self doen?” 

Op daardie oomblik het ek aan die Here gesê om die land vir Hom te vat. Dat ek dit vir Hom gee … 

Op Sondag 29 Oktober, net voor kerk, is ek weer na die tamatieland toe. Ek was vol hoop dat die lokvalle reeds die motte minder gemaak het. Maar ek kon slegs twee motte kry in die paar lokvalle wat ek ondersoek het.

Daardie Maandagoggend het ek elkeen van die 100 lokvalle nagegaan. Ek kon nog een mot kry. 

Maar op daardie einste dag kon ek ook sien dat daar geen bykomende skade aan die tamatieplante was nie.

Die motte was wel nie weg nie. Wanneer ek soggens opstaan, was daar ’n menigte in die badkamer se wasbak. En wanneer ek deur die tamatieblok stap, het hulle oral rondgevlieg. Op plekke waar die tamaties spontaan opgekom het, kon ek die tuta-mot se vernietigingswerk sien.

Maar in die blok wat deur ons gesalf is, was daar geen skade nie.

Met verloop van tyd was daar feitlik nie meer ’n mot in die blok te sien nie. Op die res van die plaas het die motte gekrioel. Die uiteinde was dat ons geen enkele tamatie hoef weg te gegooi het nie. Die Here het waarlik ons oes beskerm.

Willem se beskermde oes. Foto verskaf

Ná die Desember/Januarie-oes het ons weer stiggies gemaak. Ons doen dit sommer naby die huis. Die plantjies in die saai-laaie is baie klein. Maar ek het toe reeds gesien hoe die tuta-mot dit begin aanval. 

Net voordat ons dit in die land gaan uitplant het, het ek vir die Here gesê ons gee weer die plante vir Hom. En dat ons op sy woord en beloftes staan.

Die dag nadat ons die stiggies uitgeplant het, kon ek sien die wurms van die motte, toe reeds in die blare, was dood.

En tot vandag toe, 3 April 2024, sien ek geen skade in die tamatieland nie. En geen motte nie.

Ons hou steeds vas aan Levitikus 26:6. Dit lui só: “Ek sal vrede gee in die land sodat julle sal gaan lê en niemand sal julle bang maak nie. Ek sal die wilde diere uit die land verwyder en geen swaard sal deur julle land trek nie.”

Te midde van ons swakheid is God kragtig aan die werk. Alle eer aan Hom!

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF