Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Die klein, heilige oomblikke

Die bekende Franciskaanse priester en skrywer Richard Rohr, ook stigter van die Center for Action and Contemplation, vertel hoe hy elke dag besige hoofweë kruis op pad na die poskantoor waar hy die inwoners by die spiritualiteitsentrum se pos gaan afhaal. Die nimmereindigende stadsverkeer, met besluite wat binne sekondes geneem moet word – wanneer moet hy van baan verwissel, of ’n gaping by ’n groot verkeersoorgang benut? – lei tot groot spanning en ongeduld. Daar is veral een spesifieke kruising oor ’n brug, waar hy vyf stelle verkeersligte moet trotseer, wat hom telkens onderkry.

Een oggend het hy besef dat indien hy nie self rustig is voor hy die brug oorsteek nie, hy ook nie rustig aan die ander kant sal wees nie. Dat sy vrede nie geleë is in die aankoms aan die oorkant nie, maar in homself.

Hy skryf: “Ek kan nie dink aan enige geestelike oefening wat ons nader aan God se hart kan bring as om in die naakte, ongeskonde oomblik te probeer leef nie, in die heilige nóú.”

Kinders wys ons hoe om ’n enkele moment vas te gryp sonder om vorentoe of agtertoe te dink. By hulle leer ons die krag van ’n suiwer, onbevange oomblik.

Op ’n dag ontvang ek ’n foto van ’n jong ma en haar driejarige seuntjie. Hulle sit kruisbeen in ’n ronde plastiekswembadjie, knieë teen mekaar en koppe vooroor. Hulle kyk mekaar in die oë. Hulle raak verlore in die oomblik. Hulle hoor nie die straatgeluide nie. Sien nie die straler se swart strepie in die hoë blou lug nie. Ruik nie die jasmyn teen die tuinmuur nie. Alles het tot stilstand gekom. Niks anders maak nou saak nie. Slegs hierdie klein, heilige saamwees-oomblik.

George Weideman dig só oor sy vrou Célien:

En nou het alles winter geword:
’n bleek en afgeknaagte tyd,
… winterwind is vort met ál wat groen en geilryp was.
dan kom jy, meteens, die hoek om gefluit:
geel trui, kopdoek swart-en-wit geruit,
sokkies parmantig geel,
my borrievink-bruid vlieg ’n sonstreep oor die stoep.

Een oomblik van suiwer vreugde kan lig maak vér anderkant ons grys mure.

Vanaand, toe ek voor die stoof staan, probeer ek dink wat dit is wat my hart so vrolik in my binneste laat klop. Wat is dit wat my met ’n lied in die hart my aandkos laat maak?

Toe onthou ek die Chinese ma met haar seuntjie wat vroegoggend in die straat verbygestap het. Die kind het my vrolik in Chinees gegroet en my alles vertel wat hy langs die pad gesien het. Al kon ek niks verstaan nie, het sy opgetoënheid my aangesteek. Ek kon saam glimlag oor die doodgewone dag in ons grys straat met sy motors en fietsers en drawwers. Die honde aan leibande en die werkers op pad na hul dagtaak.

Dikwels laat ’n groot ramp of verlies ons besef watter dinge werklik saak maak. Ons oë gaan skielik oop en ons kyk met ’n nuwe helderheid na die lewe. Met oë wat nuutgebore is. Ons omarm die dinge wat die lewe kosbaar maak. Eenvoud. Liefde. Saamwees.

Daar word deur ’n toeris vertel van haar besoek aan die berg Vesuvius, waar duisende mense in die sogenaamde “rooi sone” van ’n moontlike vulkaanuitbarsting leef. Die merkwaardige van dié mense is dat hulle elke dag deur die gewone geïnspireer word, die alledaagse. Vir hulle is dit die natuurskoon, hul gemeenskap, hul hegte familiebande. Hulle leef met passie. Nie in vrees nie.

Ons moet maar op die uitkyk bly vir klein vreugde-oomblikke, én dit self skep. Ons moet tyd maak vir daardie dinge wat nie noodwendig belangrik is nie, maar wat ons lewe verryk – en dalk juis deur die eenvoud of onverwagsheid daarvan.
Ons moet aanhou soek na heilige, gewone oomblikke.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►