“Mamma, hoekom móét ons kerk toe gaan?” Ek haal diep asem en maak my gereed om vir die soveelste Sondag aan ons sesjarige te probeer verduidelik dat dit is wat ons gesin doen.
Eensklaps tref dit my dat dit die verkeerde antwoord is. Ek probeer dus weer: “Dit is wie ons is, Sus. Ons behoort aan die Here en sy koninkryk.”
Onwillekeurig dink ek aan ’n Bybelteks waarmee ek onlangs besig was – Lukas 10 se eerste 20 verse. Ons lees hier hoe Jesus 72 volgelinge voor Hom uitgestuur het – ambassadeurs vir God se koninkryk. Die doel was dat hulle, waar hulle ook al kom, God se koninkryk moes sigbaar maak.
Anders as wat ’n mens sou verwag, was hierdie koninkryk-ambassadeurs nie ’n elite-groepie nie. Daar was niks “eksklusief” aan hulle nie; hulle was bloot ’n klomp gewone mense wat Jesus getrou gevolg het.
Hul opdrag was net so doodgewoon soos hulle: Stel die koninkryk bekend aan die mense wat julle teëkom, en maak hulle deel van die koninkryk.
Ek hou daarvan om my goed voor te berei wanneer ek op reis gaan, en ek het nogal gewonder oor Jesus se opdrag aan die 72 om sonder beursie of reissak of skoene die reis aan te pak.
Maar ek het instinktief geweet dat Jesus ook hiermee ’n doel gehad het. Hul gebrek aan bagasie, die aandrang op lig reis, moes hulle van die wysheidsleraars onderskei, dié wat met ’n stok en bedelsak, ’n beursie en sandale, die land vol gestap het. Volgens die Lukasverhaal moes die koninkryk se ambassadeurs ánders wees, want God se koninkryk is anders.
“Maar Mamma, waar is God se koninkryk?”
Die kindervraag ruk my terug tot die werklikheid en ek antwoord: “Hiér, Sus. Die koninkryk is waar God se kinders God se liefde uitleef.”
Dit word weer stil, en my gedagtes keer terug na Lukas 10.
Die eerste ding wat hierdie 72 moes doen wanneer hulle by ’n huis aankom, was om te sê: “Vrede vir hierdie huis.” In daardie tyd het dié vrede-groet “heelheid” beteken, “heelmaking”. Die 72 se sending was dus ’n deel van die wêreld se herstel, want dit is wat God se koninkryk op die oog het: Om wat stukkend is, heel te maak, en waar nood is, verligting te bring.
“Mamma? Wat is ons werk in God se koninkryk?”
“Om God se ambassadeurs te wees, Sus. Om sy liefde te lééf.”
Ambassadeur-wees in ons huis
Ons gesin probeer om ons ambassadeurskap ernstig op te neem deur, onder meer:
Gasvry te wees. Ons nooi minstens een keer per kwartaal ’n persoon of gesin in ons gemeenskap of gemeente, wat ons nie ken nie, om by ons te kom eet.
Te help waar ons kan. Dis vir ons, koninkryk-ambassadeurs, belangrik om by noodverligting betrokke te wees. Dit behels om deel van ’n uitreikprojek te wees, of om kos vir ’n sopkombuis te skenk, of om by ons plaaslike tehuis vir bejaardes te gaan kuier.
Ons gereeld af te vra of ons werklik “anders” leef. Ons probeer om gereeld te bepaal of ons, soos die 72, op ’n “ander” manier leef. Kan vriende, vreemdelinge en buitestanders werklik sien dat ons ambassadeurs vir God se koninkryk is?




















