Ek bak elke dag twee brode. Dié gewoonte het begin met my sopbeurt tydens die gemeente se Pinkstertyd. Die volgende oggend het ek toe weer ’n baksel in die oond gedruk – en sedertdien het ek nie weer ophou bak nie.
Ek gee elke dag ’n broodjie weg. Dis ’n gewoonte wat tydens grendeltyd begin het. Jy knie met iemand in jou gedagtes. Iemand naby, want ’n brood moenie lank staan nie. ’n Buurman sal selde nee sê vir ’n brood en g’n kollega sal agter ’n toe deur wil werk met die reuk van ’n warm brood uit die kantoor se kombuisie nie.
Ek bak selde met winkelgis, want ek is al jare lank geseën met ’n suurdeegplantjie wat ’n barshou uit ’n bol deeg laat rys. ’n Gesonde suurdeeg-kultuur is ’n wonderbaarlike verskynsel. Dis soos die weduwee se kruik wat nimmereindigend oorloop, mits jy altyd insit wat jy daar uithaal. Dié natuurlike suurdeeg bevat ’n baie belangrike bakterie wat in die maag voorkom, asook in moedersmelk. Dit werk stil en stadig en in die nag se donker ure. Daarom moet ’n bakker wat met suurdeeg bak, geduldig wees. En altyd in die ritme van meng en knie en rus die werk doen.
Ek sal in enige oond brood bak. In pannetjies, mandjies, swartpotte, en op ’n rooster oor kole. Ek bak nie volgens ’n resep nie, maar ek skiet ook nie uit die heup nie. Dis wiskunde en wetenskap, maar ook liturgie en lewenskuns. Dis meetkunde en meditasie. Dis sakramenteel en fundamenteel. Dit behels gramme, chemie, gebede, geduld en goeie gewoontes.
Ek glo in brode met behoorlike korsies. Daarom sal ’n winkelbrood selde my verbeelding aangryp, want die bakkers van die konglomerate moet bak vir die swakkes van vlees, die oorhaastige vreters. Vir die fiemies van die verbruiker en die winsmarges van die aandeelhouers. Ek is dankbaar dat ek net vir my vrou en my kinders hoef te bak. Laasgenoemde het ook hul geite, maar ek reken dat ’n honger kind nie fiemies het nie. Ja, die kosblikke kom terug met die korsies steeds daarin, maar dit beland dan in die hond se bak met ’n aftreksel van gisteraand se hoenderdis.
Nie al my brode kom mooi uit nie. Soms is ek oorhaastig en dan kies ek ’n kortpad. Ander kere is die meel nie so watwonders nie. Of die oond is te warm of te koud of te onbekend.
My brode is anders in die somer as in die winter. Maar elke dan en wan haal ek ’n brood uit die oond en ek dink: Daar is nêrens in die hele wêreld ’n brood soos dié nie.
Dan staan ek in verwondering terug en ek kyk hoe die stoom uit die brood styg. Opwaarts, soos gebede. Ek luister hoe die kors ’n krakende loflied tot die Here se eer sing.
Ek glo aan die koördinate-van-die-kombuis. Ons gesin het onlangs op ’n plasie in die Karoo gebly. Daar was iets aan die doringhout se kole en die plaas se water wat my roosterkoeke na heimwee en hemel laat smaak het.
By Strandfontein bak ek brode wat ek nie op Stellenbosch gebak kry nie. Die deeg bol uit soos branders. En die koel, vogtige seelug laat die warm kors soos leiklip kraak.
My plantjie gaan saam op vakansie en dit kom altyd terug met nuwe reuke wat ’n paar dae hou. Totdat die dorp se water, die winkel se meel, die bakterie op my hande en op my houtlepels die oorhand kry oor die vakansieverlange.
“Broodbak” op jou eie tyd en eie manier
Ek weet dat nie almal kan bak nie. Sommige brei serpe en stop sokkies terwyl hulle voor die televisie sit. Ander plant ertjies en spinasie op ’n balkon in die stad. ’n Vriendin lê komkommers in en kook konfyt vir al wat leef en beef. My vrou som ons bankstate op en help haar ma met haar belastingsake.
My kollega skryf die mooiste gedigte en lees dit vir my voor wanneer ons koffie drink in sy kantoor. Ek moedig hom aan om dit te laat publiseer, maar dan herinner hy my daaraan dat niks wat die moeite werd is oornag gebeur nie.
Ek weet nie of hy weet dat juis dit die geheim vir ’n ligte brood is nie: Laat dit oornag in die yskas rys.




















