Swangerskap is sekerlik een van die wonderlikste gebeure in ’n vrou se lewe. Geen geskenk kan groter wees as die klein saadjie wat in jou ontkiem nie. Vandat ek uitgevind het ek verwag ’n baba, het ek onmiddellik ’n band met die groeiende vruggie gevorm.
Ná twee tuisswangerskaptoetse en ’n bloedtoets kon ek my uiteindelik toelaat om te glo dat ek wel swanger is. Daardie eerste sonar was die mooiste belewenis denkbaar! Die hartkloppie, so sterk, so perfek. Die gedagte aan ’n baba wat in my groei, was soos iets uit ’n ander wêreld.
Van die eerste dag af het ek oor hierdie baba gedroom. Ek en my man Willie was baie opgewonde daaroor dat ons ’n mamma en pappa gaan word. My grootste prioriteit was om ons baba veilig te hou.
Ek het nie heeltemal geweet wat dit is nie
Op 1 November 2023 is ek in die hospitaal opgeneem weens ’n problematiese verstandtand. Dit het erge infeksie meegebring en ek moes geopereer word. Daar moes onder meer dreineringspypies in my mond geplaas word om van die infeksie ontslae te raak.
Ná ’n paar moeilike dae in die hospitaal is ek uiteindelik ontslaan en kon ek my tandarts besoek om die verstandtand te laat trek.
’n Week later het my bloeddruk skielik begin probleme gee. Dit het nog nooit tevore gebeur nie. My bene en my voete het begin swel. Ek het aangeneem dis normaal; ek was immers swanger.
Een middag het ek egter bloeddruppels op my onderklere gemerk. Ek het besef iets is nie pluis nie. Ek is onmiddellik na die hospitaal se ongevalle-afdeling en is opgeneem. My bloeddruk was uitsonderlik hoog – 180/107. Die dokters het my urine getoets. Daar was proteïne daarin. Die diagnose was pre-eklampsie.
Ek het nie heeltemal geweet wat dit is nie.
Die pre-eklampsie het my niere aangetas, wat tot gevolg gehad het dat daar vog in my liggaam opgebou het. Ek het later soos die Oros-mannetjie gelyk. Die dokter wat my behandel het, het probeer om my nierfunksie te laat verbeter. Hy was bekommerd en het later gesê dat hulle ons baba dalk vroeër sou moet uithaal om my lewe te red.
Sy het presies geweet …
Amoré Liebenberg is op 21 November 2023 op 29 weke en 4 dae gebore. Sy was so volmaak, so mooi en so sterk, en sy het dadelik diep in ons hart gekruip. Sy was ’n enkele dag lank aan ’n stuurstofmasjien gekoppel. Sy het mooi aangesterk, haar melk gedrink.
Op 26 November 2023, in die vroeë oggendure, het ons ’n oproep van die suster in die neonatale-hoësorgeenheid (NICU) ontvang: Amoré het infeksie in haar regterlong opgedoen en hulle moes haar weer aan die suurstofmasjien koppel.
Die dokters het die infeksie behandel, maar sy het al hoe sieker geword.
Ons het bly hoop en bid dat die Here haar sou aanraak. Die infeksietelling het egter bly styg, die suurstoftelling het bly daal. Haar longetjies moes harder werk. Soms het die suurstoftelling gestyg en dan het ons geglo sy gaan beter word.
Ons het elke dag daar in die NICU met haar gesels, en sy het na ons gekyk. Sy het presies geweet wanneer haar mamma of pappa met haar praat. Dit was die kosbaarste oomblikke tussen ons en haar.
Amoré het haar mamma se geboortemerk gekry: Haar twee toontjies was vas aan mekaar, soos haar mamma s’n.
Die beste dae van my lewe
Op 29 November, laat die middag, is ek en Willie na die kafeteria toe om koffie te koop, om asem te skep. Op pad terug na die NICU, in die hysbak, lui my foon. Dis die suster. Sy sê ons moet so gou moontlik na Amoré toe kom.
Daar het ons gesien hoe die dokters en personeel met alles wat hulle het probeer om ons dogtertjie se lewe te red. Ek het na die monitor gestaan en kyk, gesien hoe haar hartklop al hoe stadiger word.
Toe, eensklaps, is dit een reguit lyn. Ek het begin huil. Ons was stukkend. “Hoekom?” was die vraag in my binneste.
Die suster het al die drade en pype ontkoppel en ons kon Amoré vir die eerste keer vashou. Sy was die mooiste, mees volmaakte dogtertjie ooit!
Die beste dae van my lewe was die nege dae wat sy in my lewe was. Nooit het ek gedink dat ek só iets sou beleef nie. Ek weet Amoré het hard probeer veg, maar haar lyfie het net te moeg geword.
Die vrae hou nie op nie
Het ek vrae?
Ja, baie, en hulle kom elke dag na my toe. Sonder ’n antwoord. Dalk sal ek eendag hierop terugkyk en alles verstaan.
Dis nie ’n maklike pad nie. Sommige dae is moeiliker as ander en dan wil ek ineenstort. Wil ek van voor af huil. Ek wens dit geen ouer toe nie. Dit sny baie diep.
Oral waar ek kom en waar ek ’n pasgebore babatjie sien, of selfs ’n vrou wat swanger is, wonder ek opnuut waarom my swangerskap só moes eindig. Dit breek elke keer my hart, selfs om in ’n winkel te kom en babaklere te sien.
Waarom moes ek my baba verloor?
Die vrae hou nie op nie.
Al verstaan ek nie alles nie, weet ek tóg dat Amoré by Jesus is, saam met al ons ander geliefdes wat ons vooruit gegaan het. Ek kan nie wag om haar eendag in die hemel weer te sien nie.
Haar mamma en pappa mis haar elke dag
Dis net God wat my die krag gee om deur elke dag te kom. Daar was reeds drie geleenthede waar die hartseer oor Amoré my oorweldig het … en waar Jesus my twee reënboë gewys het wat bo-oor mekaar strek. Ek hou vas aan daardie belofte dat Hy my sal spaar en dat ek nooit weer so iets sal beleef nie.
Van buite lyk ek dalk sterk, maar hierdie pad is moeilik. Dis egter nie onmoontlik om vol te hou nie, ongeag hoe jou paadjie lyk. Ek weet nou uit ondervinding: Maak God deel van jou reis en alles sal ’n bietjie makliker wees.
Om God te dien, vrywaar ons nie van slegte dinge nie. Maar dit help ons om daardeur te kom. Sonder Hom kán jy nie die pad stap nie.
Ek was beslis kwaad en ek het vir die Here gevra hoekom Hy haar moes kom haal. Op ’n dag het ek en my pa gesels, en hy sê toe hy verstaan nie waarom dinge gebeur soos dit gebeur nie. Maar, sê hy, Jesus het nie net ouer mense nodig in die hemel nie.
Dit is die waarheid, hoewel dit nie die pyn ligter maak nie. Al wat ek weet, is dat Jesus en al die ander baie bevoorreg is om haar te mag hê. Haar mamma en pappa mis haar elke dag.
Ek het gevoel ek moes my storie vertel, want dalk kan dit iemand help. Weet net dit: God los jou nooit nie; Hy is elke tree by jou. Staan sterk en moet nooit ophou bid nie.
- Tanya (27) en Willie Liebenberg (34) woon op die klein dorpie Rayton in die noordooste van Gauteng. Tanya doen administratiewe werk vir ’n plaaslike maatskappy. Sy is ook ’n ontwerpkoördineerder en ontwerp webtuistes. Willie het sy eie staalonderneming. Hulle is baie betrokke by die Emmanuel Evangelie Kerk in Rayton waar hulle lidmate is en waar Willie se pa as pastoor dien. Familietyd is vir Tanya kosbaar en sy ondersteun graag haar man, wat ’n kranige krieketspeler is.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.