Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Die plaasaanval het my nader aan die Here gebring,’ vertel Vrystaatse boer

Hennie Cronje (73) raak steeds emosioneel wanneer hy praat oor die vraag wat die Here hom 30 jaar gelede gevra het. Dit was twee weke nadat hy en sy gesin ’n plaasaanval naby Parys oorleef het. Hulle is deur drie gewapende mans beroof, en Hennie is boonop ontvoer.

Hy was toe nog ’n jong en fris 43, en hy onthou die besonderhede soos gister.

“Ek wou hulle ná die tyd doodmaak,” sê dié gebore en getoë Vrystater, “maar die Here het my daarvan bewaar.”

Hennie se geloofsreis het van haat na vergifnis verloop in ’n baie onstuimige tyd in Suid-Afrika.

Die koerantberig waar Hennie en Frandri by die badkamervenster uitkyk waardeur sy en die kinders kon ontsnap van die rowers. Foto verskaf

‘Ek was verskríklik kwaad’

Oor middagete vertel dié pa van vyf my sy hele verhaal. Hoe die drie mans een Sondagmiddag by die huis ingestorm het. Hoe hy ervaar het die Here praat met hom, stel hom gerus dat hulle hierdeur sal kom. Hoe sy gesin kon ontvlug en hy kon gaan hulp soek nadat die rowers hom in Sasolburg se buitewyke afgelaai het.

Hy onthou hoe getraumatiseer hy ná hierdie gebeure was: “Ek was bang vir die nag en die donker. Ek was verskríklik kwaad, so kwaad dat ek hulle sou vermoor as ek hulle in die hande sou kry.”

LEES MEER: ’n Ouma vertel: ‘Ek het die moordenaars vergewe’

Maar toe, een oggend, verander alles. Hy het gehoor hoe die Here hom vra: “Hennie, my kind, as ek hulle nou stuur, en hulle by jou veiligheidshek staan wanneer jy daar uitstap, en hulle steek hul hande in die lug en vra jou ‘help ons sodat ons ook in die hemel kan kom’ – wat sal jy doen?”

Hy drink ’n slukkie water, sê dan: “Ek raak altyd emosioneel as ek hieroor praat. Ek het op daardie oomblik al my haat verloor, al my vervolgingswaan. Ek was daarna nooit weer kwaad vir hulle nie. Die Here verander ’n mens se hart.”

Vandag, sê hy, as hy daarop terugkyk, is hy dankbaar dat die rooftog plaasgevind het. Want dié ervaring het hom nader aan die Here gebring. “Maar,” voeg hy op ’n ligter noot by, “ek het ook vir die Here gesê: ‘Asseblief, nie weer nie!’ Dit was nie baie lekker nie, dit was ’n bietjie taai …”

Hennie Cronje en sy vrou Frandri. Foto verskaf

‘Pa, wat nou?’

Al drie rowers is in hegtenis geneem, waaroor Hennie en sy gesin dankbaar was. Hennie vertel hy het ook tydens die roof besef hy ken twee van hulle. Een het saam met sy seuns op die plaas grootgeword, saam sokker gespeel. En die ander bekende was ’n broer van een van sy werkers.

Die hofsaak wat hierop gevolg het, was vir Hennie en sy gesin selfs meer traumaties as die aanval. Hy vertel hoe hy tydens ’n uitkenningsparade die haat kon sien in die oë van die mans wat voor hom staan. Anders as wat ’n mens in Amerikaanse TV-reekse sien, waar die getuie veilig agter eenrigting-glas staan, moes hy met sy linkerhand aan die skouer vat van die man wat hy as een van die rowers herken het.

Dit was destyds vir baie mense ’n deurmekaar, onseker tyd. Dit was die jare negentig, en die land se eerste demokratiese verkiesing het voorgelê. Baie wit mense het gewonder of hulle nie die land moet verlaat nie; ander het blikkieskos opgegaar.

Hennie onthou hoe hul een seun na hom en sy vrou Frandri gekom en gevra het: “Pa, wat nou? Wat nou?” Dit was kort nadat Nelson Mandela op 27 April 1994 as die land se eerste swart president verkies is. 

Hy onthou wat hy geantwoord het. “My kind,” het hy gesê, “dié land behoort nie aan FW de Klerk of aan Nelson Mandela nie, dit behoort aan die Here.”

Toe het hy sy seun vertel dat hy en hul ma ná die plaasaanval besluit het hulle sal emigreer. Nie na ’n ander land nie, maar van die ou Suid-Afrika na die nuwe Suid-Afrika.

“Dit is hoekom ons nog hier is,” sê die pa wat twee kinders het wat vandag oorsee woon. Die plaas is intussen verkoop, en een van die seuns het die familie se vervoeronderneming oorgeneem.

Wat beteken sy soort emigrasie? vra ek hom.

“Dit beteken ons het die ou dinge agtergelaat. Apartheid, ’n wit regering … Ons het die veranderings wat gekom het met ’n oop hart aanvaar en ons sal die beste daarvan maak.

“Waar ons ons deel kan doen, sal ons dit doen, ongeag wie aan bewind is. Ons het besluit ons bly in Suid-Afrika. Hier is plek vir ons. Ons is deel van hierdie land.”

  • Heléne Meissenheimer is ’n joernalis by Kerkbode, susterpublikasie van LiG.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.