Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Dis moeilik om die verskrikking van ons Simeon se selfdood te beskryf’

‘Die uitwerking van trauma en smart op ’n mens se lyf is moeilik om in woorde uit te druk. Dit beïnvloed elke aspek van jou lewe. Niks is ooit weer dieselfde nie. Niks nie.’ Só sê Hanlie Nel nadat haar seun ’n klompie jare gelede sy eie lewe geneem het.

Pieta Nel, sy vrou Hanlie en hul twee kinders het in die grendeltyd almal saam op ’n kleinhoewe in Pretoria-Oos gewoon. Wanneer Pieta en Hanlie nou daarop terugdink, onthou hulle ’n tyd vol lag, kosmaak-kompetisies, speletjies en sommer net saam laf wees.

Hul seun Simeon was die platjie, altyd reg met ’n grappie, gereed om iemand anders se siel uit te trek. Hanlie vertel: “Hy het ’n presence gehad. Waar hy was, was lig en lag.”

Die aand van 4 Mei 2020 was soos enige ander. Hulle het saam gekuier. Hul dogter Charlize se vriend Arno was ook daar. Net voor slaaptyd het ’n wekker op Simeon se foon gelui en hy is na sy woonstel toe.

LEES DEEL2: ’n Brief vir Simeon op Oukersaand: ‘Hoe lewe ons sonder jou?’

Kort daarna het Hanlie ’n oproep van Simeon se meisie ontvang. Sy het gesê: “Tannie, kan julle asseblief gaan kyk of Simeon oukei is. Hy dreig om homself om die lewe te bring.”

Pieta se gille

Dit was asof ’n emmer koue water oor Hanlie omgekeer is. Terwyl sy vir Simeon ’n boodskap gestuur het, was Pieta reeds op pad na sy woonstel. Sy was verlig toe Simeon op die boodskap antwoord. Alles was dus reg.

Kort daarna het sy Pieta se gille gehoor. “Ek het uit die huis gestorm en Pieta in die tuin van ons kosbare Simeon-kind se woonstel gevind. Simeon het aan die boom gehang, sy liggaam was slap.

“Terwyl Pieta en Arno probeer het om hom regop te hou, het ek na sy kombuis toe gehardloop om iets te kry om hom los te sny.”

Daar was geen polsslag nie en Hanlie het met mond-tot-mond-asemhaling begin. Pieta het sy hart gemasseer. Skielik het Simeon begin asemhaal, moeisaam en rukkend, maar tog.

“Dankie, Jesus!” het Hanlie geprewel.

Toe het hulle op die ambulans gewag. Dit het soos ’n leeftyd gevoel.

LEES OOK: ‘My hart is flenters,’ sê ma oor 12-jarige se selfdood ná boeliegedrag

Die paramedici het vasgestel dat Simeon se suurstofvlakke baie laag is en hulle wou hom intubeer. Hulle het dit eers met die derde probeerslag reggekry.

Toe het sy hart weer gaan staan, maar hulle kon hom stabiliseer en hospitaal toe neem. In dié tyd het Pieta en Hanlie voortdurend by die Here gepleit dat Hy hul seun se lewe spaar.

Sewe weke se smeekgebede

By die hospitaal is Simeon aan ’n ventilator gekoppel. En die volgende sewe weke het sy ouers se emosies wipplank gery.

Die neuroloog het oop kaarte gespeel en gesê dat hul pragtige seun ernstige breinskade opgedoen het. Hanlie vertel: “Simeon was in ’n vegetatiewe staat. Die dokters het gesê hy sal nie weer wakker word of beweeg nie.

“Ons moes besluit of hulle Simeon weer moes resussiteer indien sy toestand dit noodsaak. Daar is nie woorde om die verskrikking hiervan te beskryf nie. ’n Mens veg tog met alles in jou om hom net weer op die been te kry, al het hy breinskade opgedoen. Ons sou hom bemin en versorg, ongeag.”

Hulle het gebid: “Here Jesus, nie ons wil nie, maar u wil geskied …”

Daar is oraloor gebedskettings gevorm en almal het by God gepleit. Sewe weke lank. In dié tyd het hulle vele wonderwerke aanskou. Op ’n keer het Simeon wakker geword en hulle herken. Hy het Pieta se hand gedruk en met sy duim gewys dat hy oukei is. Die dokters kon nie dié opflikkerings verklaar nie.

Simeon is later na ’n neuro-rehabilitasiesentrum oorgeplaas waar hy met ’n span terapeute se hulp sou leer om die beste weergawe van homself te wees. Vanweë die grendeltyd-regulasies is geen besoekers by hom toegelaat nie. Sy ouers is egter deurentyd op hoogte gehou van sy vordering.

Daar was ’n wonderlike video waarin Simeon, met die hulp van drie terapeute, begin loop het. Dis iets wat, volgens die dokters, onmoontlik sou wees.

Daar was geen keer aan die ouers se vreugde en dankbaarheid nie.

Wees stil en weet …

Twee dae later, op Pieta se verjaardag, het Hanlie ’n boodskap van die dokter ontvang. Dit het só gelui: “Simeon het gecrash.”

Toe die werklikheid van Simeon se dood eers by haar ingesink het, het Hanlie se oë op ’n houtblokkie geval wat Simeon destyds vir sy sussie se doop gekoop het. Met dié woorde daarop: Be still and know that I am God.

*Lees more (13 Desember) die tweede gedeelte van dié aangrypende getuienis. Pieta en Hanlie Nel vertel hoe hulle in die Feestyd hulle verlies ervaar.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF