“Die uitwerking wat trauma en smart op ’n mens se lyf het, is moeilik om in woorde uit te druk. Dit beïnvloed elke aspek van jou lewe. Niks is ooit weer dieselfde nie. Niks nie.
“Die leemte is so ontsaglik groot. Die verlange word meer en meer namate die dae en maande en jare verbygaan. Die slapelose nagte, die terugflitse, die stil trane.”
Só vertel Hanlie Nel ná die selfdood van haar seun Simeon. Sy sê een van die dinge wat haar bybly, is die reuk en smaak van knoffel. Dit herinner haar aan die mond-tot-mond-asemhaling wat sy op haar kind toegepas het. “Dis asof my maag net omkeer as ek nou met knoffel in aanraking kom. Ek kan dit nie regtig beskryf nie. Ek moet daarmee saamleef.
“Ons gesin het lang, stil tye met Jesus deurgemaak. Ons kon nie bid nie. Ons kon nie sy stem onderskei nie. Ons het bloot teen sy bors gaan lê.”
Hanlie het bepaalde oefeninge by haar sielkundige gekry wat haar gehelp het om haar hartklop te laat bedaar. En dan het sy met Jesus gepraat.
LEES DEEL1: ‘Dis moeilik om die verskrikking van ons Simeon se selfdood te beskryf’
“Berusting en aanvaarding is vir my gesetel in die vaste wete van wie Jesus is. Dit wat gebeur het, is egter nooit iets waarby ons kan berus of wat ons kan aanvaar nie.
“Dis moeilik om na mekaar om te sien as jy voel of jy in jou eie smart versmoor. Daar was lang tye waarin ek nie kon sluk nie. Dan help ons geliefdes in die Here ons. Ek weet nie hoe ons sonder ons geloofsfamilie sou oorleef nie. Om mekaar se laste te dra was vir ons ’n elkedagse werklikheid.”
Die verraderlikheid van anaboliese steroïede
Hanlie se man Pieta, sy suster Charlize en dié se man Arno (hulle is ná Simeon se dood getroud), voer elkeen ’n eie stryd.

Pieta sê die berusting oor sy seun se dood het makliker gekom as die wete oor hoe hy dood is. “Selfdood maak nie net een mens dood nie …
“Jy verwyt jouself deurentyd. Jy probeer dink hoe jy dit kon gekeer het. Ons was mekaar se beste vriend. Hoe is dit moontlik dat hy nie met my kon praat nie?”
As Pieta nou daarop terugdink, weet hy daar was besliste waarskuwingstekens. Die kind wat altyd vrolik was, was dikwels buierig. Soms was hy kort van draad – net om gou weer om verskoning te vra.
Hy het gemoedskommelinge ervaar nadat hy met liggaamsbou begin het, sê Pieta. Daarby het hy ’n baie streng dieet begin volg en ontsettend hard geoefen om sy spiere te ontwikkel.
Hy was erg gefrustreerd omdat hy tydens die inperking nie by die gimnasium kon gaan oefen nie. Pieta het op ’n lighartige manier probeer uitvind of Simeon nie dalk anaboliese steroïede (AS) gebruik het nie. Simeon het dit heftig ontken.
Ná die selfdood is daar egter vasgestel dat daar wel verskeie soorte AS gelyktydig in sy bloedstroom was. Pieta en Hanlie is daarvan oortuig dat dié middels ’n groot rol in sy dood gespeel het.
Ná sy dood het hulle boodskappe op sy selfoon ontdek waaruit dit geblyk het dat hy probeer het om die AS-gebruik te laat staan. Daar was ook ’n navraag by die jeugpastoor oor woedebeheer-kursusse.
Smart hang soos ’n kleed
“Met verloop van tyd het ons probeer om mekaar te beskerm deur na mekaar om te sien, eerder as om te erken hoe seer ons gehad en hoe swaar ons gekry het,” vertel Hanlie.
Sy sê daar was ’n oomblik in Junie 2025 toe sy besef het dat sy nie werklik glo dat Jesus die uitwerking van die trauma kon genees nie. Dit was net te groot. Tydens ’n gebed saam met ’n vriendin het sy egter beleef dat sy Jesus bedroef maak omdat sy probeer het om haar man en kinders se smart te help verlig en nie vir God vertrou het om dit te doen nie. Daarop het sy Jesus gevra om hulle te versorg.
Simeon se dood het ook ’n hewige impak op sy suster Charlize en haar man Arno se lewe gemaak. Hul kosbare tyd van pasgetroud wees is deur smart gestempel. Charlize sê soms voel dit vir haar dat alles sal weggaan as sy net haar kop hard genoeg skud. Maar elke jaar tussen 4 Mei en 27 Junie kleef die hartseer van daardie traumatiese sewe weke soos ’n kleed aan die Nel-gesin.
Soos ook tydens die “Groot Dae”: elke verjaardag, Vadersdag, Moedersdag, rugbywedstryde, Charlize se trouherdenking. En ook Kersfees. Die mooiste tye word nou swaarkry-tye.
Pieta dink terug aan hul Oukersaande saam. Op Kersdag was hul huis altyd vol mense, maar op Oukersaand was dit net die gesin. Hanlie vertel: “Ons eet eenvoudige kos en sit by mekaar en gesels. Pieta lees ’n Skrifgedeelte voor. Dan kry elkeen ’n beurt om oor die afgelope jaar te gesels. Oor alles wat goed of seer of swaar was. En waaroor elkeen dankbaar was.”
Tydens daardie eerste Kersfees sonder Simeon het Pieta vir hom ’n brief geskryf, en daarin alles genoem wat hulle van hom mis. Hy het dit op Oukersaand voorgelees. “Ons het vir mekaar gevra: Hoe lewe ons sonder hom? Ons het so gehuil, maar dit was goed om oor hom te gesels. Om te onthou.
“Ons het Kersversierings met foto’s waarop hy verskyn,” sê Hanlie. “Ek maak altyd iets waarvan hy baie gehou het vir die Kersete, gewoonlik pampoenpoffertjies. Dit voel asof ek op dié manier steeds iets vir hom kan doen. Die ding is dat die bak nou vinniger vol word, want hy is nie daar om elke derde poffertjie te gaps terwyl ek besig is om dit te maak nie!”
Die gesin steek ook ’n kers aan by ’n foto van Simeon. “Aanvanklik, wanneer jou hart nog in jou borskas pyn, was dit moeilik om dit te doen. Maar ons praat gereeld oor hom. Ons sê: ‘Boeta sou nou sus of so gedoen of gesê het.’ Of: ‘Onthou julle hoe hy …?’
“Die mense om ons voel dikwels ongemaklik hieroor; hulle is dalk bang dit ontstel ons. Of hulle dink dis vir ons swaar om te onthou. Dis egter nodig vir ons, en goed.”
‘Simeon-oomblikke’ langs die see
Deesdae woon Pieta en Hanlie, en Charlize en Arno, in die Kaap. Pieta sê dit was vir hulle net te moeilik in Pretoria waar hulle om elke hoek en draai met herinneringe gekonfronteer is.

Hanlie voeg by: “Ons het soveel genade beleef. Ek was te siek en kon nie meer in die rotteresies funksioneer nie. Pieta se werkdruk was te veel en ons moes groot finansiële opofferings maak weens die vervroegde aftrede. Maar dit was alles vir ons nodig. Só kon ons gesond word.
“Deur alles heen het ons Vader ons gedra, en Hy doen dit steeds. Ons leer elke dag hoe sy sorg lyk.”
Hul raad aan ander wat in dieselfde bootjie as hulle verkeer?
“Gun jouself tyd. ’n Mens sukkel selfs ’n jaar of langer ná die trauma om weldeurdagte besluite te neem. Kies doelbewus om die mooi van God se handewerk raak te sien. Gaan sit by die see, of by ’n plek waar daar baie water is; voel die gras onder jou voete; kyk op na die wolke of die sterre. Sien sy handewerk in ’n klein blommetjie; ruik dit aan ’n nartjie. Rig jou oë op dít wat by Hom is.”
En wanneer die dae lank en moeilik word?
Beplan ’n “Simeon–oomblik” op die spesiale dae. Elke jaar kom die Nel-gesin op Pieta se verjaardag bymekaar en plaas blomme in die see, speel ’n mooi aanbiddingslied en bid saam. Of hulle gaan stap iewers teen ’n berg op en pak ’n groot “S” met klippe. Dan vier hulle saam nagmaal.
“Ons gaan staan ’n oomblik weer stil by ons seer. Daarna gaan jy ligter voort.”
Pieta en Hanlie het ook ’n gedenkbankie langs die strand opgerig waar hulle die skepping kan geniet en aan die goeie tye saam met hul seun kan terugdink.

Hulle moes ook weer leer om te lag.
“Dit beteken nie dat jy vergeet van jou kind of nie meer oor hom treur nie. Jy leer egter mettertyd dat dit wel moontlik is om vreugde te ervaar, al is jou hart steeds bitter seer.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.



















