Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Dobbelverslawing het my byna verwoes – en toe gryp dit my seuns’

Die 55-jarige Oscar Bishop het jare lank die Groot Boerpot nagejaag. Hy was later finansieel gesproke op sy knieë en het selfdood oorweeg. Ná sy uiteindelike rehabilitasie moes hy egter uitvind dat sy twee seuns dieselfde pad as hy stap.

Oscar Bishop, ʼn beroepgesondheidbeampte in die konstruksiebedryf, woon saam met sy gesin in Johannesburg. Hulle is omring deur casino’s.

Om te praat oor die vernietigende reis waarop hy iewers in 2006 vertrek het, maak Oscar vandag nog emosioneel. “Soos met enige verslawing, duur dit lank om weer die stukke op te tel. Nie net finansieel nie, maar ook die verhoudings wat jy vernietig het. Jy moet weer die belangrike mense in jou lewe se vertroue wen. Al die leuens wat jy vertel het, al die seer wat jy veroorsaak het …”

Toe kom die ekstase …

“Ek het in Port Shepstone grootgeword, in ʼn huis vol liefde en geborgenheid. My ouers was baie streng. Daar was nie konflik nie. Ek het nie groepsdruk beleef nie en het nooit gerook of gedrink nie.”

LEES OOK: Wanneer die dobbeldraak in jou selfoon skuil

Oscar was 19 toe sy pa hom na die Wildekus-casino geneem het. Dit was ʼn oorweldigende belewenis. Al wat hy raakgesien het, was die liggies, die glans, die weelde. Sy pa het hom vyftig rand gegee. Nadat hy sy geld tienvoudig vermeerder het, was hy in ekstase. Só is die saadjie geplant.

Oscar sê hy neem nie sy pa daarvoor kwalik nie; dit was tog veronderstel om ʼn lekker uitstappie te wees. Hy het wel nooit besef dat hy ʼn onderliggende geneigdheid tot verslawing het nie.

“In my middel-twintigs het die verslawing my begin bekruip. Ek sou dikwels casino’s besoek. Omdat ek by my pa ingewoon het, het ek eintlik min uitgawes gehad en kon ek my sakgeld gebruik soos ek wou.

“In daardie stadium was ek ʼn verkoopverteenwoordiger en ek het baie gereis. Die eerste ding wat ek op ʼn nuwe plek sou gaan soek, was die naaste casino. Ek sou wen én verloor, maar eintlik het ek geen ag geslaan op hoe dit my geldsake beïnvloed nie. Wat my betref, was dit onskuldige pret.”

Pandjieswinkel toe …

Een oggend in 2019 het hy sy vrou Leeann gegroet om werk toe te gaan. Hy het egter na Gold Reef City Casino toe gery. Binne minute het hy R1 000 verloor.

“Tot vandag toe kan ek nie glo hoe desperaat ek was om te doen wat ek toe gedoen het nie. Ek het uit die casino gestap en na ʼn pandjieswinkel toe gegaan. Daar het ek my kar verpand, sonder om aan die gevolge te dink. Ek wou ten alle koste my geld terugwen. Ek het later eers daaraan gedink dat daar beslis  ʼn rede is waarom ʼn pandjieswinkel binne loopafstand van ʼn dobbelsaal is.

LEES OOK: Ouers van dwelmslaaf: ‘God se ingryping het ons uit die donker gered’

“Weer terug by die casino, het ek gelyktydig by vier masjiene gespeel, R2 000 per masjien per keer. Ek sou na die masjien staar terwyl die nommers rol. Soms sou ek wen, soms verloor. Maar uiteindelik was die geluk aan my kant en het ek tóg genoeg geld gehad om my kar terug te kry.

“Die parkeerplek waar die motors geberg is, was egter reeds gesluit. En ek het gekies om na die dobbelsaal terug te gaan. Ek was skaam en het verneder gevoel. Ek het toe reeds besef dat ek in ʼn donker plek is.”

Maar ophou was min. En hy het alles verloor. Tweeuur daardie oggend het hy die casino verlaat. ʼn Barmhartige Samaritaan het vir hom sy foon geleen sodat hy Leeann kon bel. Toe sy vrou daar opdaag, was dit vir hom bitter erg. “Ek het gebid dat die aarde oopskeur en my insluk. Ek het nutteloos gevoel, hopeloos, volkome verslaan.

“Net hierna het ek dit ernstig oorweeg om my eie lewe te neem. Alles om en in my was pikdonker. Die groot hartseer was dat ek die verslawing soveel jare lank weggesteek het. Die groot klomp leuens wat ek vertel het om dié ondier te voed sal my altyd bybly.”

Die masker is af

Leeann vertel hoe geskok sy was. Sy het gedink haar man se dobbelgewoonte was onder beheer. Sy het wel vermoed dat alles nie pluis was nie.

“Ek was in beheer van ons finansies en het agtergekom dat Oscar se bydrae tot ons huishouding nie meer voldoende was nie. Terwyl die situasie geëskaleer het, het ons al hoe meer oor geld gestry.

“Ek het ook alleen gevoel. Hy was dikwels uithuisig. En wanneer hy tuis was, was hy voortdurend doenig met sy foon. Dit was asof hy nie meer in my belanggestel het nie.

“Wanneer hy op iets gewed en dan verloor het, was hy baie buierig. Almal in die huis moes dan suutjies trap. Een Kersdag het hy daarop aangedring dat ons hele gesin ʼn casino besoek. Ek was nie gemaklik daar nie en het die kinders weggeneem. Hy was baie ontsteld omdat ek sy pret bederf het.”

Die volgende val

Oplaas het Oscar besluit om van alle casino’s af weg te bly. Hy het so ver gegaan as om hom van alle casino’s te laat verban.

Toe kom die grendeltyd. Hy was verveeld en die versoeking om te dobbel was groot. Dit het begin met aanlyn weddenskappe op sokker, wat hy weer eens as “onskuldig” beleef het. Hy was daarvan oortuig dat alles onder beheer was.

“Ek het vas geglo dat hierdie soort weddenskappe onskuldig was en ek het die befondsing daarvan in my begroting opgeneem. Maar binne ʼn week was die maand se dobbelgeld uitgeput.”

Hy het sy aanlyn dobbelprobleem vir sy mense weggesteek. Daar was weer die een leuen ná die ander.

Die grendeltyd het langer geduur as wat almal verwag het en Oscar se verslawing het selfs erger afmetings aangeneem. Toe die aanlyn dobbelplatform boonop begin om slotmasjiene in te sluit, was alles eensklaps buite beheer. Dié masjiene het herinneringe gebring uit ʼn tyd toe sy drome groter as die werklikheid was.

Hy vertel: “Die siklus van wen en verloor het weer ʼn deel van my lewe geword. Dit het so erg geraak dat ek my foon selfs stort toe geneem het. Ek sou die foon op die vensterbank neersit terwyl die nommers rol, ek sou die stoom van die stortdeur afvee om te kyk of ek wen. Niemand het geweet nie.

“Dalk het my familie iets begin vermoed omdat ek erge gemoedskommelings beleef het. Dit is die tipiese gedrag van ʼn verslaafde. Die simptome stem ooreen met alkohol- of dwelmverslawing.

“Ek het meer as een keer amper ʼn groot motorongeluk veroorsaak omdat ek gedobbel het terwyl ek bestuur.”

In Mei 2024 het Oscar vir die eerste keer in ʼn lang tyd na sy bankstate gekyk. Hy kon nie glo wat hy sien nie. Die harde werklikheid het hom in trane gehad. Hy het ʼn lang tyd net gesit en gehuil.

Hy vertel dat hy in daardie stadium sy bankrekening se oortrokke fasiliteit en sy kredietkaart uitgeput het. Hy het nie minder nie as tien mikrolenings by sy werkplek gehad en die skuld is elke betaaldag afgetrek.

Toe het Oscar die Nasionale Dobbelraadgeskakel en gesê dat hy hulp nodig het. Hy is na ʼn berader verwys by wie hy sy hart kon oopmaak. Hy sê hy is nie daar veroordeel of verneder nie. Die berader het hom van ʼn foon-toepassing  vertel wat hom sou verhoed om ʼn dobbelplatform te besoek.

Die sondes van die vaders …

Daar het ses maande verloop, en Oscar was genees. Hy het besluit om sy aanlyn aandele-portefeulje aan sy seun Liam te gee omdat hy nie meer toegang daartoe gehad het nie.

Gou het Oscar besef dat daar fout is. Toe hy Liam konfronteer, het dié erken dat hy al die geld uitgedobbel het wat sy pa aan hom toevertrou het.

Oscar sê hy kon nie glo dat die dobbelduiwel weer sy lewe binnegesluip het nie. Liam is na dieselfde terapeut as Oscar, en hy is steeds “skoon”.

Maar ʼn verdere skok sou op die pa wag. Een Sondagoggend in 2025 het Oscar uitgevind dat sy middelste seun Blaine dieselfde pad stap. Dit was asof die sondes van die vaders weer eens sy huis besmet het.

Ook Blaine is vir berading gestuur.

Oscar sê: “Hulle is nie meer minderjarig nie en ek kan hulle nie 24 uur per dag oppas nie. Ek kan net vir hulle bid.”

Oscar is tans ʼn ambassadeur vir die Nasionale Dobbelraad. Hy is sonder skuld en het onlangs ʼn Baccalaureusgraad in Ramp- en Veiligheidsbestuur verwerf. Die motto wat hom op die regte pad hou, fokus op keuses en toewyding en konsekwentheid. “Alles is moontlik saam met die Here,” sê hy.

Leeann is daarvan oortuig dat dit God is wat die genesing gebring het. Sy vertel: “Ek het baie gebid, vir Oscar en vir ons huwelik. Ek glo dat God ingegryp het om hom van daardie dwaalweg af na ons toe terug te stuur. Die man op wie ek jare gelede verlief geraak het, het ek weer teruggekry.”

Het Oscar ʼn boodskap vir verslaafdes?

“Dit is nooit te laat nie. Selfdood is nie die antwoord nie; genesing is binne jou bereik. Jou mense het jou nodig. Elke oggend word ek wakker en dank God vir my genesing. Hy het my ʼn tweede kans op ʼn lewe sonder verslawing gegee.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►