Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Ouers van dwelmslaaf: ‘God se ingryping het ons uit die donker gered’

Una Paterson van Kaapstad en haar man Barry se lewe het in ’n nagmerrie ontaard toe hul jongste, Warwick (nou 37), reeds op 14 met dwelms begin eksperimenteer het. Sedertdien is hy dwelmafhanklik.

“Dit het sy lewe, asook ons s’n, onherroeplik verander,” sê Una. “Hy het later selfs op straat beland.”

Vir Una en Barry was hul seun se verslawing ’n groot verleentheid, ’n vernedering. Ontkenning was baie jare lank die enigste manier waarop hulle die situasie hanteer het.

Una sê: “Hoewel ek in God glo, het my persoonlike verhouding met die Here destyds verflou, en dit het vir my gevoel asof die Here ver van my af is. Ons was ook nie gereelde kerkgangers nie en het nie hierdie probleem aan die Here oorgegee nie.

“Ons wou nie aanvaar dat Warwick by dwelmmisbruik betrokke was nie. Ons het gedink hy is ’n tiener wat weer op sy voete sou land. Ons het probeer om nie paniekbevange te raak nie. Maar ek was depressief en negatief.”

‘Ons het ons kop in die sand gedruk’

Toe kom hulle agter dat daar ’n paar dinge uit hul huis verdwyn het. Aanvanklik het hulle gedink hulle het dit op ’n ander plek gebêre. “Ons het eintlik maar ons kop in die sand gedruk …

Una Paterson van Kaapstad en haar man Barry se lewe het in ’n nagmerrie ontaard toe hul jongste, Warwick (nou 37), reeds op 14 met dwelms begin eksperimenteer het. Foto verskaf

“Ons besef nou ons het hom van geld en luukshede voorsien en gedink ons help hom op dié manier. Maar ons het hom bloot in sy kwaad gesterk en sy dwelmverslawing gevoed.

“Uiteindelik moes ons erken dat ons eens liefdevolle seun ’n groot dwelmprobleem het. Maar steeds het ons gedink dat ons hom self sou kon help met die verslawing.”

Die probleem het net erger geword. “Vriende en familie het teen dié tyd gemerk dat daar fout was, maar ons het dit probeer toesmeer.

“Daar het waardevolle items begin verdwyn en ons moes alles toesluit. Warwick het ontken dat hy daarvoor verantwoordelik was.”

Hy het wel by ’n kollege ingeskryf en later as vakleerling by paneelkloppers gewerk. Sy ouers het vir hom ’n kar gekoop. Maar ná ’n ruk het hy opgehou werk. Hy het steeds sy ouers met sy leuens gemanipuleer.

Una sê: “Om eerlik te wees, dit het die lewe hanteerbaar gemaak om hom telkens te help.”

Hulle het boonop agtergekom dat Warwick ook aan pornografie en aanlyn dobbel verslaaf geraak het, en hulle het sy toegang tot die internet geblokkeer.

“Ons het besef dat hy dringend hulp nodig het. Ná deeglike navorsing het ons op ’n Christelike rehabilitasiesentrum in Plettenbergbaai besluit.

“Ons het nie daaroor gebid nie. Wat was die nut van gebed? het ons gesê. Want hoe kon God toelaat dat dit met ons gebeur? 

“Toe stel ons Warwick voor ’n ultimatum: Óf hy gaan daarheen, óf hy moet op straat gaan bly. Hy het ingestem om na die rehabilitasiesentrum toe te gaan.

“Ons was optimisties. Ná ’n paar dae het die berader laat weet dat Warwick goed vaar. Ek kon my trane nie keer toe ek ná ’n maand met ons kind kon praat nie. Hy was positief, hy wou selfs die tweede fase van die program aanpak.”

‘Die rooi waarskuwingsligte’

“Nadat hy die eerste fase voltooi het, wou Warwick vir ’n week huis toe kom. Weer eens het ons nie daaroor gebid nie, en ons het geen grense of planne gereed gehad nie.

“Op pad huis toe het hy vir ons gesê dat hy wonder of hy wel die tweede fase van die rehabilitasieprogram wil aanpak.

LEES OOK: ‘Ek het weer besef hoe groot God se genade is,’ vertel gewese dwelmslaaf wat saam met sy dogtertjie gedoop is

“Die rooi waarskuwingsligte het geflikker …

“Maar die tuiskoms was ’n emosionele belewenis. Die eerste aand is hy na sy vriende toe.

“Daarna het hy geweier om die NA-vergaderings (Narcotics Anonymous) by te woon. Hy wou nie oor sy toekoms praat nie. Hy het toe ook gesê hy gaan nie terug na die rehabilitasiesentrum nie.”

Weer het die lewe bykans ondraaglik geword. ’n Tweede keer het hulle hom voor ’n ultimatum gestel: óf terug na die rehabilitasiesentrum, óf straat toe. Al protesterend is hy terug na die sentrum. Daar moes hy gedeeltes van die eerste fase herhaal voordat hy met die tweede fase kon begin.

Una vertel: “Die jare lange stryd met Warwick se dwelmprobleem het ’n groot impak op ons lewe gemaak. Gelukkig het ons ’n sterk huweliksband, anders sou ook dit onder al die druk geswig het.”

‘Toe gaan bly hulle in Warwick se kar’

Ná nege maande is Warwick uit die rehabilitasiesentrum ontslaan.

Maar die ou patroon is gou weer gevestig. Die volgende vyf jaar was Warwick in en uit verskeie rehabilitasiesentrums. Hy het intussen ’n meisie ontmoet, ook ’n dwelmslaaf. Hulle het ’n kind verwek en het by haar ma se huis ingetrek. Maar ná ’n ruk is hulle daar uitgeskop en hulle het by Una en Barry gaan bly.

Una vertel: “Ons het later vir hulle ’n blyplek gehuur, maar elke keer is hulle gevra om te gaan weens hul swak gedrag. Dis toe dat hulle in Warwick se kar gaan bly het.

“Ons het deur die maatskaplike dienste aansoek gedoen dat ons kleindogter in ons voogdyskap geplaas word.”

Die aansoek was suksesvol.

Warwick se meisie is terug na haar ma toe, maar hy het twee jaar lank in sy kar gebly. Hy het soms slaags geraak met die polisie en het agter tralies beland, hoofsaaklik vir minder ernstige oortredings. Maar soms ook vir aanranding en bedrog.

“Ons het elke keer sy borg betaal,” vertel Una. “En steeds het ons hulp geweier … Ons het hom toegelaat om by die huis te stort, ons het vir hom kos en geld gegee.

“God werk egter op ’n misterieuse wyse. ’n Sekere jong man, Jacques Swart, het Warwick ontmoet terwyl hy in sy kar op straat gebly het. Jacques was ’n berader by die ‘recovery group’ van die View-kerk, en hy het Warwick daarheen genooi. Jacques wou ook vir ons ontmoet, en ek is na ’n groepbyeenkoms by die View-kerk.

“Daarna het Barry en ek ’n goeie gesprek met Jacques en sy vrou Louise gevoer, en ons is genooi na die nuwe ‘recovery group’ by Lifechangers-kerk. Dit was een van ons beste besluite ooit.

 “Uiteindelik kon ons met mense praat wat in dieselfde bootjie as ons is. Met die liefde en ondersteuning van dié groep het ek begin glo dat God my kan en sal help op hierdie moeilike reis waarop ek my bevind het.”

Die eerste stap uit die duisternis

“Ons het begin om weer gereeld kerk toe te gaan. Om deel te wees van ’n gemeente, was soos ’n tuiskoms.

“Dit was die eerste stap uit die duisternis waarin ons jare lank vasgevang was. Die eerste stap na herstel. Ons het só baie oor verslawing geleer. My geloof het die afgelope ses jaar besonder baie gegroei en ek het sóveel uit my foute geleer.”

Warwick bevind hom tans op ’n herstelpad, en hy doen sy bes om dit so te hou. Hy is “skoon”, en hy woon gereeld die groepbyeenkomste by. Stadig maar seker tel hy die stukke van sy lewe op. Daar lê egter nog ’n lang pad voor.

“Ons verhouding met hom is ook aan die herstel,” sê sy ma. “As ons terugkyk op die foute wat ons gemaak het, besef ons dat ons vroeër moes ingegryp het. Maar nou kyk ons net vorentoe. As dit nie vir God se ingryping in ons lewe was nie, en vir die ondersteuning van die groep en die gemeente nie, sou ons nooit uit die donkerte gekom het nie.

“Ek vertrou volkome op ons genadige, getroue en liefdevolle Vader. ’n Bybelvers wat vir my uitstaan ná my seerkrypad is Jesaja 41:10. Dit lui só: ‘Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.’”   

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF