Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek besef nou dat my mense liewer vir my is as wat ek ooit kon droom’

Op 5 Desember 2023 het Irma Muller met ’n bagasiebak vol kruideniersware na hul plaas naby Herbertsdale gery. Haar inkopies was hoofsaaklik vir hul Kerstafel, waar hul vyf dogters en hul onderskeie lewensmaats en die vier kleinkinders sou aansit.

Maar op pad het haar voertuig oor ’n twee meter-hoë wal gestort en ’n groot sementpyp getref.    

‘Vannag is deurslaggewend vir haar oorlewing’

Irma vertel: “Ek weet glad nie wat die ongeluk veroorsaak het nie. Ek weet ook niks van ons vriend Tokkie Oosthuizen wat my uit die wrak gehaal het nie. Ek weet niks van my man Harry en ons dogter Halcyone op die toneel, of dat Harry ook in die ambulans geklim het wat my hospitaal toe geneem het nie.

“Eers later het ek gehoor dat my hart etlike kere in die ambulans gaan staan het, en dat die paramedici my lewe gered het.”

LEES OOK: Ambulans vanaf Namibië na SA – toe wag twee skokke én later twee wonderwerke

Ná haar aankoms in ’n Mosselbaaise hospitaal kon geneeshere die volle prentjie van haar beserings vorm: ’n gebreekte sleutelbeen en ’n gebreekte knieskyf; slegs drie heel ribbes; ’n stukkende milt en lewer; ’n gat in die maag. En, les bes, ’n gebreekte rib wat haar een long beskadig het.

Toe Harry later daardie aand wou huis toe gaan, het die spesialis hom voorgekeer en gesê: “Jy ry nêrens heen nie. Vannag is deurslaggewend vir haar oorlewing.”

Irma het eers later gehoor hul dogters het haar kom groet. En dat die spesialis moes ingryp en keer dat sy te gou geopereer word om haar sleutelbeen- en kniebreuke te probeer herstel; haar liggaam moes eers sterker word.

Sy vertel: “Drie weke later, op Tweede Kersdag, is my sleutelbeen en knieskyf herstel. Toe ek uit die narkose ontwaak en ons dogter Petra sê dis reeds Tweede Kersdag, en dat ek geopereer is, wou ek haar nie glo nie.”

‘Ontstellende koorsdrome, en die engele by my’

Intussen is tuberkulose by haar gediagnoseer. Irma sê: “Blykbaar kan tuberkulose latent in jou liggaam teenwoordig wees, en dan ná sulke erge trauma na vore kom. Drie weke lank kon ek my familie en die verpleegpersoneel slegs agter ’n voorskoot, handskoene en ’n gesigmasker sien.

“Ek het ontstellende koorsdrome gehad, onder meer dat ek in vyandige mense se hande beland het, dat my bloed getrek word vir hul nare doeleindes. Dit was baie erg.

“Sommige drome het ’n geestelike karakter gehad, soos dié oor ’n bosslaper wat my skoene kom steel het terwyl ek op ’n bankie sit. In my droom het die bosslaper die skoene onder ’n bos weggesteek en ’n dogtertjie het dit vir my teruggebring. Die kind het in ’n klokhelder stem gesê: ‘Trek aan jou skoene, jy moet nog ver stap.’

“In die hospitaal het ek aanhoudend Psalm 23 vir myself opgesê. Daar was ook engele wat by my was, soos die verpleegassistent van Port Elizabeth wat my styf vasgehou het wanneer ek soos ’n baba gehuil het. En die skoonmakers wat oorgeloop het van liefde en omgee. Ook Herbertsdale se aflospredikant wat in George woon en drie keer ná die erediens vir my kom bid het, waardig in sy swart-en-wit-preekdrag.”

Sommige van die inwendige beserings het spontaan begin genees, maar Irma moes ná haar ontslag by ’n herstelkliniek fisio- en arbeidsterapie ondergaan.

Toe tree haar vasberadenheid op die voorgrond. Sy vertel: “Ek het hárd geoefen en hárd baklei om einde Januarie ontslaan te word. Ons jongste kleinkind sou Februarie in Graaff-Reinet gedoop word, en ek móés net daar wees!” 

“Ek besef nou dat hy en my gesin baie liewer vir my is as wat ek ooit kon droom. En ons bure en vriende, trouens, ons hele gemeenskap, het ons gedra,” vertel ’n dankbare Irma. Hier is sy in Augustus 2014 saam met Harry en hul dogters. Van links agter is Hermien en Irma Jnr. Voor van links is Christine, Halcyone en Petra. Foto verskaf

‘Op die regte tyd op die regte plek’

Toe Irma op 31 Januarie huis toe kom, was daar baie trane by haar familie, haar bure en vriende. Die dankbaarheid was groot.

“My hele uitkyk op die lewe het verander,” sê Irma (64). “Ek kyk nou met nuwe oë na mense vir wie ek voorheen kwaad was. My geloof in Christus het sterker geword. Sy genade het my hierdeur gedra.

“Kort voor die ongeluk het die Here vir my ’n boodskap gestuur dat dinge nie altyd is soos wat dit lyk nie.

“Al was my beserings so erg, en al was dit so sleg vir almal, kon dit anders geëindig het: My voertuig kon by ’n ander hoogte die pad verlaat het, ’n plek waar die wrak eers veel later opgespoor sou word.

“Deesdae besef ek hoe almal wat nodig was om my lewe te red, en om my by te staan, op die regte tyd op die regte plek was – die paramedici, Harry in die ambulans, die sorgsame spesialis. En ons dogters se ondersteuning, met Christine se hospitaalbesoeke tussen haar moeilike werkskofte en twee kindertjies deur. Ná my ontslag het sy bevrore geregte gebring en die kombuis opgeruim.

“Hermien moes met die apteker skakel oor watter chroniese medisyne ek moes gebruik. Sy het ’n WhatsApp-groep geaktiveer om met vriende, familie en gemeentelede te kommunikeer. Irma en Petra, wat verder weg woon, het naweke om die beurt kom kuier.”

“Halcyone, wat saam met Harry boer, was elke oggend seweuur in ons kombuis. Dan het sy met ontbyt gehelp, en met my badkamerroetine. Sy het my behoorlik opgekeil met die oefeninge.”

Irma het groot waardering vir Harry. “Hy is ’n baie geduldige mens. Hy moes my help met die kniestut se aansit, en die afhaal elke keer voor ek stort of voor ek in ’n ryding kon klim. Hy sê hy moes my ‘opvou’ voor ons iewers heen kon ry.

“Ek besef nou dat hy en my gesin baie liewer vir my is as wat ek ooit kon droom.

“En ons bure en vriende, trouens, ons hele gemeenskap, het ons gedra.”

’n Slegte knie en ’n onhandige hand

Kort voor die ongeluk het Irma en Harry plek op ’n toer na Marokko bespreek en die deposito betaal. “Harry het die vooruitsig op hierdie toer dikwels as aansporing gebruik wanneer ek moedeloos geword het.

“Die knieoperasie was nie ’n sukses nie. In Marokko moes Harry my help om trappe te klim, en veral om in ’n bus te kom. Die toerleier se vrou het namens my ’n klompie voordele beding, en die toerlede was altyd bereid om te ruil sodat ek, byvoorbeeld, ’n kamer op die grondvloer kon kry.”

Irma vertel hoe sleg dit vir haar is om nie meer te kan kniel wanneer sy bid nie. En sy moes noodsaaklike aanpassings maak wanneer sy naaldwerk doen omdat haar regterarm en -hand “onhandig” geword het.

Sy het ook, knap voor die Marokko-toer, baie hard geval. Op die toerfoto’s kan die merke gesien word.

In Aprilmaand het sy die hele familie bymekaargemaak om die Kersfees te vier wat sy misgeloop het. “Al die presentjies was dan reeds toegedraai. Wat ’n voorreg dat ek dit self kon uitdeel!” 

  • Irma is die skriba van hul dorp se NG gemeente. En sy is ’n oud-onderwyser, wat destyds haar hart verloor het op Harry, ’n melkboer.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.