Gerco van Deventer, die Suid-Afrikaner wat ses jaar lank in Mali aangehou is, maak hier sy hart oop oor sy geloofspad, en oor die keerpunt in sy lewe.
“Ek was vyf maande lank werkloos, en ons wou ons skuld delg. Toe kry ek ’n korttermyn-kontrak in Libië. Ek het daaroor gebid en dit aanvaar.”
So vertel Gerco van Deventer (48) by sy huis in Swellendam. Gerco, sy vrou Shereen (40) en hulle kind woon hier. Gerco het ook twee kinders uit ’n vorige huwelik wat elders woon.
Gerco het reeds heelwat ervaring gehad toe hy op 1 November 2017 Libië toe is om vir ’n Brits-Libiese kontrakteur te gaan werk. Vroeër het hy agt jaar lank in Afganistan as paramedikus en veiligheidskoördineer gewerk.
Toe hy dus drie dae later, pas ná sy aankoms in Libië, uit ’n kar gepluk en ontvoer is, was hy in ’n mate daarop voorbereid. “Hulle het op my geskiet. Net my brilhuisie agter in die kar is getref. Ek het gebid en die Here gevra om my hierdeur te lei. Toe kom daar ’n groot kalmte oor my.”
‘Hulle kon nie my geloof vat nie’
Daardie eerste maand is Gerco in ’n huis in Awbari aangehou en deurentyd bewaak. Hy het nie geweet of enige losprys geëis is en of daar onderhandelings gevoer word nie. “Ek weet net hulle wou geld hê. Een ou het my die hele tyd opgepas. Ek moes tevrede wees met ’n drom water vol muskietlarwes. Maar die ergste was om niks te weet nie, om in die duister gehou te word.
“Ek moes die verlange na my gesin onderdruk, anders sou ek mal word. My geloof het my geanker en my familie was my dryfveer.
“Ek het elke oggend gewonder of ek dit sal oorleef. My kalmte was my redding. Hoewel ek ’n paar keer gehuil het, het ek besef ek moes my emosies in toom hou, anders beland ek in ’n donker gat.
“Ons hemelse Vader is wonderlik. Hy vat jou aan die hand, breek jou af en bou jou weer op soos wat jy opgebou moet word. Ek het alles verloor, maar hulle kon nie my geloof vat nie. Hulle het wel gereeld probeer om my tot Islam te bekeer.
“Ek het baie tyd gehad om te dink. Ek het gewonder wat ek verkeerd gedoen het. Waarom is ek ontvoer? Toe besef ek dat ek na geld gehunker het en in dié proses my hemelse Vader op die agtergrond geskuif het.”
‘My daaglikse gesprekke met die Here’
’n Maand later is Gerco, ’n tipe 2-diabeet, na ’n deel van die Saharawoestyn geneem waar hy net vliegtuie en hommeltuie gesien het. Drie Turkse ingenieurs is saam met hom gyselaar gehou deur bloedjong, gewapende djihadi’s.
“Hulle het geweet ek is ’n Christen. Ek het aanhou bid en God gevra om my te beskerm en vir my familie te sorg. Soms het ek negatief geraak, want die hitte was ondraaglik, tot 50 grade. Dit was behoorlik ’n opelug-oond. Ek moes reën- en soutwater drink.
“As ek ’n draai wou loop, het die sand die velle van my voete af gebrand. En buiten twee kiestande, het ek al my tande verloor.
Later is Gerco na ’n huis in Awari geneem, terwyl die drie Turkse ingenieurs vrygelaat is.
Gerco is ’n paar dae later, op 28 Junie 2018, aan Al-Kaïda in Mali verkoop en na die suidelike deel van die Sahara geneem. “Ek was nooit bang nie. Ek wou nie enige teken van swakheid wys nie. Maar ek was hul gevangene en ek moes doen wat hulle sê.
“Ek was moeg vir die stof, vir die nagte op die sand onder die sterre, maar ek het besluit dat hulle my nie sal breek nie.
“My daaglikse gesprekke met die Here het my moed gegee. Ek het baie gedink aan die dinge wat ek verkeerd gedoen het, dit wat ek wou regmaak. Dit het gehelp dat ek so baie tyd gehad het, want vroeër was ek nie goed met luister óf om dinge uit te praat nie.”
Een aand, so teen agtuur, het ’n klompie hommeltuie bo hulle begin sirkel. Die djihadi’s het gedink Gerco word ontset en hulle het hom aan ’n boom vasgeketting. En op hom begin skiet. Hulle het sewe skote na sy kop gemik, waarvan een deur sy linkerarm gegaan en sy linkerbobeen geskraap het. Hy het baie bloed verloor.
“Maar die Here het my lewe gespaar. Ek is Hom só dankbaar! Hulle het toe my wond skoongemaak en dit verbind. Ek het ’n soort ‘sling’ van my kopdoek gemaak en ’n spalk met ’n stuk karton.”
Die keerpunt
Van Augustus 2021 tot Maart 2023 is die Franse joernalis Olivier Dubois saam met Gerco aangehou, en later ook ’n bejaarde Moslem van Mali. Olivier kon ’n bietjie Engels praat en hy het Gerco op hoogte gebring van wat in die wêreld aan ’t gebeur is. Só het Gerco die eerste keer van Covid-19 gehoor.
“In 2022 het ek ’n radio gekry nadat ek twee jaar lank daarvoor gesmeek het. Dit was soos manna in die woestyn. Ek kon soggens vieruur op World’s Last Chance inskakel, ’n Amerikaanse radiostasie. En twee ure lank luister na die program ‘Uit die waarheid oor die Woord’.
“Maar hier in die middel van 2023 het die hitte en die stofstorms my ondergekry. Ek het nie my geloof verloor nie, ek was net haastig om vrygelaat te word. Maar ek het ook geweet God het sy tyd, en ek het gebid dat ek geseën sal word met Jesus se rustigheid, geduld en gewilligheid om oor te gee.
“Daardie laaste agt maande in die woestyn het ek besef dat ek nie so kan aangaan nie. Ons leer in die Skrif dat Hy ’n verhouding met ons wil hê. En ek het daarvan oortuig geraak dat ek nie self my lewe in orde sou kon kry nie.”
In Oktober 2023 het Gerco elke aspek van sy lewe aan die Here oorgegee. Dit was die keerpunt in sy lewe. “Ná ’n lang pad van geloofsgroei, en nadat ek afgebreek en my foute aan my uitgewys is, het God my weer stelselmatig opgebou. Ek was eers kort van draad; God het my rustiger gemaak.
“Hy wil hê dat jy met Hom oor jou probleme praat. Hy wil ’n verhouding met jou hê, soos ’n pa met sy kind. Hy is ons hemelse Vader. Dit het ál duideliker tot my deurgedring. Ook toe ek besef dat ek slegs op Hom moet vertrou en nie ook op myself nie.
“Eers toe is ek van al my probleme bevry.
“Ek het met ’n lied in my hart rondgeloop. Ek het geweet dat Hy alles gee wat ons nodig het. Op sy tyd.”
‘Elke oomblik is ’n geskenk’
Toe Gerco uiteindelik, op 15 Desember 2023, deur Algerië se veiligheidspolisie kom haal is, kon hy dit byna nie glo nie. Dit het ’n rukkie geduur voor die werklikheid tot hom deurgedring het: “Ek is vry!
“Dit was oorweldigend. Ek het gehuil toe ek vir die Here dankie sê, vir sy ingryping, vir my vryheid.
“Toe ek op 22 Desember Suid-Afrika toe vlieg, het my trane weer gevloei. Alles was verby. Dit was altesaam ses jaar, een maand en 12 dae.
“Die weersiens met Shereen en my seun het my wind behoorlik uitgeslaan. My kind was nou nie meer ’n haasbek-sesjarige nie, maar ’n lang, twaalfjarige seun. Die tyd saam is nou so kosbaar. Elke oomblik is ’n geskenk.
“My denke, my waardestelsel en my prioriteite het soos handomkeer verander. Destyds sou ek ’n groot huis en ’n ‘fancy’ kar begeer; vandag vra ek: ‘Hoekom? Wie verheerlik jy?’”
Gerco ontvang tans elke week sielkundige hulp, solank hy dit nodig het. Om drie jaar lank elke aand aan ’n boom of ’n kar vasgeketting te word, gaan sit nie in jou klere nie.
En die Here stuur elke dag engele op sy lewenspad wat hom probeer help. “Ek is so geseënd,” sê hy.
“Noudat ek terug is, moet ek en Shereen weer aan ons verhouding bou. Ons leer mekaar van vooraf ken, ons praat oor alles wat gepla het. Ek luister nou met groter aandag. Sy het ook die afgelope ses jaar baie verander, gegroei in haar geloof.
“Ek het hierdie ses jaar in gevangenisskap nodig gehad om my lewe reg te ruk. Die groei wat in my geloof plaasgevind het, het dit die moeite werd gemaak.
“Ek het nou ’n honger in my om die Woord te lees. Toe ek dit die eerste keer doen, het ek begin huil omdat ek besef het hoe bevoorreg ek is.
“Ek wil op my verhouding met die Here fokus. Ek het ná dese ’n rustigheid oor my, en vrede wat alle verstand te bowe gaan.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.