Dit was veronderstel om ’n plesiervlug te wees. ’n Lekker stukkie ontspanning tydens die hoeveelste Covid-19-vlaag.
Maar op pad terug na die landingstrook het Magda Rorich ’n vreemde klik-geluid gehoor. Toe die helikopterloods sê “ons gaan val,” het sy gedink hy maak ’n grap. Oomblikke later het sy en Chris, haar man met wie sy 23 jaar getroud was, in die Krokodilrivier wakker geword. Hulle was sowat tien km buite Brits in Noordwes.
‘Ek was buite myself’
Magda beskryf die traumatiese gebeure van 10 Januarie 2021 só: “My man en die loods het my uit die helikopter gehelp; ek het vasgesit. Die loods het my gehelp om voor aan die helikopter vas te hou. My man het agter vasgeklou, aan die dak. Die loods was ook erg beseer, maar hy het uitgeswem en gaan hulp soek.”
LEES OOK: #1 ‘Ek kon hulle nie groet in die chaos nie’
In die tyd wat Magda en Chris op hulp gewag het, moes sy toekyk hoe haar man onder die water verdwyn. Sy vertel: “Hy het gesê hy kry nie asem nie. Ek het hom aangespoor om uit te hou. Maar sy stem het ál flouer geword. Ek het óm die deure beweeg, ten spyte van my pyn. Ek wou by hom uitkom, agter op die dak.
“Ek kon net aan sy hand raak, ek het gesê: ‘Ek sal jou al my asem gee as ek net by jou kan uitkom, my lief. Hou net uit, asseblief.’
“Weer het hy gesê hy kry nie asem nie, en hy het daarop aangedring dat ek moet uitswem. Ek het gesê my pyn is te erg. Sy laaste woorde aan my was: ‘Ek is regtig jammer, ek kan nie meer nie …’
“Sy oë was sag en kalm. En hy het van die helikopter se dak gegly.
“Ek was buite myself. Ek het geskree dat die hemele antwoord gee.”
Magda vertel hoe sy wou opgee, laat los, ook onder die water verdwyn. Maar skielik het sy die woorde “jou kinders” voor haar gesien. By die vliegveld het Christiaan (hy is nou 20) en Rochané (tans 14) op hul ouers gewag.
‘Ek het nie gedroom nie; Jesus het by my voete kom sit,’ vertel siek vierjarige
Sowat ’n uur ná die ongeluk het hulp opgedaag. Magda is met ’n groot gesukkel uit die rivier gered. Met ’n gebreekte bekken en groot skade aan haar laerug.
‘Ek het my beste vriend verloor, my vertroueling’
Dis vandag byna twee jaar sedert die ongeluk, en dié 49-jarige vrou van Centurion sê sy kan nie anders as om van God se goedheid en genade te getuig nie. “Ek beleef dit elke dag – in die hospitale en met my rehabilitasie, en nou ná die tyd. Die Here stuur mense oor my pad wat omgee en vir ons bid.
“Ek beleef Hom daagliks in die omgee van ander mense, in hul gebede en liefde vir ons. Hy gee my daagliks krag om op te staan, om te leef.”
Magda vertel dat sy steeds, van haar middellyf af ondertoe, geen gevoel het nie. Dat sy daarom moet doeke dra. Maar, voeg sy by, daar is wel gevoel in haar regtertone én, wonderbaarlik, sy kan loop! Daarom glo sy dat God besig is om haar te genees.
“Ek en my kinders beleef die Here se liefde en genade elke dag. Soms gaan dit rof, maar God is getrou. Ons familie en vriende en ons gemeente staan ons getrou by. Sonder hulle sou dit baie moeiliker gewees het.”
Magda staan aan die stuur van die vrouebediening by die plaaslike Lewende Woord-gemeente. Sy vertel hoe swaar die verlange na Chris is, vir haar en die kinders. “Die moeilikste vir my is dat ek my beste vriend, my vertroueling, verloor het. Ek mis sy koffie op die gras en sy omgee. Hy was só opreg in sy liefde, vir God en vir ons.”
“Maar my hoop is dat ek weet hiérdie reis op aarde is net tydelik; dis bloot ’n seisoen in ons lewe. Daar wag ’n ewigheid op ons by ons ewige Vader, sonder trane en hartseer en pyn.”
‘Ek het al dikwels by Hom in die boot gaan lê’
Magda spits haar deesdae daarop toe om hoop te bring deur haar getuienis. Sy vertel haar storie by kerke en vrouebyeenkomste regoor die land.
Hieroor sê sy: “God is my alles. Hy werk kragtig deur my getuienis. Hy gee mense weer hoop. En geloof in Hom.”
Sy getuig hoe Hy haar ná die ongeluk, toe sy nog in die hospitaal was, Matteus 8:23-27 gegee het. “Dit is waar Matteus vertel hoe Jesus saam met die dissipels oor die See van Galilea gevaar het, hoe die storm opgekom en Jesus geslaap het. Sy dissipels het Hom wakker gemaak, hulle was baie bang. Maar Hy het hulle gekalmeer en die storm het bedaar.
“Jesus sê nou vir my dat my storm nog glad nie verby is nie, maar dat ek in die boot moet kom lê. Op dié manier verklaar Hy: ‘Ek het beheer oor die storm, en op die regte tyd sal Ek jou storm tot bedaring bring.’
“Ek het al dikwels by Hom in die boot gaan lê. Hy is in beheer.”
Magda se boodskap aan ander is om aan die Here vas te hou. “Hy los jou nooit, ooit alleen nie. Vertrou op Hom. Bring alles na Hom toe.”
Intussen sit sy haar reis hier op aarde voort met Psalm 118:17 as bemoediging. Dit lui só: “Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.