“My hele lewe het binne ses minute onherroeplik verander,” vertel Karin Coetzee, ’n onderwyseres van Edenburg in die Vrystaat. Dit was ná die aanval in 2017 waartydens sy nege keer deur ’n oudleerling met ’n mes gesteek is.
“Indien ek dit daardie dag nie oorleef het nie, was ek beslis verlore.”
Voor die aanval was Karin en haar man Dewald daarvan oortuig dat hul saak met die Here reg is. Hulle het gereeld kerk toe gegaan en Dewald het in die kerkraad gedien.
Karen sê: “As jy ’n goeie mens is, gaan jy mos hemel toe, nie waar nie?
“Ons het oor naweke gekuier, ’n drankie geniet, gerook. Ons het nie roekeloos geleef nie, maar geestelik gesproke was ons onverskillig. Ons het nie werklik verstaan wat ware Christenskap is nie en nie geweet wat ’n diep verhouding met God behels nie.”
Die dag toe alles verander het
Op 27 Oktober 2017 het Karin, haar vriendin Neline, en haar twee kinders Kourtney (3) en Eliah (1) buite gekuier. Neline se motor se alarm het begin raas, maar hulle het nie veel daarvan gedink nie en die alarm elektronies afgeskakel.
“Min het ons geweet dat dit die aanvaller was wat die alarm geaktiveer het om ons aandag af te trek,” vertel Karin. “Dit het hom die kans gegee om die huis binne te sluip.”
Kourtney wou televisie kyk, en Neline moes badkamer toe gaan. Daarom het hulle almal besluit om in te gaan.
Kourtney onthou dat sy My Little Pony gekyk het toe die aanvaller skielik inkom. “Die lelike, stout oom met die mes het op Pappa se plek gaan sit en my geroep,” het sy later aan Karin vertel.
Kourtney het nie na hom toe gegaan nie, maar hy het haar opgetel en na die kombuis gedra. Daar het hy sy Okapi-mes vir ’n groot kombuismes verruil.
“Die skerp tande van die jagmes sou meer skade aangerig het,” sê Karin vandag. “Daarom glo ek dit was een van die maniere waarop God my beskerm het.”
Neline het kort daarna op hulle afgekom en die aanvaller gevra wat hy wou hê. Hy het gesê dat hy nie daar is vir hulle nie, maar vir Karin. Daarop het hy Kourtney aan Neline gegee en hulle in ’n speelkamer toegesluit.
Die gang was vol bloed
Die aanvaller het Karin by die kombuisdeur ingewag. Sy vertel: “Toe ek instap, het hy my, sonder waarskuwing, met die mes begin steek. Ek onthou hoe hy met woede en krag die lem in my kop en nek gedruk het.”
Hy het haar uiteindelik nege meswonde toegedien.
Haar seuntjie was agter haar, maar dié het stil weggeglip en gaan wegkruip. “Dit was nog ’n wonderwerk,” sê Karin. “Hy het nie gehuil of aan my vasgeklou nie.”
Eensklaps het die aanvaller opgehou. Hy het omgedraai; dit was asof iets hom laat skrik het. Hy het na die deur beweeg en aan die traliehek geruk. “Ek glo dit was die Here wat ingetree het,” sê Karin. “Ek het die hek oopgemaak en hy het gevlug.”
Die gang was vol bloed. Dit het kompleet gelyk asof ’n kwas vol rooi verf daar rondgeswaai is.
Die ambulans en buurtwag het opgedaag en die paramedici het probeer om die bloeding stop te sit. Hulle wou ’n naald binneaars in haar plaas, maar al haar are het platgeval.
Van iewers af het ’n vreemde man daar opgedaag en gevra of hy vir haar kon bid. En nadat hy gebid het, kon die noodhelpers ’n aar vind en die nodige doen.
Hulle is hospitaal toe, maar daar was geen plastiese chirurg beskikbaar wat aan Karin se gesig kon werk nie. Sy wou nie met haar oop wonde wag tot die volgende oggend nie omdat sy bang was vir infeksie. Die trauma-dokter het egter baie goeie werk gedoen en die diep sny in haar wang het ’n kuiltjie geword.
Sy sê sy dink onwillekeurig daaraan hoe God uit die lelik iets moois kan voortbring. En wanneer sy vandag glimlag, is die kuiltjie duidelik sigbaar.
’n Boodskap van God
Ná die voorval het Karin aan erge posttraumatiese stres gely. “Ek was bang vir oop ruimtes; ek was bang vir alleen wees.”
Sy is twee keer in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem.
“Op ’n dag is ek en Dewald na ’n ‘bevrydingskamp’ genooi,” vertel sy. “Daar het die Here my begin genees. Ons het geleer wat geestelik met ’n mens gebeur wanneer jy sulke trauma deurmaak, en hoe die vyand steel en vernietig. Ná die kamp kon ons terug trek na ons huis toe, daar waar alles gebeur het.”
Karin gebruik nie meer medikasie vir angs nie. “Ek ervaar nou God se vrede en beskerming.”
Sy vertel: “Daar was ook twee ander insidente wat my gehelp het op my pad na genesing. Nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, het ’n familielid, Yolande de Beer, wat ’n mooi verhouding met God het, my gebel met ’n boodskap van Hom. Ek het onmiddellik yskoud geword toe sy dit sê, en die vyand het my laat voel asof ek iets verkeerds gedoen het. Ek het gevra: ‘Kan God praat? Hoe het Hy geklink? Was dit ’n mans- of ’n vrouestem?’
“Yolande het my verseker dat dit nie nodig is om bang te wees nie.”
Daarop het Yolande vertel dat sy by die huis was en haar naam gehoor het. Sy het na haar man gekyk en gevra wat hy wou hê, maar hy het gesê dat hy nie met haar gepraat het nie.
Sy was uit die veld geslaan en het na haar slaapkamer toe gegaan. Nadat sy die deur agter haar toegemaak het, was die stem hard en duidelik. Dit het die hele vertrek gevul. Daar was ’n boodskap wat aan Karin gerig was: “Dit wat gebeur het, sal ’n keerpunt in jou lewe wees. Jy is nie dood nie omdat Ek jou gered het. Jou getuienis sal tot gevolg hê dat mense My leer ken. Onthou dat die duiwel kragtig is, maar dat God baie kragtiger is.”
Karin vertel: “Net daarna het my foon weer gelui. Dit was die predikant wat gesê het dat hy ’n teksvers het wat swaar op sy hart druk en wat hy met my moes deel.
“Ek het nog altyd gewonder waarom die aanvaller so skielik die aanval gestaak het, en in Deuteronomium 33:27 het ek my antwoord gekry. Dié vers lui só: ‘In die hemel van hemele is die blyplek van God van ewigheid af, en benede skep Hy die mens. Hy sal die vyand voor jou uit vernietig, want Hy het gesê: Vernietig!’”
’n Nuwe begin
Karin en haar gesin het ’n heel nuwe lewenswyse aangeneem en hulle is gedoop. Sy vertel: “Ek het opgehou om te drink en te rook, en ons stap nou ’n pad met die Here.”
Sy het ook ’n berader geword wat by dieselfde kamp optree waar hulle genesing gevind het.
In Januarie 2019 het Karin weer begin skoolhou. “Ek het ’n Kids for Jesus-bediening by my skool op die been gebring,” vertel sy. “Ons het met tien kinders begin, en vandag is daar ongeveer 80 wat deel van die bediening is.
“Ek het, danksy God se genade, verander. Ek het ’n keuse gemaak. Nie almal kry ’n tweede kans nie.
“En vergifnis is ’n keuse, nie ’n gevoel nie. Kies Jesus! Moenie jou hart verander vir die mense van die wêreld nie; verander die mense van die wêreld met jou hart.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.