Dis ’n groot skok as jy met ’n chroniese siekte gediagnoseer word. Wat nou? En wat hou die toekoms in?
Ongeveer een miljoen mense in ons land ly aan diabetes. Dis ’n ongeneeeslike siekte. Daarom moet jy daarmee vrede maak. Jy moet leer hoe om dit te bestuur. En dít is nie so eenvoudig nie. Tog sê die drie vroue met wie LiG gepraat het dat die lewe met diabetes goed is. Hulle vertel wat vir hulle die ergste van hul diagnose was en hoe hulle dit hanteer.
‘Almal mag … behalwe ek’
Katinka (48), in 2019 gediagnoseer
Die heel ergste vir my was om die gevoel te oorwin dat ek dinge misloop. Dit het vir my gevoel almal mag … behalwe ek. Almal mag nagereg eet, behalwe ek. Almal mag, sonder om twee keer te dink, nog ’n glasie wyn drink, behalwe ek. Almal mag KFC bestel, met tjips, én ’n melkskommel. Behalwe ek.
Ek was kwaad en opstandig, en veral jaloers op al die ander se vryheid.
Toe begin ek om na ander mense se stories te luister. Die vriende met die cholesterolprobleme, wat nie kan eet wat hulle wil nie; die vriendin met PSOS, wat haar lewe lank baie versigtig moet eet en báie hard moet oefen om haar gewig binne perke te hou.
Goed, het ek besef, ek is nie alleen nie. Eintlik, dink ek, was ek net gewoond aan eet-sonder-om-te-dink. Ander mense oorwin sulke dinge; dit hoef nie mý baas te wees nie.
Daarom het ek besluit dit sal voortaan slegs ’n klein deel van my lewe wees. Amper soos ’n huislening: Jy weet daarvan en jy beplan daarvoor en jy betaal die paaiement, maar jy dink nie deurentyd daaraan nie. Dit definieer jou beslis nie.
‘Só maak ek dit beter’
Ek is ’n senior finansiële beampte en ek hou van syfers en grafieke. Daarom het ek my bloedsuikervlak fanaties begin monitor. Ek het dit ’n hele projek gemaak: tabelle van alles wat ek eet, en die bloedsuikervlak net voor ek eet én twee uur ná die ete.
Wat gebeur as ek ’n appel eet? En ’n groot aartappel, teenoor ’n kleintjie met ’n bietjie botter? Wat gebeur as ek saans ’n groot maaltyd geniet?
Ek het ook die koolhidraatwaardes van verskillende kossoorte leer ken, en vasgestel ek kan dit verdeel in: HOOG – wat ek liefs moet vermy, of slegs ’n klein porsie mag eet; MEDIUM – waarvan ek mag eet, maar soms slegs in klein hoeveelhede; LAAG – waarmee ek geen probleme het nie.
Ná drie maande van dié soort boekhouding het ek vir my ’n lekker eetpatroon uitgewerk. Nou kuier en eet ek uit saam met vriende sonder om te wroeg.
Ek kies wat ek op my bord toelaat en drink borrelwater in plaas van iets wat alkohol bevat.
Ek stap vir oefening, en ek gebruik my medikasie getrou. Ek loop nooit my gereelde mediese ondersoeke mis nie.
Dis nou vyf jaar later en my bloedsuiker bly egalig, en ek hoef nie insulien te gebruik nie. Die diabetes is so goed onder beheer dat ek aan myself dink as iemand wat bloot gesond leef, eerder as ’n siek mens.
En ek is so deel van alles soos wat ek altyd was.
‘Ek is bang ek word blind’
Elmien (62), in 2021 gediagnoseer
My pa het weens diabetes die gevoel in sy voete verloor en kon later nie meer loop nie. Hy was ook humeurig, en hy moes ’n bril dra met dik, dik lense. Toe hy 70 was, was hy feitlik heeltemal blind. En blindwees bly my grootste vrees.
Nadat ek met diabetes gediagnoseer is, het ek doodgewoon aanvaar dat ek ook blind sal word. Gelukkig het ek by ’n dokter beland wat my gou gerusgestel het. “Jou kans om oogprobleme op te doen, is groter as by ander mense,” het sy gesê, “maar die diabetes is taamlik vroeg opgespoor. As jy voortaan alles reg doen, is daar ’n baie goeie kans dat ons verdere komplikasies kan voorkom.”
Sy het wel verduidelik dis eintlik onmoontlik dat jou sig sal herstel as jy dit eers verloor het. Jy moet die diabetes dus goed beheer. Dit was goeie nuus.
‘Só maak ek dit beter’
Ek is fanaties oor my oë se welstand. Ek besoek elke jaar ’n oogspesialis vir ’n diabetiese oogondersoek; dis meer spesifiek as ’n gewone oogtoets.
Die oftalmoloog sê ek moet dadelik spreekkamer toe kom as my sig skielik begin verswak.
Hy het ook verduidelik dat my sig “vaag” kan raak wanneer my bloedsuikervlak hoog is. As ek soms selfs net ’n bietjie slegter en dan weer beter sien, word die kans op latere blindheid baie groter. Daarom, sê hy, is dit net so belangrik om my bloedsuikervlakke reg te hou as om vir ’n oogtoets aan te meld.
Goeie diabetesbeheer help ook dat ek die gevoel in my voete behou en oor twintig jaar steeds self oor die weg kan kom. Daarom hou ek baie streng by my dieet, en ek gebruik al my medisyne en aanvullers presies soos ek moet.
Ek weet niks kan my sig waarborg nie, maar die moontlikheid dat ek met my aangepaste leefwyse en eetgewoontes dit wel kan vertraag of selfs heeltemal vermy, maak al die opofferings die moeite werd.
‘Ek haat my medikasie’
Elizma (46), in 2023 gediagnoseer
Elke dag as ek my medikasie gebruik, voel ek so rebels soos ’n tiener. Ek wil dit nie hê nie! Punt.
Ek besef ek sê eintlik ek wens ek het nie diabetes nie. Ja, ek pas nog aan. Ek dink jy moet jou darem ook die geleentheid gun om alles te verwerk.
Veral tydens die eerste paar maande ná die diagnose was ek oorbewus van alles wat ek nié mag doen nie. Ek was deurentyd gestres en het my knaend afgevra: Het ek nou reg geëet? Is my bloedsuiker oukei?
En wat van my huismense? Hoe raak dit hulle? My man en kinders moet tog kan aangaan met hul lewe sonder dat Ma se ellende hulle terughou. Veral my middelkind vra gereeld: “Is Ma nog reg?”
Boonop hoor ek toe van diabetes en seksuele disfunksie, en ek raak bekommerd oor my huwelik …
Tot so ’n maand ná die diagnose was ek behoorlik platgeslaan. Alles was net eenvoudig te veel; dit het gevoel asof ek net sowel kan opgee, en oorgee. En my lewe voortsit asof daar geen diagnose was nie.
Die dokter het aanbeveel dat ek ’n afspraak by ’n sielkundige maak, of ’n lewensafrigter. Ek het op laasgenoemde besluit en ek is baie bly ek het dit gedoen. Dit was ’n groot verligting om iemand te leer ken wat my kon help om al die aanpassings stelselmatig te verwerk.
‘Só maak ek dit beter’
Ek het darem nou my selfverwyt laat staan. Ek besef ek is tien kilogram oorgewig – en ek het intussen ook geleer dat daar mense is met baie erger gewigsprobleme en baie slegter eetgewoontes wat nié diabete is nie. Diabetes is dus nie my straf omdat ek voorheen so ongesond geëet het nie.
Ek verstaan ook nou die impak van diabetes op my werk, op die manier waarop ek inkopies doen, en hoe ek in die algemeen leef.
Maar ek besef ook hoeveel beheer ek wel oor alles het.
My gesin is baie belangrik, en daarom fokus ek deesdae veral daarop om my man en kinders gerus te stel. En om goed te voel oor myself.
Ek bring elke week ’n tydjie alleen deur saam met elke kind. Ons gaan eet iewers of doen iets saam, sodat elkeen kan sien ek is steeds hul mamma, soos altyd.
Ek lees op oor seks en diabetes sodat dit nie my verhouding met my man seermaak nie.
Ek verstaan dat hoe beter ek die diabetes hanteer – reg eet én my medikasie reg gebruik – hoe beter dit vir my en my gesin sal wees.
Ek is wel nog nie heeltemal “daar” nie, maar ek voel reeds baie beter. Dis goed om te voel ek kán oor hierdie bult kom. Dat dit slegs ’n bult is en nie ’n berg nie.
- Salomé Delport is ’n gesoute joernalis wat gek is daarna om oor gesondheid te skryf, omdat niemand superfiks of modelskraal hoef te wees om gesond te leef nie. Gesondheid fassineer haar, omdat daar altyd iets nuuts is, altyd meer om uit te vind, en altyd interessante perspektiewe is om op ’n maklike manier gesond te bly. Kontak haar by delportsalome@gmail.com, of 084 290 8054.