Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek is ’n alkoholis, maar die Here het ’n saak met my,’ sê Jaaco Rademeyer

“Ek het hom saggies hoor lees: ‘Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.’

Ek wou my oë rol, want in daardie stadium was ek só kwaad. Kwaad vir die wêreld. Kwaad vir die Here. Hoe kon Hy toelaat dat ek hier beland!”

Daardie dag is in Jaaco Rademeyer se geheue ingebrand – 2 Februarie 2009. Hy het pas by die Kenilworth-rehabilitasiesentrum aangemeld. Een van sy nuwe kamermaats het saggies uit die Bybel gelees. Daardie kamer sou die volgende klompie weke sy tuiste wees.

Met dié foto het Jaaco op 2 Februarie vanjaar sy 14 jaar sonder alkohol op sosiale media gevier. “Ek voel die Here wil my getuienis gebruik. As ek net één mens kan help, sal dit die moeite werd wees. Dis ’n moeilike pad, maar dis ’n bevrydende pad. As ék dit kon doen, kan enigiemand dit regkry. Daar is hulp. Daar is áltyd hoop.” Foto: Facebook

Dit is 14 (sober) jare later toe dié 40-jarige entrepreneur en eiendomsagentskap-eienaar op ’n snikhete dag in Stellenbosch by Lanzerac Deli instap. Hy vertel hy is genadiglik deel van die 1% wat, volgens die beskikbare statistiek, ná die eerste rehabilitasie-sessie sober gebly het.

LEES OOK: ‘Ek het nooit gedink ek sou dié prys betaal nie’

Jaaco het onlangs die sewe kosbare lesse wat hy die afgelope jare geleer het op sy Instagramrekening geplaas. Sy grootste les? Die Here hét ’n saak met my!

‘Ek het soos ’n rockster geleef’

Jaaco dink terug aan waar alles skeefgeloop het. Die een oomblik was hy ’n regstudent met sakgeld, ’n jong man vir wie goeie punte veel belangriker as partytjie hou was. Hy het vir sy klerkskap by ’n regsfirma in Gqberha (toe nog Port Elizabeth), sy grootwordplek, aansoek gedoen.

Maar toe sy ontwikkelaar-pa hom vra om te help met die verkoop van ’n ontwikkeling (“vir ekstra sakgeld”) het sake ’n nuwe wending geneem. Dit het só goed gegaan dat hy sy eie eiendomsagentskap van stapel gestuur het terwyl hy nog met sy klerkskap besig was. Hy het boonop, as Stellenbosse student, een Septembervakansie ’n kursus voltooi wat jou toelaat om eiendomme te verkoop.

Hiermee het sy leefwyse heeltemal verander: “Ek het soos ’n rock star begin leef. Dinge het té vinnig té goed gegaan. My naam was op almal se lippe. Die prokureurs wil jou werk hê; al die banke wil jou werk hê. Mense neem jou uit vir ete.

“En dis net alkohol, alkohol, alkohol. Ek neem niemand kwalik nie; alles wat met my gebeur het, was deur my eie toedoen. Ek het ook my verhouding met die Here langs die pad verloor.”

Die skuldgevoelens het hom gerý. “Daai skuldgevoel as jy elke oggend wakker word … Jy dink dadelik: Wat het ek nou weer gedoen of gesê? Wie is vandag kwaad vir my?

\’n Vrolike 2022-Kersfees saam met sy ouers Betsie en Pieter. Hy is ongelooflik dankbaar vir sulke ondersteunende ouers, vertel hy. Foto verskaf

“My ma drink glad nie, en ek het nog nooit my pa dronk gesien nie. My oupa was die stad se burgemeester. En hier kom ek, die swartskaap in die familie wat karre rol en deur mure ry.”

Die eerste les

Die groot keerpunt was sy sussie se troue. Ilzé is in Desember 2008 op die Overbergse dorpie Greyton in die Wes-Kaap getroud. Maar die troukoek en die poedingtafel het nie Jaaco se manewales oorleef nie.

Jaaco saam met sy twee sussies Ilzé (links) en Karien (regs) en tweelingbroer Pieter. Foto verskaf

“Vandag lag ons familie daaroor. Maar dit moes verskriklik erg vir my sussie gewees het. Om te dink dat ek so iets op haar spesiale dag aangevang het … Te midde van al die skandes het my pa my swaer gevra om my daar weg te neem.”

Ná die petalje was Jaaco bitter skaam. Toe sy oudste suster Karien hom oorreed om na ’n rehabilitasiesentrum te gaan sodat die kundiges daar hom kon assesseer, het hy egter eers weer ’n ontkenningsfase beleef. Hy het die familie laat verstaan dat hy sélf sal besluit om drank te los.

Twee weke later het hy egter aan sy pa erken hy moet hulp kry; hy kon nie self drank los nie. Dit het die les geword wat hy heel eerste moes leer: “Natuurlik kan ’n mens alkohol verantwoordelik geniet; ék kon nooit.”

Nadat Jaaco die nodige reëlings by sy onderneming getref het, is hy Kaap toe. Op pad na die sentrum, vertel hy, het die ergste paniekaanval denkbaar hom oorval. “My sussie het gedink ek wil by die kar uitspring omdat ek nie meer wou gaan nie. En eintlik wou ek net vars lug skep; ek het gedink ek kry ’n hartaanval!”

Maar, onthou Jaaco, hy was uiteindelik kalm toe hy daar instap. Gewapen met ’n wilsbesluit dat hy sy volle samewerking sal gee.

‘Ek is ’n alkoholis’

Wanneer hy oor die rehabilitasieproses praat, moet hy die trane wegsluk. Hoewel hy gewillig daar ingegaan het, was dit nie noodwendig die geval by die meeste van sy medeverslaafdes nie. Jaaco skets ’n traumatiese prentjie van mense wat steeds onder die invloed daar aankom, wat skree, wat baklei met die familielede wat hulle gebring het.

Ook die proses self was uitdagend, onthou hy. “Ek moes vir die eerste keer in my lewe ’n kamer met ander deel. Jou foon word afgeneem, jou geld, ander persoonlike besittings. Die eerste tien dae het jy geen kontak met die buitewêreld nie. Jou urine word getoets.

“Ek wou aanvanklik almal daar saam met my oordeel. Ek het die hele tyd gedink: ‘Ek is nie ’n régte alkoholis nie.’”

Hy onthou hoe moeilik die groepsessies was. Hoe swaar dit was om te sê: “Ek is Jaaco Rademeyer en ek is ’n alkoholis.” Dit was nóg moeiliker om dit die eerste keer voor sy familie – sy ouers, sy tweelingboetie en twee susters – te sê tydens die familiedag sowat ’n week voordat die proses ten einde sou loop.

Hy onthou hoe sy ma haar kop geskud het toe hy homself voor almal ’n alkoholis noem. Jaaco sê hy vermoed dit was haar moederlike instink wat haar só laat optree het; sy wou hom beskerm. Maar sy berader het haar só geantwoord: “Jou seun is presies dit. Hy lê net met sy pak klere in die sloot.”

Volgens Jaaco is die les wat die Rademeyers moes leer dat verslawing geen ras, klas of ouderdom ken nie.

Elke oggend ’n beginner

Sy geliefde pa het hom die dag met sy ontslag kom haal en hom glimlaggend by die ontvangstoonbank ingewag. Jaaco vertel: “By die toonbank het ek die nodige vorms ingevul – en my pa het die rekening vereffen. Ek kon nie my trane keer nie. Dit was nie oor my pa nie en nie oor die geld nie. Dit was die gebaar, die stille getuienis dat in ons huis vergifnis uitgeleef word.”

Terug by die huis was Jaaco nie seker dat sy vriende so vergewensgesind soos sy familie sou wees nie. “Buitendien was ek skaam oor die alkoholis-etiket. Ek het gedink my lewe is verby, dat ek nie meer vriende sou hê nie. Ek was immers altyd die partytjiedier …

“Eensklaps het ek ook nie geweet wat om met my hande aan te vang nie. Dit het gevoel die mense sit en wag om te sien of ek gaan ingee en weer begin drink.”

Maar met ystee of ’n Coke Zero in die hand het Jaaco mettertyd geleer wie sy ware vriende is wat hom in sy besluit ondersteun. Hy het ook partytjie hou vir toewyding aan sy onderneming verruil, en in 2010 is hy as eiendomsagent van die jaar gekroon.

Pla dié “droë” bestaan hom nie meer nie?

Hy antwoord: “Ná so twee jaar het ‘geen alkohol’ vir my soos fietsry geword. Dit kom vanself.”

Nee, dit pla hom nie meer nie – hoewel hy élke oggend een van sy sewe lesse herhaal: “Ek is elke oggend ’n beginner. Ek sê vir myself in die stort: ‘Jaaco, vandag gaan jy nie drink nie.’”

‘As ek net één mens kan help …’

“Kyk, alkoholverslawing ís moeilik. Want alkoholgebruik is sosiaal aanvaarbaar. Wanneer ek ’n drankie weier, sê mense baiekeer vir my: ‘Ag, man, enetjie sal nie ’n verskil maak nie.’ Of: ‘Net ’n alkoholis drink niks nie.’

“Wanneer ek dan sê dat ek ’n gerehabiliteerde alkoholis is, is hulle verbaas.”

Vandag is Jaaco weer vol pret by elke partytjie. “Ek het onlangs by ’n vriendin se 40ste tot tweeuur die oggend gekuier, sonder ’n druppel drank. En as ek die volgende oggend sleg voel, is dit omdat ek moeg is,” lag hy.

“Ek voel die Here wil my getuienis gebruik. As ek net één mens kan help, sal dit die moeite werd wees. Dis ’n moeilike pad, maar dis ’n bevrydende pad. As ék dit kon doen, kan enigiemand dit regkry. Daar is hulp. Daar is áltyd hoop.”

  • Stuur jou storie van hoop na conette@tydskrifte.co.za en voeg ’n paar foto\’s ter illustrasie by.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF