Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Ek is nie sterker nie, maar nie meer bang vir klein dingetjies nie,’ vertel jong vrou ná borskankerstryd

DEUR LENÉ HECK

Ek was 29 toe ek met borskanker gediagnoseer is nadat ek ’n knop in my regterbors gevoel het. Ek was ’n jong ma met twee kinders. Hulle was toe onderskeidelik vyf en drie jaar oud.

LEES OOK: ‘Jy is Jesus se skapie, Hy sal jou oppas,’ sê tienjarige kankerlyer aan ander kinderkankerpasiënte

Ek, álmal, het aanvanklik gedink die knop is niks om oor bekommerd te wees nie. Dis immers die norm om in sulke tye te sê: “Nee, man, moenie worry nie, dis melkkliere!” Of dis ’n fibroadinoom, oftewel ’n beweeglike knop wat gewoonlik nie kankeragtig is nie.

“Ek is dankbaar vir alles wat ons bereik, en alles wat ek saam met my gesin en my kinders kan beleef. Hulle is die rede waarom ek wil lewe. Ek het geleer dat alles tydelik is en dat niks as vanselfsprekend aanvaar moet word nie,” vertel Lené. Hier is sy saam met haar man Jean Pierre en hulle kinders Vaughan (7) en Livé (5). Foto verskaf

Ek is nie ’n mens wat sommer dokter toe gaan nie, maar ek noem dit vir ons huisdokter en hy oorreed my om ’n afspraak te maak vir ’n sonar-ondersoek. Die persoon wat die sonar gedoen het, het vir my gesê dit lyk na ’n fibroadinoom. Maar dat sy die sonar na die dokter se spreekkamer sou stuur vir sy mening.

Drie maande het verloop en ek het niks gehoor nie. Ek het aanvaar alles is reg – behalwe dat die knop intussen merkbaar vergroot het. Ek kon dit duidelik voel.

Op ’n dag breek my seuntjie sy arm by die skool. My man het hom dokter toe geneem, en die dokter vra toe uit oor die sonar. My man was verbaas en het gesê hy wat die dokter is moet tog die uitslae by hóm hê. Waarop die dokter sê dat hy dit nooit ontvang het nie. Maar hy onderneem toe dat hy dit dadelik sal aanvra.

Die onmiddellike gevolg was dat ek na ’n chirurg verwys is vir ’n biopsie. Ek was platgeslaan. Hoe dan nou?

\’n Spesiale fotosessie saam met haar gesin sedert Lené herstel het van \’n dubbele mastektomie en chemobehandeling. Foto verskaf

Op 8 Februarie 2021 is die biopsie gedoen. Op 12 Februarie moes ek hoor dat ek ’n baie aggressiewe soort borskanker het, en dat my limfkliere ook vergroot is. Daar, in die dokter se spreekkamer, het ek soos ’n kind gehuil. Ek het net een ding gesê: “Wat van my kinders?” Dis ál waaraan ek kon dink. Hulle kan tog nie sonder ’n ma grootword nie …

‘My stryd teen die Trippel-C’

Daardie einste dag is ek hospitaal toe gestuur, en dit het gevoel asof honderd toetse gedoen is. Ek moes dadelik vir “onkologie” op my hospitaalplan registreer.

Op 5 Maart is ’n bilaterale mastektomie op my uitgevoer. Dit was die seerste seer, en ek was bitter kwaad vir die wêreld. Ek was ook kwaad vir God. Ek was toe ’n vrou van 29 met twee klein kindertjies, en met my eie sakeondernemings. Ek het nie geweet waarheen om te hardloop nie. Die pad voor my was donker.

Vyf weke ná die mastektomie is daar met chemoterapie begin. Dit sou byna 18 maande lank duur. Die “rooi duiwel” het sy naam gestand gedoen. Dit was Covid-19-tyd, ons was ingeperk. En ons, die kankervegters, het alleen en afgesonder daar in die koue vertrek gesit, elk met ’n masker en ’n beanie en ’n klein bietjie hoop. Baie van daardie mense lewe vandag nie meer nie.

My lyf was besig om dood te gaan van al die chemiese middels, en ek kon nie meer veg nie. Ek het my hare verloor. Dit was bitter erg. Alles wat ’n vrou mooi maak, het ek verloor. Ek kon later nie meer vir myself in die spieël kyk nie. Ek was swak en lelik en moeg. Ek noem dit “my stryd teen die Trippel-C – covid, cancer and chemo”.

Nogtans het ek elke dag opgestaan en probeer oukei lyk – vir my kinders, my man en my kliënte. Ja, ek het te midde van alles voortgegaan om te werk. Ek weet nou dat as dit nie daarvoor was nie, ek van depressie sou doodgaan.

‘Ek is nie meer bang nie’

Vandag is ek 32 jaar oud en my kinders is nou amper ses en agt. Kanker volg jou maar altyd. Dis soos iemand wat ’n geweer teen jou kop hou en jy nie weet wanneer die sneller getrek gaan word nie. Mense met kanker leef van scan tot scan

 

Ek het intussen nie juis sterker geword nie, maar ek is beslis nie meer bang vir klein dingetjies nie. Ek is dankbaar vir alles wat ons bereik, en alles wat ek saam met my gesin en my kinders kan beleef. Hulle is die rede waarom ek wil lewe. Ek het geleer dat alles tydelik is en dat niks as vanselfsprekend aanvaar moet word nie.

My raad

Vroue beskik oor daardie spreekwoordelike ekstra sintuig, wat beteken dat as jy weet iets is nie pluis nie, jy die nodige moet doen om seker te maak. Ongeag wat ’n mediese kundige of enige iemand anders se mening is. Kyk na jouself, want niemand anders kan dit so goed soos jy doen nie. En jy weet tog dat niemand jou kinders so lief kan hê soos wat jy hulle het nie.

Ek het besluit om my storie te vertel, met die verwagting dat dit hoop sal bring aan vroue wat dieselfde stryd as ek moet deurmaak. Ek wil hê hulle moet weet hulle is nie alleen nie.

Vroue is wonderlike, sterk mense. Maar ons het ’n ondersteuningsnetwerk nodig. ’n Plek waar ons nie net sterk hoef te wees nie. Waar dit oukei is om nie oukei te wees nie.

En jy moet wíl gesond word. Só kragtig is jou kop.

  • Lené Heck is ’n 32-jarige grimeerkunstenaar en eienaar van Opgedollie en Poppie in Brackenfell, Kaapstad. Sy en haar man Jean Pierre is die ouers van Vaughan (7) en Livé (5).

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.