Ek het ’n belofte aan die Here gemaak dat ek sal getuig oor die groot genade wat ons gesin ontvang het, die wonderwerke wat ons beleef het. Ons woon in Sasolburg, en op 28 April vanjaar was ons in ’n baie groot motorongeluk betrokke. Wat daarna gebeur het, kan slegs beskryf word as die moeilikste tyd in elkeen van ons se lewe.
Ek en my man Henro, skoolhoof by Laerskool Vaalrivier, het ons drie seuns by die skool opgelaai. Ek was vir die eerste keer in ’n lang tyd met verlof.
Daarna is Henro, Juan (9) en Handrè (6) Vereeniging toe om sy bakkie te kry wat die oggend gediens is. Ek en Sion (2) het by die huis gebly en ons twee het ’n middagslapie geniet. Nadat Henro en die twee oudstes terug by die huis was, wou hy ’n voerplek gaan maak vir die volgende dag se visvang saam met die seuns.
LEES OOK:#2 ‘Die hardste woorde wat ek nog ooit moes aanhoor’
Ek was lekker lui ná die middagslapie en regtig nie lus om saam te ry nie, maar Henro was baie opgewonde oor die volgende dag se visvang. Hy het gesê ons almal moet gaan, hy sal gou klaar wees.
Dit was spitstyd en die verkeer was swaar. Henro het by ’n kruising gestop. Hy het weer weggetrek – en ons hele lewe het in ’n oogwink verander.
Vol bloed
Ek onthou ek het opgekyk en gesien hoe die insittendes van ’n ander bakkie as ’t ware terugrem net voordat hulle ons met ’n groot slag tref. Die oomblik toe ons bakkie tot stilstand kom, het Henro gevra of ek oukei is. Ja, het ek gesê. Maar Sion, wat op my skoot gesit het, was bewusteloos. Ek het aan hom geskud en hy het sy ogies oopgemaak.
Ek het gevra Henro moet asseblief kyk of Juan en Handrè oukei is. Henro het uitgeklim en gesê hy het vir Juan, maar hy kan Handrè nêrens kry nie. Juan was bewusteloos, maar hy het bygekom toe Henro met hom praat en vir hom sê hy moet net stil lê.
’n Vreemde man het na my toe gekom en gesê ek moet by Henro se kant uitklim omdat my deur nie kon oopmaak nie. Dié man het Sion by my aangevat en my uit die bakkie gehelp. Ek het iets by Sion se mondjie gesien wat ek gedink het bloed is, maar die man het gekyk en gesê dis ’n stuk lekkergoed wat hy besig was om te eet en wat steeds in sy mond is.
Sion was so tussen wakker en nie-wakker-nie. Ek het Juan langs die bakkie sien lê en hy kon met my praat.
Intussen het Henro vir Handrè opgespoor. Ek het gesien hoe staan hy met die kind in sy arms. Henro se hemp was vol bloed. Ek wou na hulle toe gaan, maar Henro het sy kop geskud. Hy het bly wegloop sodat ek Handrè nie kon sien nie.
’n Erge pyn het skielik deur my hele lyf geskiet en ek het op my knieë gesak, Sion steeds in my arms. Ek het begin huil en gepleit dat iemand asseblief die kinders moet help.
Die impak van die botsing het die bakkie se kappie afgeruk. Juan en Handrè is albei uit die bakkie geslinger. Ek het heelwat later eers gehoor dat Handrè tussen 10 en 12 meter verder te lande gekom het, en dit was waarom Henro hom nie dadelik kon kry nie.
Ek het my pa-hulle gebel om te sê dat ons in ’n groot ongeluk was en dat Handrè baie seergekry het, maar dat ons ander redelik oukei is.
Ek moet eers dit byvoeg: Juan en Sion ly albei aan ernstige hemofilie A. Dis ’n chroniese toestand en het tot gevolg dat hul liggaam nie genoeg van die sogenaamde Faktor VIII vervaardig wat met bloedstolling help nie. Sodra hulle ’n besering opdoen, moet hulle Faktor VIII binneaars ontvang om die bloed te help stol.
Toe my pa van die ongeluk hoor, het hy dadelik gekom en Faktor VIII saamgebring.
‘Dit was ’n totale chaos’
Ek kan nie onthou hoe ek in die ambulans gekom het nie. Ek het gesien hoe die personeel in die ambulans met Sion begin werk. Handrè is ingebring en ek kon hom die eerste keer sien.
Ek onthou Handrè – ons noem hom Vinkie – het “nee, moenie!” gesê en hom teëgesit. Ek het vir hom gesê hy moet rustig wees, die mense gaan hom help. Sy gesig was reeds skoongemaak; hy het ’n groot sny daar gehad, van sy oog tot in die middel van sy kop. Hulle het die vel teruggevou en begin om verbande om sy kop te draai.
Juan het by die ambulans se trap gelê en geskree hulle moet asseblief help dat sy boetie nie doodgaan nie. Ek het ’n oomblik lank gekyk of Sion weer by sy positiewe was – en toe ek terugkyk, was Juan en Handrè skoonveld.
Ek het weer begin huil. Ek kon hulle nie groet nie, ek kon nie sê “Mamma is so lief vir jou” nie. Dit was ’n totale chaos. Alles wat deur jou kop gaan …
Ek onthou my pa het by die ambulans ingeloer en sy gesig was vertrek van die hartseer. My ma Mariana het saam met my in die ambulans gery en vir Sion vasgehou toe hulle met my begin werk het.
Ek het eers ná die tyd besef hoe erg dit vir ons mense moes wees. Alles was so buite beheer, so volledig uit ons hande.
Die ambulans het ons na Emfuleni Mediclinic in Vanderbijlpark geneem. Hulle het vir my gesê Handrè word Alberton toe gevlieg.
Die engele om ons
Ons het almal CT-skanderings ondergaan. Ek het verplaaste ribfrakture opgedoen, en bloeding in my long. Verskeie van Juan se nek- en rugwerwels is gekraak.
LEES OOK:#3 ‘Gebede tel ons op en dra ons in die lang pad wat voorlê’
Daar is aanvanklik gedink dat Sion ongedeerd is, maar hy is toe weer die Vrydag opgeneem. Daar is vasgestel dat hy ’n klein fraktuur en ’n bietjie bloeding op sy skedel het. Die dokter het bepaal hoeveel Faktor VIII die twee seuns moes ontvang. Dit was net God se genade dat Sion en Juan nie erger seergekry het nie, want met die hemofilie sou enige ernstiger beserings baie meer komplikasies meegebring het.
Die ambulanspersoneel was soos engele. Hulle het ons nie net afgelaai en gelos nie; hulle het vertoef en probeer om die jongste nuus oor Henro en Handrè te kry.
My pa-hulle het Henro hospitaal toe gebring. Hy was by Handrè totdat hulle hom in die lugambulans gelaai het. Hulle het vir my gesê dat ouboet Pieter op pad is van Kempton Park om Handrè by die hospitaal te kry en by hom te wees.
Kort daarna het my pa kom sê dat hulle ook na Handrè toe gaan, en dat hulle dan self vir my sal kom sê hoe dit met hom gaan.
Ek het nie in daardie stadium geweet dat Pieter hulle toe reeds gebel het met die nuus dat, volgens die dokter, die helfte van Handrè se brein “dood” is nie. My ouboet was ook in ’n erge emosionele toestand.
My pa-hulle het dus ook vir Pieter gaan ondersteun. En hulle is by die huis weg, sterk onder die indruk dat die dokters niks meer vir Handrè kon doen nie.
Intussen het ’n tweede dokter Handrè ondersoek en vasgestel dat sy brein nie “dood” is nie, en hulle het begin om hom vir die teater voor te berei. My pa-hulle kon toe wel vir Handrè te siene kry, en my ma het vir hom gebid.
Die hande op my voorkop
Die chirurg wat aan diens was, het my besoek. Die susters was reeds besig met voorbereidings vir die dreineringspyp wat gebruik sou word om die bloed uit my long te dreineer. Ek was so bang …
Die dokter het na die skanderings gekyk en besluit dat hulle eers verdere X-strale in die intensiewesorgeenheid sou neem, en die dreineringspyp in die teater sou insit indien dit steeds nodig sou wees.
Ek onthou ek het die gevoel gekry dat daar hande op my voorkop gelê word. Ek het ook geweet die stut, wat steeds om my nek en kop was, het dit nie regtig moontlik gemaak om ’n hand op my voorkop te plaas nie. Maar ’n oomblik lank was daar ’n rustigheid wat oor my gespoel het, en ek het geweet die Here is by ons.
‘Kritiek, maar stabiel’
Juan het in ’n ander kamer in die ongevalle-afdeling gelê. Die ambulanspersoneel het gesê dat die hospitaal magtiging probeer verkry om hom ook per lugambulans te vervoer sodra daar vir hom ’n pediatriese bed in die intensiewesorgeenheid beskikbaar is. Hulle het gesê dat hulle my in die ongevalle-afdeling sal hou totdat Juan moes vlieg, sodat ek hom kan groet.
Daardie Vrydagoggend, so teen halfvier, het hulle my uiteindelik kom haal om Juan te groet. Ons het langs mekaar gelê, maar kon mekaar nie sien nie. Ek en hy het steeds die nekstut aangehad wat dit vir ons onmoontlik gemaak het om ons kop te draai; ek kon wel Juan se hand vashou.
Ek was baie emosioneel, maar ek wou sterk wees vir Juan se onthalwe. Hy was bang, maar só dapper. Ek het vir hom gebid, gepleit dat hy rustig sal wees en veilig sal voel. Ek kon vir hom sê dat ek vir hom lief is. Die Netcare-personeel het Juan daarna weggeneem en saam met hom Pretoria toe gevlieg.
Die vrou wat in die ongevalle-afdeling ons bloed getrek het, het by my kom staan. Sy het begin huil. Ek kan nie die gevoel wat ek ervaar het in woorde omskryf nie, en ek het gevra of sy huil omdat sy iets van Handrè weet. Haar antwoord was bloot dat sy jammer voel vir my. Sy het omgedraai en geloop.
Op daardie oomblik was ek daarvan oortuig dat ek Handrè verloor het. Ek was histeries. Niemand het met my kom praat of my probeer gerusstel nie. Dit het gevoel asof ek mal word. Ek het gedink die personeel bly stil omdat hulle niks mag sê nie, en dat die regte persoon nou enige tyd vir my die tyding gaan bring.
Toe bel Pieter, en hy sê Handrè was van twaalfuur af in die teater en dat hy pas daar uitgekom het. Sy toestand was kritiek, maar stabiel. Ek was só verlig, só dankbaar.
‘God het my aangeraak’
In die intensiewesorgeenheid is daar weer X-strale van my longe geneem – en God het my aangeraak. Die bloed in my long was minder, en die dokter het besluit dis nie nodig vir dreinering nie. Ek is uit die intensiewesorgeenheid oorgeplaas na ’n gewone saal.
Die pyn was draaglik wanneer ek nie beweeg het nie, maar ek het báie seer gehad wanneer ek my net roer. Ek het toe nog niks geslaap nie. Dit het gevoel asof my kop bly draai.
Intussen is Sion ook weer opgeneem, met die haarfraktuur en die effense bloeding op sy skedel. Saterdag het die fisioterapeut gekom om my aan die beweeg te probeer kry. Maar ek het so baie gehuil dat sy eintlik niks met my kon uitrig nie.
Sy het ’n rolstoel gaan haal en dit by die kamer se deur laat staan. Sy het gesê as ek tot by die rolstoel kan loop, sy my na Sion in die kindersaal toe sou neem. Die pyn was bitter erg. Maar ek het probeer. Met elke tree wat ek gegee het, het dit gevoel asof ’n elektriese skok deur my hele lyf trek. Die pyn het uit my heup geskiet; die X-strale wat in die ongevalle-afdeling geneem is, het egter niks gewys nie. Maar ek het tot by die rolstoel gestap en die fisioterapeut het my na Sion toe geneem.
Sion was verbaas om my te sien; hy het toe sommer verspot geraak! Hy het my ’n drukkie kom gee en geloop en sing. Dit was weer die besige lyfie wat ek geken het. My hart was rustig en dankbaar; ek kon met my eie oë sien Sion is oukei.
Sion is gou ontslaan. Hy was baie hartseer toe hy my weer moes groet. Hy is saam met sy oupa en ouma, by wie hy sou bly totdat ek ontslaan sou word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.