Ek en my man Roelof is albei onderwysers. Ons al twee kom uit ’n hegte familie en ons is lief vir kinders. Ons grootste droom was om ons eie gesin te hê.
Ons het vas geglo dit sal vinnig gebeur – maar ná ’n jaar wat ek nie kon swanger raak nie moes ek vrugbaarheidsbehandeling kry. En toe dit nie werk nie het ons met in vitro-behandeling begin.
Ons was gelukkig om reeds met die eerste ronde swanger te raak. Dit het onwerklik gevoel, want dit gebeur nie altyd so gou nie.
Die verligting om uiteindelik, ná vyf jaar, swanger te raak was die beste gevoel in die wêreld. Ná baie bid, smeek en pleit by Jesus se voete het ons droom waar geword.
’n Paar weke later vind ons uit dis ’n tweeling. Elke sonar het goed gelyk. Die twee was gesond en het mooi gegroei. Daar was geen aanduiding dat ons bekommerd moes wees nie, en ons was baie opgewonde oor die twee seuntjies wat op pad was.
Dit was heeltemal te vroeg
Een naweek wou ons ’n baba-ekspo in Pretoria bywoon. Die aand voor die tyd het ek met ’n seer rug in die bed geklim en gehoop dat ek die volgende oggend beter sou voel. Daar was ’n láng inkopielys wat saam ekspo toe moes gaan.
Maar daardie nag het my water gebreek. Ek was slegs 20 weke swanger. Dit was heeltemal te vroeg vir ons seuntjies om hul opwagting te maak.
Ons het na die naaste ongevalle-afdeling gejaag. Ek het in kraam gegaan. Al twee ons seuntjies is dood gebore. Ons kon die tweeling – Wessel en Retief – net ’n oomblik vashou en só van hulle afskeid neem. Later het ons hul as in ’n nis by die kerk gaan plaas.
Dit was die seerste seer om met leë arms huis toe te gaan. Die maande daarna was baie erg. Ek het gesukkel, en ek het myself verwyt.
Hoe werk ’n mens deur so ’n verlies?
Almal sê dit moet gou beter gaan; die babas was immers nog klein en “dit was darem nog vroeg”.
Sou ek weer die vyf jaar-pad moes loop om swanger te raak?
Waar God my wou gehad het
Maande later, op die dag van die tweeling se verwagte geboortedatum, bring een van die seuns in my klas vir my ’n pienk blom. ’n Ruk daarna nooi sy mamma my na ’n bidgroep vir vroue wat ’n moeilike tyd deurmaak. Ons ken nie mekaar se onderskeie stories nie, maar almal het gekom om saam te bid.
Dis hier waar God my wou gehad het. Hy het met my gepraat deur een van die vroue. Sy het gesê: “Ek sien jou omring deur baie kinders, en die pragtigste pienk blom in die middel van ’n groot, rooi hart.”
Ek het nie geweet hoe om daaroor te dink nie …
Die volgende jaar het ek weer twee rondes in vitro-bevrugting probeer. Dit het nie gewerk nie.
Ek was moeg en moedeloos. En ek het besluit: Here, as U dan nie wil hê ek moet kinders hê nie, aanvaar ek dit so.
’n Maand ná die laaste mislukte ronde raak ek swanger. Dit was ’n gesonde swangerskap. Ons dogtertjie Karlien is in Desember 2020 gebore. Sy was die pleister op ’n seer hart, ons bondeltjie vreugde.
Karlien was skaars ’n jaar oud toe ek uitvind ek is weer swanger. Dit was ook ’n swangerskap reg uit God se hand, en in September 2022 is Emmah gebore.
Nou, vyf jaar later, wil ek wys dat God se woord vas staan. Ons huis is met twee besige lyfies gevul, met kinderlaggies wat deur die vertrekke weerklink.
Toe ek met die dogtertjies swanger was, het ek swangerskapfoto’s laat neem. Albei kere, heel onbeplan, was dié foto’s tussen pienk bloeisels.
Ek het eers later besef dit was God se woord: Ons dogtertjies is ons twee lenteblomme in die middel van my rooi hart. En ek het besef ek sou die lente nooit so waardeer het as dit nie vir die swaar winter was nie.
- Durethe Oosthuizen (32) en haar man Roelof (34) se liefde vir mekaar het reeds op universiteit geblom. Hulle is in 2014 getroud, en hulle is vandag onderwysers in Polokwane. Hulle het twee dogters: Karlien is nou drie, en Emmah is een jaar oud.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.