Dit gebeur dikwels in ’n huwelik dat die vrou meer geld as haar man huis toe bring. In sommige huwelike plaas dit druk op die verhouding. Dis egter onnodig; julle kán ’n balans tussen jul liefdeslewe en jul bankrekening vind.
DEUR ILETTE COETZER
Die opvattings oor mans en vroue se onderskeie rolle in ’n huwelik het die afgelope jare nogal baie verander. Dit kon eintlik nie anders nie. Om mee te begin: Dit gebeur deesdae selde dat ’n huisgesin slegs een broodwinner het. Die dae toe vroue by die huis gebly het om kinders groot te maak, is klaarblyklik iets van die verlede.
Hedendaagse werkgewers is boonop meer geneig om vroue in die werkplek aan te stel. Al is dit bloot ter wille van die maatskappy se profiel. Laasgenoemde, juis ook wat gender betref, is deesdae om verskeie redes in die kollig.
Moeilikheid!
Sommige mans sluk dít nie maklik nie. Baie van hulle sukkel met die feit dat vroue die korporatiewe leer vinniger as hulle klim, en daarom dikwels meer as hulle verdien.
As die senior-vrou-in-die-werkplek boonop jou eggenote is, word dinge nóg ingewikkelder.
Navorsing wys byvoorbeeld uit dat mans in ’n huwelik waar vroue groter salarisse as hulle verdien, meer geneig is om buite-egtelike verhoudings aan te knoop. Én dat dit ’n groot faktor by egskeidings is.
As die kwessie nie reg hanteer word nie, kan dit onnodige druk op die verhouding plaas. Die vrou voel dalk daar word te veel van haar verwag; die man se eiewaarde is in die gedrang. Dit gee selfs tot ’n minderwaardigheidsgevoel aanleiding, omdat hy reken dat hy nie na behore vir sy gesin kan sorg nie.
Uiteraard is die paartjie se beskouing van die huwelik hier van groot belang: Hoe meer “tradisioneel” hul idee oor ’n huwelik is, hoe groter is die kanse op ’n breekspul. As die man, wat hulle betref, versorger en voorsiener is en die vrou kinderopvoeder en kosmaker, en die vrou se salaris nou hierdie rolle omkeer, wag daar waarskynlik probleme.
Die verwagtings
Maar wat kan ’n paartjie doen om te voorkom dat hulle deel van die slegte statistiek word?
Margaret Lamprecht, ’n dosent in die bestuur van finansies by Logo Centre in Kimberley, sê so ’n paartjie moet begin deur hul verwagtings te verander.
“Praat voor jul troue oor jul finansies,” sê sy. “Wees oopkop. Moenie julle aan tradisionele rolle uitverkoop nie. Dit sal byvoorbeeld reeds help as die man meer by die huishouding betrokke raak.
Én by die daaglikse pligte teenoor die kinders.
“Maak ’n lys van wié wát in die huishouding doen: Wie neem die kinders op watter dag skool toe; wie sit die vullissakke uit; wie kook op watter aande.
“Die man se betrokkenheid by hierdie huishoudelike sake verlaag nie sy ‘status’ nie. Inteendeel.”
Twee verhale
Francois* was suksesvol in sy beroep as rekenmeester. Sy vrou is ’n gewilde ginekoloog en het baie meer geld tot die huishouding bygedra. Hulle het reeds voor hul troue besluit dat Francois by die huis sou bly sodra hulle met ’n gesin kan begin.
Vandag vervoer hy die kinders, help met hul huiswerk en sorg dat die huishouding vlot verloop. Saans kook hy vir die gesin. Vanweë sy vrou se lang en ongereelde werktye kan hulle nie anders nie.
Francois sê: “Dit werk vir ons. As die kinders groter is, sal ek weer die arbeidsmark betree. Nou moet een van ons by die huis wees. Ek weet dis vir sommige mense vreemd, maar ons het saam die besluit geneem. En ons almal is gelukkig daarmee.”
Eugene* is ’n persoonlike afrigter by ’n gimnasium, en sy verloofde ’n mediese dokter.
Hy vertel: “Dis moeilik vir haar om te verstaan dat ek nie elke naweek kan uiteet of kuier nie. Ek moet ook ons vakansies mooi beplan. Ek is byvoorbeeld nie gemaklik met die feit dat sy meer as ek vir ons uitgawes betaal nie.
“Ons weet nog nie regtig hoe dit gaan werk as ons eers getroud is nie. Ek weet ons moet daaroor praat, maar dis tans nog ’n sensitiewe onderwerp.”
* Nie sy regte naam nie
Wenke vir die suksesvolle vrou
• Moenie jou man domineer nie.
Julle is mekaar se gelykes. Dit gebeur dikwels dat ’n vrou wat in ’n bestuursposisie is, dit moeilik vind om tuis die “oorskakeling” na eggenote te maak. Wees bewus van die verskillende rolle in jou lewe. Laat jou man toe om belangrike besluite namens julle te neem, sonder dat jy hom daaroor voorsê.
• Moenie geld as ’n wapen gebruik nie.
Fokus op wat jou man na die huwelik toe bring. Dalk kook hy lekker. Straks is hy ’n goeie pa. Bes moontlik ondersteun hy jou heelhartig in jou beroep. Geld kan baie druk op jul verhouding plaas – as jy dit toelaat. Verander jou fokus, en wys jou maat dat jy hom waardeer en respekteer.
• Plaas die klem op “ons s’n” eerder as “myne” en “joune”.
Praat oor jul uitgawes en jul behoeftes. Deesdae word daar soveel klem op voorhuwelikse kontrakte geplaas dat ’n paartjie soms vergeet dat hulle saam in hierdie huwelik is.
• Moenie oor geld stry nie.
Geld moet vloei. Jy kan nie aan jou geld vasklou terwyl jou maat finansieel swaarkry nie.
• Besluit saam oor hoe geld bestee moet word.
Sommige kundiges stel voor dat ’n egpaar ’n gesamentlike rekening vir huishoudelike uitgawes open. Besluit hoeveel geld op watter maandelikse uitgawes bestee word. Potensiële of bestaande spanning vererger indien een party al die finansiële besluite neem.
• Heroorweeg die situasie.
Het julle werklik die ekstra inkomste nodig? Besluit saam of dit ’n permanente of bloot ’n tydelike reëling is.
• Besef dat jul situasie uniek is.
Moenie jul situasie met ander paartjies s’n vergelyk nie.
• Wees eerlik in jul kommunikasie met mekaar.
Sê hoe jy regtig voel, selfs as jy soos ’n mislukking voel. Praat oor jul onderskeie vrese en behoeftes.
• Beplan jul geldsake saam.
As die vrou se salaris die maandelikse rekeninge betaal, kan die man met sy salaris byvoorbeeld vir jul aftrede en pensioen beplan.
• Betrek jou eggenote by besluitneming.
Moenie finansiële besluite op jou eentjie neem nie. Waak daarteen om jou inkomste met ’n magsposisie te vereenselwig.
• Moenie jou eggenoot laat skuldig voel oor hoeveel hy verdien nie.
Fokus op jul gesamentlike finansiële doelwitte en nié op wie hoeveel tot die huishouding bydra nie.
• Kry hulp as julle die situasie nie saam kan beredder nie.
Moenie net tou opgooi nie; kry professionele hulp indien dinge begin skeefloop.