Andrea Hendrick (52) het van kleins af verwerping beleef. Selfs toe sy as negejarige deur ’n familievriend verkrag is, het sommige mense wat na aan haar was, gekies om weg te kyk.
Sy sou jare lank na aanvaarding soek, meestal op die verkeerde plekke. Ook die aanvanklike keuse van ’n huweliksmaat het in hartseer en verwerping geëindig.
Toe kom die dwelms …
’n Vals werklikheid
Andrea vertel: “My eerste kennismaking met dwelms was in ’n klub, waar ek saam met ’n vriendin was. Ek was 26. ’n Doodgewone hoofpyn het my hele lewe verander.
“My vriendin het my ’n pil aangebied. Sy het my verseker dat dit ’n pynpil is wat sy met ’n voorskrif bekom het. Dit was egter my eerste ontmoeting met die gevaarlike dwelmmiddel Ecstasy.
“Die euforie was onmiddellik. Dit is moeilik om te beskryf presies hoe so ’n ervaring is. Dit het nie gevoel asof iets buite beheer is nie; ek het net salig en gelukkig gevoel.”
Volgens Andrea het die dwelm ook ’n soort vals werklikheid geskep, ’n plek waar sy geen emosionele pyn geken het nie. Selfs haar intense verlange na haar oorlede pa het verdwyn.
“Aanvanklik was ek nie regtig daaraan verslaaf nie. Ek het nooit die gevoel gekry dat ek ’n behoefte daaraan het nie. Maar met verloop van tyd kon ek nie soggens behoorlik aan die gang kom as ek nie eers ’n pil gesluk het nie. Ek het dit nodig gehad om die dag te oorleef en om saans die klubs te kan besoek.”
Donker, maar geen oordeel
In daardie omgewing het Andrea ’n nuwe vriendekring gevind. Niemand het omgegee wie sy was of waar sy vandaan gekom het nie. Sy was wel deurentyd daarvan bewus dat sy op die verkeerde pad was. Maar sy het nie meer omgegee nie.
Sy vertel: “My Ecstasy-gebruik het later na ander dwelms gelei. Dit was destyds, in die 1990’s, baie moeiliker om dwelms in die hande te kry as wat dit vandag is. Ek het uiteindelik, deur die bemiddeling van ’n vriendin, ’n kontak gekry in ’n luukse Kaapse woonbuurt.”
Hier het Andrea gereeld partytjies bygewoon en die dwelms was volop. Omdat sy met twee invloedryke handelaars bevriend was, is sy op die hande gedra. Dit was hierdie verbintenis wat haar later duur te staan sou kom.
Toe slaan die Skerpioene toe
Een aand het sy oudergewoonte saam met hierdie vriende gekuier toe die eertydse Skerpioene toegeslaan het. Alhoewel dié spesiale taakmag eintlik na die handelaars op soek was, het hulle ook Andrea se handsak deursoek.
Daar het hulle tien Ecstasy-tablette gevind, en hulle het haar ook as ’n handelaar geïdentifiseer. Andrea is daarvan oortuig dat iemand, in die harwar, haar regte handsak omgeruil het met dié waarin die klomp dwelms gevind is. Sy is onmiddellik, saam met die res, gearresteer.
Die hofverrigtinge het sowat twee-en-’n-half jaar lank geduur. Andrea het dit alles vir haar familie weggesteek. Sy sê sy het nie vir ’n oomblik gedink sy sou tronk toe gaan nie. “Mense soos ek gaan mos nie tronk toe nie …”
Selfs toe sy uiteindelik tot nege jaar tronkstraf gevonnis is, was sy vas oortuig daarvan dat dit nie ’n werklikheid sou word nie. Op pad na die Pollsmoor-gevangenis het sy steeds gedink dat haar ma en broer haar daar sou kom haal.
“Maar skielik was ek in ’n sel met 30 beddens. Dit was vuil en koud. Hier het die harde werklikheid my getref. Niemand sou my kom red nie.
“Die eerste jaar was die swaarste. Ek het my baie arrogant gehou ten einde my vrees weg te steek. Ek was voortdurend onbeskof en het neerhalend teenoor die ander gevangenes opgetree. Dit het my dikwels in die moeilikheid laat beland. Maar ek het steeds geglo dat ek beter as hulle was en dat húlle daar behoort het, nie ek nie.”
‘Op my knieë voor God’
Haar hardekwas houding het uiteindelik daartoe gelei dat Andrea erg aangerand is. Later is sy, ter wille van haar eie veiligheid, na ’n enkel-sel verskuif. In hierdie koue sel, in die hartjie van die Kaapse winter en sonder ’n kombers, het Andrea God ontmoet.
“Ek onthou dat ek op my knieë was en Hom gevra het hoekom dit met my gebeur het. Ek wou weet hoekom ek so gestraf word vir iets wat ek nie eens gedoen het nie. Eensklaps het ek ’n warm gevoel op my skouer ervaar, amper iets soos wanneer ’n ouer jou troos.
“Vir die eerste keer in my lewe het ek God se stem gehoor. Hy het aan my bevestig dat Hy by my is en dat alles goed sou uitwerk. Ek het op die kaal matras gaan lê en aan die slaap geraak. God was in beheer.”
Die volgende oggend het Andrea met nuwe hoop wakker geword. Sy het die bewaarder gevra om haar terug te neem na die sel waar sy aangerand is. Hier het sy elke mens wat sy beledig het om verskoning gevra. Sy was daarvan oortuig dat God dit van haar verwag.
Met sagter oë
Dit het egter nog ’n jaar geduur voordat die ander gevangenes haar vertrou het.
Met hierdie nuwe lewensingesteldheid het Andrea besluit om van die kursusse wat in die gevangenis aangebied is aan te durf. Sy het verskeie Bybelkursusse voltooi en was later ook die redakteur van die gevangenis se nuusblad.
Sy vertel: “Nadat ek ’n diploma in onderwys verwerf het, het ek meer voordele gekry. Ek is die geleentheid gebied om Engels en wiskunde aan die ander gevangenes aan te bied.”
Hier het sy elke dag te doen gekry met mense wat aan uiteenlopende oortredings skuldig bevind is. Sy onthou hoe stukkend hulle was, slagoffers van uitdagings wat hulle reeds klein-klein moes trotseer. Hulle het hul stories met haar gedeel, wat haar met sagter oë na hulle laat kyk het. Daar was ook dié wat met dwelms handel gedryf het, meestal as gevolg van hul armoede asook vanweë uitbuiting deur die bendes.
Andrea onthou: “In my tyd in die tronk het ek geen ondersteuning van my familie gekry nie. Ek het dus geen toegang gehad tot die snoepwinkel nie en kon, byvoorbeeld, nie toiletware aankoop nie. Sonder geld was die lewe moeilik. Daar is ’n bepaalde hiërargie in die gevangenis, en ek was heel onder.
“Dit het egter bekend geword dat ek ’n haarkapper is, en hiermee kon ek my in die tronk onderhou – met ’n geldjie, of deur ruilhandel. Ek het selfs van die bewaarders se hare versorg, en uiteindelik ’n enkelsel gekry waaruit ek my beskeie salon kon bedryf.”
Ná vier jaar in die gevangenis is Andrea vrygelaat, nadat die president ’n spesiale vergunning aan gevangenes gemaak het wat nie aan geweld skuldig bevind is nie. Sy het ook erkenning gekry vir goeie gedrag. Dit was in 2006.
In 2008 het sy Andrew ontmoet. Sy was van die eerste dag af met hom eerlik oor haar geskiedenis. Hulle is later getroud en sou op ’n wittebroodsreis vertrek. Haar paroolvoorwaardes het vereis dat sy bloot die nodige dokumentasie moes indien om te kon reis.
Terug na Pollsmoor
“Ek het al die vorms voltooi voordat ons vertrek het. Daar het egter iewers ’n haakplek ontstaan en ek is gearresteer omdat ek kwansuis sonder toestemming gereis het. Ek is onmiddellik weer na Pollsmoor geneem.
“Dis was vir my baie sleg. Ek was kwaad en opstandig. Ek kon nie glo dat die geskiedenis homself só herhaal nie. In hierdie tyd het my man egter weer die Here ontmoet, en dit was vir my ’n lig in ’n baie donker tyd. God het dus ook die leiding geneem in my lewensmaat se lewe.”
Andrea is ná 31 dae vrygelaat nadat haar reisdokumentasie uiteindelik opgespoor is.
’n Instrument in God se hande
Die waardes wat Andrea in die gevangenis geleer het, sluit nederigheid en vergifnis in, asook om haarself te vergewe. Sy het onthou dat die regter tydens haar vonnisoplegging gesê het dat sy eendag vir hom sal dankie sê.
Ná haar vrylating het Andrea baie tyd daaraan afgestaan om hierdie man op te spoor en hom te bedank omdat hy vir ’n keerpunt in haar lewe verantwoordelik was.
Sy vertel: “Mense wat niks van my lewensreis verstaan nie sal ook nooit verstaan dat ek hom kon bedank nadat hy my gevangenis toe gestuur het nie. Hy was egter bloot ’n instrument in God se hande.
“Ek het hom hom toe wel opgespoor en hom bedank vir sy aandeel in my reis na genesing. Én omdat hy my op die pad gestuur het waar ek God sou ontmoet – agter Pollsmoor se tralies.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.