“Ek kry nou nog terugflitse van daardie oggend se gebeure. Die skoppe en die geskree …”
Só vertel Lana Coetzee (67) oor die grusame gebeure vier jaar gelede op die beesplaas Libertas, vlak teen die klein dorpie Reivilo in die Kalahari, waar sy en haar man Schalk (67) woon.
‘Soos ’n fliek wat voor jou afspeel’
Dit was agtuur die Saterdagoggend, 6 Junie 2020, dit was tydens Covid-19 se grendeltyd, toe drie gewapende mans vir Schalk ongeveer 300 meter van die huis in die veld oorrompel het. Hulle het sy selfoon gevat, sy trui oor sy kop getrek en hom tot onder ’n bos gesleep. Daar het hulle sy hande en voete met doringdraad vasgebind. Hierna het hulle die beeskrip op hom omgekeer en sinkplate, klippe en takke daarop neergesit.
Die drie gemaskerde booswigte is toe na die plaashuis waar die niksvermoedende Lana voor die rekenaar besig was om administratiewe werk te doen.
Lana onthou: “Hulle het baie sag beweeg. Ek was eers van hul teenwoordigheid bewus toe hulle van agter op my begin skree het dat hulle geld wou hê. Ek het soos ’n robot gereageer en presies gedoen wat hulle gevra het. Uit vrees het ek geen oogkontak gemaak nie.
“Dit was ’n scenario waaroor ek en Schalk toe reeds lankal gepraat het. Ons het vir mekaar gesê dat ’n mens se lewe meer werd is as al jou besittings.
“Ek het besef daar is nie geld nie, want die werkers is toe pas betaal. Ek het die oop, leë kluis vir hulle gewys. En ek het voorgestel dat ek my bankkaart en geheime kode vir hulle gee sodat hulle kan geld trek.
“Hulle was nie tevrede nie. Hulle het my waarskynlik toe met iets oor my kop geslaan, want ek het ’n ruk later eers bygekom. Ek het op die vloer gelê. Ek het ’n paar keer my bewussyn verloor, en dan weer bygekom. Telkens op ’n ander plek.
LEES OOK: ’n Ouma vertel: ‘Ek het die moordenaars vergewe’
“In ’n stadium het ek my weer voor die kluis bevind, my hande vasgemaak. En ek het hulle in die huis hoor beweeg. Dit was soos ’n fliek wat voor jou afspeel; jy is nie deel daarvan nie. Ek kon niemand bel nie, want hulle het my foon gehad.
“Toe hulle besef hulle gaan nie regkom nie, het hulle Schalk in die veld gaan haal en hom huis toe gesleep.”
Hulle het gevat wat hulle wou
Schalk het ook sy bankkaart aan hulle oorhandig, geheime kode en al. Maar dit was nie goed genoeg nie en hulle het hom begin martel. Ses van sy ribbes is met sy eie haelgeweer afgeslaan. Daar is kookwater oor sy nek, ore en rug gegooi. Daarna het hulle hom met doringdraad aan die handdoekreling in die badkamer vasgemaak.
Hulle het gevat wat hulle wou. En later die voertuie se bande stukkend gesteek.
Lana vertel: “Ek sien die Here se hand hierin, deurdat hulle nie die kamerdeur se sleutel kon kry om my ook toe te sluit nie. Daarby het ons jaggeweer agter die deur gestaan.
“Hulle het dalk gedink ek is dood, want toe ek my bewussyn herwin, was daar ’n duvet oor my. My hande en voete was aan mekaar vasgebind.”
Nadat sy haar losgewikkel het, het sy saggies na Schalk geroep. Sy het nie geweet of die misdadigers nog in die huis was nie.
Lana is uiteindelik by ’n skuifdeur uit, terwyl sy ook nie geweet het of Schalk nog lewe nie. Sy het begin hardloop, 2,5 kilometer ver na die naaste bure toe. Dié het na Schalk gaan soek. Hulle kon die badkamerdeur oopkry.
Die Hartswater-polisie en ’n dokter het dadelik gekom. Die dokter het die 240 km met Lana en Schalk Kimberley toe gejaag, waar hulle in die Gariep-hospitaal opgeneem is.
‘Sy teenwoordigheid was ’n werklikheid’
“Ek was nog altyd gelowig,” sê Lana. “As ek oor alles terugdink, besef ek dat ek nooit vir my lewe gevrees het nie. Dit was asof daar deurentyd Iemand was wat oor my gewaak het.
“Ek het die hele tyd met die Here gepraat en was altyd van sy teenwoordigheid bewus. Ek het Hom gevra om my en Schalk se lewe te spaar. En dat Hy die aanvallers moet vergewe, want ek het hulle daardie einste dag reeds vergewe.
“Ek was nooit kwaad vir die Here nie. Sy teenwoordigheid tydens en ná die voorval was ’n werklikheid. Al dié dinge het my net nog nader aan Hom gebring.”
Hul beserings was érg. Schalk moes twee weke lank in die hospitaal deurbring met die ses gebreekte ribbes en die brandwonde aan sy ore, nek en rug.
Omdat sy hande so styf vasgebind was, moes hy geopereer word om die beskadigde senuwees te herstel.
Lana was drie weke lank in die hospitaal. Daar is ook kookwater oor haar uitgegooi, maar sy het grootliks ongedeerd daarvan afgekom omdat sy ’n rolkraagtrui gedra het. Daar was geringe brandwonde op haar kopvel en ore. Haar neus was wel op drie plekke gebreek, een oordrom het gebars. Haar wangbeen was oopgekloof en sy het skedelbreuk, harsingskudding en bloeding op die brein opgedoen. Daarby het haar linkeroogkas verbrokkel en daardie oog is heeltemal verplaas. Dié skade kon wel herstel word.
Sy vertel: “Ons seun Schalk jr moes eers ’n Covid-19-toets ondergaan voordat hy by ons toegelaat is. Maar ná ’n spesiale vergunning kon hy elke dag na ons toe kom.
“Die Reivilo-boeregemeenskap het ons wonderlik ondersteun. Ons huis is selfs skoongemaak sodat ons nie weer aan die aanval herinner moes word nie.”
Die boosdoeners is reeds die dag van die aanval vasgetrek, maar die saak sloer steeds.
‘Ek bly skrikkerig, hoewel …’
Nadat Lana en Schalk uit die hospitaal ontslaan is, het hulle twee maande lank by hul kinders gebly.
Lana vertel: “Ek was baie bang om terug te gaan plaas toe. Dit het ’n hele tydjie geduur om die vrees af te skud. Ons het ons veiligheidsmaatreëls verskerp. En hoewel ek steeds skrikkerig is, vertrou ons die Here vir ons beskerming.”
Sy praat oor haar emosies ná die aanval: “Dit was maar ’n groot stryd. Jy gaan deur goeie en slegte tye. Daar is altyd iets wat jou weer aan die voorval herinner.
“Maar die vrees, angs en selfs selfbejammering hou net nie op nie. Daar kom dus steeds slegte dae; gelukkig word dit mettertyd minder. Ek bly skrikkerig, hoewel dit darem nou al beter gaan.
“Ek en Schalk ondersteun mekaar. Ons sal soms net saam stil word, net mekaar se hande vashou. Ons sal soms stil bid, en soms hardop. Ons is mekaar se terapeut en mekaar se klankbord. Ons praat oor alles. Dit help baie en is genesend. Jy kry altyd weer nuwe moed.
“Die aanval het my uitkyk op die lewe verander. Dis nou die klein dingetjies in die lewe wat saakmaak. En ek het meer empatie met ander mense.
“Ek koester geen wrok teenoor my aanvallers nie. Ek kan eerlik sê dat ek hulle nie haat nie. Dat ek hulle vergewe het. Paulus se woorde in Filippense 4:13, ‘Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee,’ het my deur moeilike tye gedra.
“Ná alles wat gebeur het, kan ek sê dat my geloof in en liefde vir God verdiep het.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.