Ek het in ’n Christenhuis grootgeword, waar ek sterk morele waardes geleer is. Maar ek het nie besef dat ek jare later die ergste misbruik denkbaar sou moes deurmaak nie. Nie net as gevolg van ’n man wat ek vertrou het nie, maar ook deur die satan se mag.
Ek het dié man deur ’n gemeenskaplike vriendin ontmoet toe ek ’n eerstejaarstudent was. Hy het hom as ’n predikant en berader voorgedoen. Hy het ’n lesing oor satanisme gelewer en gesê hy was self ’n voormalige satanis. Ek onthou hoe hy voorwerpe wat in die okkulte gebruik word een vir een uitgehaal en gewys het: ’n beker met ’n pentagram daarop, ’n dolk, ’n klokkie.
Ek het toe geen idee gehad van die krag waaroor hy beskik het nie. Of van dit wat later met my sou gebeur nie.
Die wolf in skaapsklere
Ons vriendskap het gou-gou ’n verhouding geword. Ná enkele maande is ons getroud. Dit was toe alles begin verander het. Hy het ’n kant van homself gewys wat ek nie geken het nie.
LEES OOK: ‘Geen donker plek is te diep vir God nie’
Hy het my deur vrees en geestelike manipulasie begin beheer. Hy het my gedwing om my werk by ’n gimnasium te bedank. Die rede? Ek moes Saterdae werk, en hy het dit as die sabbat beskou. Die man waarmee ek getrou het, was nie die man wat ek ná die troue leer ken het nie. Ek het sy besitting geword.
As gevolg van erge finansiële druk moes ek as prostituut begin werk. Hy het ’n advertensie in die koerant geplaas waarin mans uitgenooi is om my vir ’n aand te bespreek. Só is ek teen R150 per sessie uitverhuur, selfs aan sy eie seun, wat getroud was.
Ek kon niks daaraan doen nie. Ek het ons huis as ’n bordeel begin beskou, en elke “bespreking” was vir my niks anders nie as ’n verkragting.
“Die Duiwel,” soos ek hom noem, het my gewaarsku dat hy my en my familie sou doodmaak indien ek nie doen wat hy my beveel het nie. Die trauma was intens, nie slegs liggaamlik nie, maar ook emosioneel en geestelik.
Hy het ’n naam vir my gekies – “Angie”. Hy het besluit wat ek moes aantrek, hoe ek my hare moes dra en selfs wat ek moes eet. Soms het hy selfs my hare gekleur.
Ek was nie meer ek nie.
Ek het daarna gesmag om dood te gaan. Dit was donker om my, en ek het nie die krag gehad om op te staan nie. Ek het geglo dat God my verlaat het. Hoe kon Hy toelaat dat ek dit alles deurmaak? Ek het gesmeek dat Hy my kom haal.
Ek vlug
Maar God het my nie verlaat nie. Een aand het ek besef dat Hy ’n groter plan het en dat die dood nie die uitweg uit daardie situasie was nie. Ek het ’n punt bereik waar ek nie meer omgegee het wat met my gebeur nie. My liggaam, siel en verstand was so verdoof dat ek gedoen het sonder om te dink.
Dit was die keerpunt, en ek het uiteindelik genoeg moed bymekaargeskraap om te vlug. Ek het slegs ’n klompie kledingstukke in ’n emmer gehad, en ’n motor.
Die pad na herstel was nie maklik nie, maar ek was nie alleen nie. God het my na herstel gelei. Hy het ook wonderlike mense oor my pad gebring om my te help.
Ek is uiteindelik van daardie man geskei en het ’n nuwe lewe begin. Maar dit was net die begin van God se werk in my nuwe lewe.
My soektog na genade
Ek het na God se genade begin soek en vir genesing en herstel gebid.
Ek het by ’n hospitaal begin werk. Een oggend het ek vir ’n jong seun gebid wat in ’n ongeluk was. Hy was nie veronderstel om die ongeluk te oorleef nie, maar God het dit op my hart gelê om vir hom te bid. Hy het herstel. Die dokters het geen verklaring daarvoor gehad nie. Maar ek het gesien hoe God werk, en dit het my daarvan oortuig dat genesing moontlik is, selfs vir die diepste wonde.
’n Mens is geneig om vir God kwaad te wees wanneer slegte dinge met jou of met ander gebeur, maar ons moet onthou dat daar ’n vyand is wat die mensdom haat en soveel moontlik pyn, seer en verwoesting saai. My verhouding met God is herstel. En ek het geleer dat ek nie my menswaardigheid, geloof en hoop hoef prys te gee nie.
’n God wat my liefhet
Ek beskou myself nie as ’n “gewese prostituut” nie, maar as iemand wat gesond geword het. Ek is nie meer gebroke nie; ek is ’n mens met waarde, met ’n roeping. En met ’n God wat my liefhet.
My verhaal klink dalk soos ’n nagmerrie, maar dis gelukkig nie waar dit geëindig het nie. Vandag glo ek dat ek nie bloot gely het nie, maar dat God, soos met die Ou Testament se Josef, sy doel met my lewe bereik het. Hy het my nie deur die hel laat gaan sodat ek moes sterf nie; Hy wou hê ek moes oorwin.
Ek kan getuig dat dit werklik so is dat die Here enige situasie gebruik om sy doel te bereik. Ek het vuil en verneder gevoel, maar my hemelse Vader het my gewys dat ek sy geliefde kind is, dat ek vir Hom saak maak. Hy gebruik my om ander te help, om dit wat ek moes deurmaak aan te wend om gebroke mense na Hom te lei.
Ek het opgestaan, herstel en die Here se hand gegryp. Ek het geglo, selfs toe ek nie kón glo nie. Ek het geweet dat ek nie alleen is nie, al het dit so gevoel. Ek het God in my lewe ervaar.
My verhaal is een van hoop en geloof. God het my uit die diepste donkerte gehaal. Hy het my die krag gegee om op te staan. Dit was nie die pad wat ek gekies het nie, maar dit het my gebring tot waar ek nou is.
- Elzani woon in Bloemfontein. Sy is ’n praktykbestuurder by ’n psigiatriese praktyk. Sy het onlangs haar lewensverhaal geskryf en laat publiseer.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.