Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Eksamengebed vir my kind | 4 gebede om te bid 

Wanneer jou kinders eksamen skryf, wonder jy dalk: Watter eksamengebed vir my kinders kan ek bid? Hier is 4 gebede.

Wanneer jou kinders eksamen skryf, is jy dalk die een wat die meeste stres. Ons kan ons kinders help leer en die regte omgewing skep om te leer.

Maar ons grootste taak is om vir hulle te bid. Hier is 4 kort gebede wat jy as ‘n eksamengebed vir jou kind kan gebruik. 

Eksamengebed vir my kinders | As hulle gespanne is

Here, U weet hoe angstig my kind kan raak wanneer hy of sy eksamen of toetse skryf. U ken my kinders deur en deur. U ken hulle vrese en hulle hoop.

Ek bid dat Jesus se vrede oor hulle gedagtes en hulle harte die wag sal hou. Dat hy of sy ‘n rustigheid en kalmte sal ervaar, omdat hulle weet dat U met hulle is.

Help my kinders om hard te werk aan hulle voorbereiding, en dan te rus in die feit dat hulle hul deel gedoen het. My eksamengebed vir my dogter en seun is dat hulle harde werk sal vrugte afwerp wanneer hulle hul eksamen aflê.

Amen.

Eksamengebed vir my kinders | As hulle in hul eie vermoëns twyfel

Here, U het my kinders geskape met elke mooi detail en al die vaardighede wat hulle vandag het. My God, my eksamengebed vir my dogter en seun is dat hulle nie sal twyfel in hulle vermoëns nie. Dat hulle sal raaksien wat U so uniek en besonders in hulle geskape het.

Mag hulle altyd roem in dit wat U vir hulle gegee het, en dankbaar wees vir al hulle talente en geleenthede. Skuif hulle perspektief sodat hul dankbaar en vol vertroue in U sal wees. Vat van hulle af weg enige vrees, negatiwiteit en onsekerheid. In Jesus se Naam.

Amen.

Eksamengebed vir my kinders | As hulle sukkel met tydsbestuur

My Here God, U het vir elke ding ‘n vaste tyd gemaak. U gee vir ons genoeg ure in die dag om ons dagtaak te voltooi. Soms sukkel my kinders om hulle tyd reg te bestuur. Here, gee vir hulle die wysheid en selfdissipline om hulle tyd goed en effektief te bestuur.

Here, gee ook vir my wysheid om my kind te lei en aan hom of haar ‘n goeie voorbeeld te stel. Help my om op ‘n praktiese manier my dogter of seun by te staan in hulle tydsbeplanning.

Amen.

Eksamengebed vir my kinders | As hulle nie gemotiveerd is nie

Dankie, Here, dat dit U is wat ons gewillig en bekwaam maak om u wil uit te voer. Ek weet nie hoe om my dogter of seun te motiveer nie, maar my eksamengebed vir my kind is dat U hom of haar sal motiveer om hard te werk.

Help my kinders om die regte prioriteite te hê en gee vir hulle ‘n groter perspektief sodat hulle kan weet wat belangrik is en wat nie.

Mag my kinders se geloof in en kennis van God elke dag toeneem sodat hulle hul lewe rondom God se koninkryk sal bou en inrig. Mag hulle u koninkryk eerste stel, en dan ontvang van U wat U graag aan hulle wil skenk.

Amen.

Hier is nog gebede vir jou gesin.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF