Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Elke lewe is ’n gawe van God,’ sê dié onderwyser vir gestremdes

Om met kinders wat gestrem is te werk, bring vele uitdagings mee. Maar dis ook uiters bevredigend – as jy in God se goedheid glo, en as jy glo dat elke lewe ’n gawe uit sy hand is.

 FOTO’S: LOURENS FOURIE

Haar wekker laat haar soggens opstaan, lag Hester Faure van Bellville. Maar dis net die humorsin van ’n onderwyser wat só klink. In werklikheid is dit haar roeping wat haar uit die vere kry, wat haar elke dag met nuwe ywer en toewyding laat aanpak. Hester is ’n personeellid by Paarl-skool in Brackenfell, Kaapstad, waar leerders met neurale en liggaamlike gestremdheid onderrig word. Dié ma van vier se werk is besonder uitdagend, maar dis haar passie. “Ek hou hier skool omdat dit my roeping is,” sê sy. “Ek werk vir die Here, ek werk vir die ouers van dié spesiale kinders. Ek werk met die gereedskap wat die Here my gegee het om sy wil te doen.” ‘Dis so ’n voorreg …’ Hester is departementshoof van die funksionele fase by Paarl-skool. “Dis die fase in ons skool waar die leerders liggaamlik of serebraal asook kognitief gestrem is,” vertel sy.

LEES OOK: ‘Moenie toelaat dat jou omstandighede God se stem stilmaak nie,’ sê 38-jarige vrou ná kankerdiagnose

“Hulle funksioneer dus, kognitief gesproke, op ’n laer vlak as dié in die hoofstroom. Die funksionele fase se leerders is tot 18 jaar oud. Ons hooffokus is om hulle funksionele vaardighede aan te leer sodat hulle ná skool so ver moontlik onafhanklik kan wees.” Haar dag begin met gebed. “Ek leer graag vir my kinders Bybelverse. Soms sing ons, ons praat oor ons behoeftes, en ons bid daaroor. Daarna volg gewone skoolwerk – taalonderrig, wiskunde en lewensvaardighede. “Ek bied ook landbou as vak aan vir die werkvoorbereidingklasse, dit is die 14- tot 18-jariges. Ons werk stadig, ons herhaal baie, maar daar gebeur elke dag spesiale dinge in ons klas.” Hester werk reeds 29 jaar lank in spesiale onderwys. In 2009 het sy by Paarl-skool aangesluit. Ná haar voorgraadse studies aan die Universiteit van Pretoria het sy ’n honneursgraad in sielkunde by die Noordwes-Universiteit voltooi, asook ’n onderwysdiploma. Daarna het sy haar twee jaar lank in spesiale onderwys by die Universiteit van Johannesburg bekwaam. “Paarl-skool is regtig ’n unieke plek,” vertel sy. “Hier heers ’n rustige, liefdevolle atmosfeer. Hier is ’n soort sagtheid by die personeel. Daar word werklik baie in elke kind belê. Dis so ’n voorreg om hier te werk.”

’n Pad vol uitdagings

Hester sê sy kry elke dag die geleentheid om haar geloof by haar werkplek uit te leef. Sy gesels graag met haar leerders oor die Here. “Ek glo die Here maak nie ’n gestremde gees nie. En al is die liggaam en die verstand gestrem, is elke mens se gees normaal, en ontvanklik vir die evangelie en die waarheid. “Daarby glo ek dat die voorbeeld wat jy uitleef, jou leerders en kollegas raak. “Ons het die voorreg om ’n skoolhoof te hê wat die Here werklik dien. En personeellede wat mekaar ondersteun en mekaar se laste dra. Ons bid saam en vertrou saam vir die Here se voorsiening.” Hester vertel sy het haar hart vir die Here gegee toe sy nege jaar oud was, nadat ’n onderwyser gereeld met haar St 1 (gr 3)-klassie oor die Here gesels het. Sy het haar man, Willem, op universiteit ontmoet. En, onthou sy, “ek het altyd vir seker geweet waar my hulp vandaan kom”. Nadat sy en Willem in 1994 getroud is, het hulle saam die Here gevra waarheen Hy met hulle op pad is, en waar Willem hom as biokinetikus moet vestig. Hulle het na Bethlehem in die Oos-Vrystaat verhuis. En daar het Hester twee vriendinne ontmoet saam met wie sy weekliks kon bid – vir hul onderskeie mans, kinders, beroepe. “Geestelike groei begin met gebed,” sê Hester.

‘Dan stap jy net aan’

Maar daar het swaar tye op Hester en Willem gewag. Hul tweede dogter, Jana, is met ’n ernstige hartdefek gebore en sy moes etlike operasies ondergaan. Dit het maande in die hospitaal beteken, en tot baie angs en spanning gelei. Hester vertel hoe hulle in dié tyd net aan die Here vasgehou het. Hulle het baie gehuil, ja, maar ook baie ure lank die Here bloot aanbid en op Hom gewag. Die behoefte aan spesialisbehandeling vir hul kind het die gesin ná baie gebed Kaap toe laat verhuis. By hul nuwe gemeente het hulle die Here se liefde en leiding op ’n spesiale manier beleef. Dis belangrik om aan ’n gemeente te behoort, sê Hester. “Gelowiges het mekaar nodig, en die gemeente is die plek waar die Here se liefde uitgeleef word. “Ek en Willem het ’n pad vol uitdagings gestap. En die Here het ons deur dit alles gedra. Hy het my geleer om net op Hom te vertrou. Net Hy maak deure op bonatuurlike maniere oop. Baie keer was daar nie uitkoms nie, maar dan stap jy net aan – en Hy sorg.” Vandag is Jana (23) ’n onderwysstudent in haar derde jaar. Die Faures se oudste dogter, Suné (25), is ’n verpleegkundige. Daniël (20) is ’n mediese student in sy tweede jaar en hul jongste dogter, Lisa (17), is in graad 11.

“Ek en Willem (bo links) het ’n pad vol uitdagings gestap. En die Here het ons deur dit alles gedra. Hy het my geleer om net op Hom te vertrou. Net Hy maak deure op bonatuurlike maniere oop. Baie keer was daar nie uitkoms nie, maar dan stap jy net aan – en Hy sorg,” vertel Hester. Hier is \’n gesinsfoto van Hester, haar man Willem by hul vier kinders. Foto: Lourens Fourie

 ‘Die pakkie wat jy kry’

“Ander mense se swaarkry raak my diep,” sê Hester. “Jy voel soms magteloos, en jy kan nie almal help nie. ’n Kind met ’n gestremdheid stel net soveel eise aan ’n mamma wat in ’n informele nedersetting woon as die mamma in ’n gegoede buurt. Dit maak almal gelyk. En in Paarl-skool is almal gelyk. “Al kan ek nie altyd self help nie, kan ek iemand na die regte persoon verwys. Soms is mense moedeloos, en dan het hulle dikwels net iemand nodig wat luister en wat weer perspektief gee.” Dis vir haar belangrik om ’n goeie verhouding met die ouers te hê, sê Hester, en hulle weet hulle kan haar enige tyd skakel. “Dit gee hulle ook gemoedsrus. Want die ouers beleef báie uitdagings. Soms vind die dokters dit moeilik om die korrekte diagnose te maak, en dit skep baie spanning. Mediese koste en dié van terapeute is hoog. Vervoer is dikwels ’n probleem. “En om uiteindelik die regte skool vir jou kind te kry, is nie eenvoudig nie. Ouers moet ook vooruit dink en vir die toekoms beplan, veral vir die tyd ná skool. Gou-gou is die kind se skoolloopbaan verby, en dan moet jy hom of haar geholpe kry.” Die ouer se eie ondersteuningstelsel is belangrik. “Maak jou familie en vriende uit die staanspoor deel van die proses,” is Hester se raad. “Moenie die uitdagings alleen aanpak nie. Vra hulp, en aanvaar die hulp wat ander aanbied. “Daarby kry ’n huwelik soms swaar as gevolg van die spanning. Maak tyd vir mekaar, praat oor jul vrae en bekommernisse. En vertrou op die Here. “Elke nuwe lewe is ’n gawe van God, ongeag die pakkie wat aan jou toevertrou word. Dis die pad wat die Here vir die ouer en die kind kies. God is soewerein. Wees dankbaar en bly vertrou.”

  • Dié artikel verskyn ook in die Lente-uitgawe van die gedrukte LiG wat nou op winkelrakke is.
  • Kontak Paarl-skool by paarlskool.org.za of 021 981 5555.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF