Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Gaan ek soos Joost lyk?’ vra 35-jarige ná MS-diagnose

Op 5 Junie 2020, die oggend van my 35ste verjaardag, skrik ek vroeg wakker. Ek dank die Heer vir nog ’n jaar wat Hy my gespaar het. En ek vra Hom om my genadig te wees vir die jare wat voorlê.

Kwart voor agt lui my foon. My dokter wil my dadelik by sy spreekkamer in Vanderbijlpark ontmoet. Hy sê: “Rozaan, die MRI-uitslag is nie goed nie.” Hy sê ek het veelvuldige sklerose (MS).

My eerste gedagte is aan my groot held Joost van der Westhuizen. My stem is hees toe ek hom vra: “Dokter, gaan ek soos Joost lyk?”

Rozaan (38) en haar ouers, Ansie en Lukas Steyn, woon in die Vaaldriehoek. Foto verskaf

Daar het ek besef die Here wil my gebruik

Ek moet neuroloog toe in Pretoria en word in die hospitaal opgeneem. Ek lê in die bed en baklei met die Here: “Ek is ’n kind van U. Ek is nog jonk. Hoekom ek?”

Ek kan dit nie verstaan nie.

Terwyl ek met die Here stry, kom Flamlied 100 by my op: “Gaan dan heen, gaan in vrede. My kind, gaan doen wat Ek jou vra.”

Ek skrik so groot dat ek hardop vra: “Here? Ék? Ek wat so skaam en teruggetrokke is?”

Later stuur my ma Lance James se liedjie vir my: “Neem my lewe, laat dit, Heer” – en ek huil.

Maar daar het ek besef die Here wil my gebruik.

Sowat 250 MS-ondersteuners het in Januarie 2024 te voet, met ’n rolstoel of op ’n “scooter” aan ’n staptog in Vanderbijlpark deelgeneem het.

‘Jy is seker mal!’

Vier dae later, ná kortisoonbehandeling en ’n lumbale punksie, word ek ontslaan.

En só begin my pad met MS. Ek het tot in daardie stadium ’n baie aktiewe lewe gelei, en ek het toe besluit om saam met my ouers te begin stap.

In my soeke na mense in my omgewing wat ook teen dié wrede siekte veg, kry ek iemand in Sasolburg wat my help om nog MS-lyers te ontmoet. Ons stig ’n WhatsApp-groep om mekaar te bemoedig.

Op ’n dag daag ’n vriend my uit om saam met hom teen Tafelberg uit te klim. Ek sê dadelik: “Jy is seker mal! Ek, wat hoogtevrees het?”

Maar ná baie dink en bid, besluit ek om dit tog te doen. Dalk kan ek daarmee ander MS-lyers hoop gee.

Ek moes hard oefen. Ek het in Maart 2022 aan die Sasol-marathon se pretloop deelgeneem. Daar was ’n foto in ons plaaslike koerant van my wat oor die wenstreep loop, terwyl ek my kierie Freddie in die lug hou.

Ek besef nou dit was Jesus wat my arms so omhoog gehou het, om my te verseker dat ek vir Hom sal werk. Daarna het ek ophou vra “hoekom ek?” en eerder gedink: “Hoekom nié ek nie?”

‘Rozaan, die Here weet van jou hoogtevrees’

In Oktober 2022 staan ek uiteindelik saam met 22 ondersteuners en kyk op na Tafelberg. Ons kon die Heer se grootheid sien.

’n Klompie stappers het in die verbygaan my “MS Warrior”-hemp gesien en “sterkte!” gesê. My hoogtevrees het wel gesorg dat ek die hele ent pad net voor my gekyk het …

Ongeveer 300 meter duskant ons bestemming hoor ons daar het ’n veldbrand uitgebreek. Ons moes terugdraai.

En net daar laat my MS my in die steek en my bene word lam. Ek kon nie terugstap nie. Die nooddienste moes my met ’n helikopter kom haal. Ek dink almal kon my gille tot in Timboektoe hoor!

Ná die tyd het my vriend Morné dit mooi gestel: “Rozaan, die Here weet van jou hoogtevrees, en Hy het gesorg dat jy dit oorwin. Nie net met die bergklim nie, maar ook met die helikopterrit!”

In November verlede jaar het ek aan die Summer Race in Sasolburg deelgeneem. Net voor die eindstreep het ek geval en my linkerpolsgewrig lelik gebreek.

Die Here het vir my gesorg, en ek het goed herstel danksy ’n noodoperasie, fisioterapie, geduld en baie gebede. Ek het nie die volle gebruik van my hand herwin nie, maar ek kan steeds die meeste noodsaaklike take verrig.

Rozaan op haar elektriese ryding wat sy “Max Verstappen” gedoop het. Sy kom daarmee oor die weg wanneer sy die dag lam voel en dit moeilik vind om te loop. Foto verskaf

Die Here se genade is groot

Ek sou in Desember ’n staptog reël ten bate van MS-lyers wat hul stryd teen dié siekte verloor het, maar ek moes dit tot Januarie uitstel weens my besering. Ons het gereken daar sal so 50 deelnemers opdaag, maar die Here se genade was groot. Daar was ongeveer 250 mense wat te voet, met ’n rolstoel of op ’n “scooter” deelgeneem het.

Op Saterdag 23 Maart 2024 pak ek en my vriende weer die Sasol-marathon aan. Hopelik gaan ’n klompie MS-lyers hierdie keer saam stap.

Die Here se genade is groot. Ek was nog altyd ’n gelowige mens, maar my stryd teen MS het my geloof versterk. Boonop lag ons drie Steyntjies baie, ons is vrolik, want ons weet Jesus is aan ons kant.

Vandag kyk ek terug op die pad wat ek al amper vier jaar lank stap, en ek sê “dankie Here!” dat daar soveel mense is wat my ondersteun.

Ek hoop my getuienis sal iemand hoop gee. Ons almal is uniek, ons is spesiaal vir Jesus, ongeag ons omstandighede. Sy genade en liefde is só groot vir elkeen.

  • Rozaan (38) en haar ouers, Ansie en Lukas Steyn, woon in die Vaaldriehoek. Rozaan doen gereeld bewusmaking oor MS, en sy het al aan radiopraatjies deelgeneem. Daarby het haar storie in die koerant verskyn. Sy het ook reeds deelnemers by stapbyeenkomste toegespreek. Sy sê sy probeer om elke MS-lyer wat haar pad kruis te ondersteun en te bemoedig.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF