Die woord “gasvryheid” skets dalk vir jou ’n prentjie van ’n hartlike en gesellige kuier om ’n gedekte etenstafel. Of miskien herinner dit jou aan ’n lang inkopielysie, ’n deurmekaar kombuis en ’n leë beursie. Hoekom, en hoe, maak Christene dan hul huis en hart vir ander oop?
Gasvryheid se wortels lê in die Bybel. Reeds in Levitikus 19:34 sê die Here vir Moses en die woestyntrekkers: “Hulle (die vreemdelinge) moet soos enigiemand anders behandel word en jy moet hulle liefhê soos jouself. Onthou dat julle ook vreemdelinge was in Egipte. Ek, die Here, is julle God.”
Wanneer die Israeliete dus ander mense, en veral vreemdelinge, onthaal of versorg het, moes hulle dit doen uit dankbaarheid vir die wyse waarop die Here hulle uit Egipte gelei en in die woestyn versorg het.
Gelowiges dink ook dadelik aan Abraham, wat drie vreemdelinge naby sy tent opgemerk het, hulle dadelik genooi en vir hulle kos voorberei het.
LEES OOK: Die Heilige Gees se werk – en ons sʼn
Dit was vir Abraham ’n gewigtige saak: Hy het summier beveel dat Sara 16 kilogram meel se roosterkoeke voorberei! Hy het ook ’n vet kalf uit sy kudde gekies om te slag. En hy het botter en melk saam met die ete voorgesit.
Boonop het hy self sy gaste bedien. Eers later het hy besef dat hy die Here self onthaal het (Gen 18).
Met verwysing na insidente soos dié sê die Hebreërsskrywer: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang” (Heb 13:2).
Om vriendskap te ‘bedien’
Ds Ian Dubery, ’n leraar by Moreleta Kerk in Pretoria, verduidelik hoe etlike Christene hulle deur die jare op vriendskap-evangelisasie toespits. “Hulle fokus op die bou van verhoudings en reik op dié manier na ander uit om só die Goeie Nuus te verkondig. Deur hul gasvryheid raak die Heilige Gees die vreemdelinge aan en kom diep en gesonde verhoudings tot stand.”
Ds Fay van Eeden, predikant by die NG gemeente Stellastraat in Pretoria, voeg by: “Christelike gasvryheid behels meer as saamkuier met vriende en familie. Christelike gasvryheid is ook, en veral, gasvryheid teenoor vreemdelinge en vervreemdes. Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament vir gas-vryheid gebruik word, impliseer ‘liefde vir vreemdelinge’.”
Hierdie liefde vir vreemdelinge is ’n soort liefde wat sterk emosie uitdruk. Dit behels goedgesindheid, wat deur woord en daad oorgedra word, en ’n openheid vir “dié wat anders as ons is”.
“Wat die Suid-Afrikaanse konteks betref, is dit nou dalk belangriker as ooit om weer die diep betekenis van hierdie woord te ontdek en uit te leef. Sonder gasvryheid sal ons nie sommer ’n kultuur van vreemdelingehaat en rassisme omkeer nie,” meen Fay.
Gelowiges behoort ook ag te slaan op die ou profeet se woorde: “Is die vas wat Ek wil hê nie dít nie … dat jy vir dié wat honger is van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n blyplek gee nie …?” (Jes 58:6-7).
Ja, die beoefening van gasvryheid staan reg teenoor vormgodsdiens. En dit sluit aan by die groot gebod, soos Jesus dit aan die wetgeleerde uitgewys het: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:39).
Jesus se voorbeeld
Die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer het Christus beskryf as “die Mens vir ander”. En Christus se volgelinge, die kerk, as “die kerk vir ander”.
Jesus is sy volgelinge se volmaakte voorbeeld van en leermeester oor gasvryheid. In sy bediening op aarde het hy nooit ’n huis gehad nie – en tog het Hy groot skares by hom laat welkom voel. Hy het hulle bedien, hulle versorg en hulle gevoed. Hy was ruimhartig en goedwillig.
Hy het dikwels saam met tollenaars en sondaars, die samelewing se uitgeskoptes, gekuier en geëet. Hy het God se liefde en omgee prakties en tasbaar uitgeleef.
Bybellesers onthou ook die gebeure tydens die voorbereiding vir die laaste aandete wat Jesus saam met sy dissipels deurgebring het. Jesus, die gasheer, het eers afgebuk en sy dissipels se voete gewas en afgedroog voordat Hy hulle genooi het om saam met Hom by die ete aan te sit. En tydens dié maaltyd bied Hy Homself aan, sy lewe, as offer vir hulle.
Jesus leer sy volgelinge dat gasvryheid nie bloot ’n goeie daad is nie, maar dat dit onlosmaaklik deel vorm van ons bediening op aarde.
In dié verband het Hy ook die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel. Jesus gee ons die opdrag om medelye te hê. Dis die verantwoordelikheid en die voorreg van elke Christen om op hierdie manier na mekaar, maar ook na vreemdelinge, uit te reik.
Ons mag mekaar nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons het mekaar se liefdevolle sorg nodig in ’n wêreld wat toenemend liefdeloos, onverskillig en vyandig geword het.
Waar begin ek?
Om op dié manier na ander uit te reik, om hulle letterlik in te nooi, kan vir baie gelowiges vreesaanjaend wees. Ian sê egter dat sulke gasvryheid nie met groot gebaar moet geskied nie, en dit vra ook nie ’n “groot” geleentheid nie; met werklike gasvryheid ontbloot ons ons hart en ons bedoeling.
Hy sê: “Moenie in jou huis of jou besittings vaskyk nie; fokus eerder op die skep van ’n ruimte waar mense kan ontspan en die Here se liefde kan ervaar. Só word verhoudings gebou.”
Wenke wat werk
Die Kersseisoen bring baie geleent-hede om mense se hart aan te raak met ons gasvryheid. Nou kry ons die kans om God se koninkryk in ons huis en om ons etenstafel uit te bou.
- Begin klein. Indien ’n huis vol mense jou kniekoppe laat bewe, kan jy eers een persoon, iemand saam met wie jy graag wil kuier, na ’n koffiewinkel nooi of in ’n park ontmoet. Wanneer jy meer op jou gemak begin voel, kan jy daardie een na jou huis toe nooi. Dan is die ys hopelik gebreek.
- Wees kreatief. ’n Kuiergeleentheid waar elkeen ’n bordjie eetgoed of hul gunsteling-braaibroodjies bring, sal niemand platsak laat nie en dit kan vir mooi herinneringe sorg. Baie gaste wil graag ’n bydrae lewer wanneer hulle kom kuier. Gee hulle op dié manier die geleentheid om jou en jou gesin te seën.
- Hou die ete eenvoudig en die hartlikheid eg. ’n Pot pasta en ’n bak slaai kan net soveel wonderlike oomblikke oplewer soos ’n driegang-maaltyd.
- Deel die lekkerte van musiek, ’n mooi tafeldoek, kerse, die uitsig vanaf jul stoep, en selfs jul troeteldiere, sodat ander mense iets van jul huis en jul omgee kan beleef.
- Span die res van die gesin in om die kombuis, leefvertrekke en badka-mers skoon te maak vir ’n gemaklike en gesellige kuier. Só kan jul kinders van jongs af leer om ander mense te verwelkom.
- Hou die bordspeletjies, speelkaarte of speelgoed gereed vir jong kinders en tieners wat saam met hul ouers kom. Onthou om die jonges deel van jul gesprekke te maak.
- Bid vooraf vir die regte geleenthede, en vir jul gaste, en vra die Here om deur julle te werk sodat sy liefde sigbaar sal wees. Vra sy seën op die kos en op jul gaste voor julle eet.
- Vra die Here om jul oë oop te maak vir iemand wat julle nie noodwendig sou oornooi nie. Dink aan ’n manier om na daardie mense uit te reik.