Jesus het vir sy dissipels ’n eenvoudige gebed geleer nadat hulle Hom gevra het hoe hulle moet bid. Ook ons, wat sukkel om ‘n gebed vir bemoediging uit ons hart te laat vloei, kan die woorde van die Onse Vader gebruik word om ons eiesoortige situasie voor God se aangesig te bring.
Hieronder is ‘n gebed vir ‘n eensame, wat bemoediging by God wil gaan soek.
’n Eensame se gebed
Ons Vader wat in die hemel is, U wat ook baie na aan my is, laat u Naam – Here, Trooster, Immanuel – geheilig word. Laat u Naam my veilige plek wees.
Laat u koninkryk kom, hier in my hart vol eensaamheid. En ook in die omgewing waar ek woon en op die plekke waar ek beweeg.
Laat u wil geskied in my leefwyse, my sosiale lewe en in my alleenheid. Laat dít waartoe U my geroep het, uitgevoer word en gestalte kry in al my doen en late.
Here, gee my vandag wat ek so broodnodig het. U ken my behoefte aan geselskap, aan saamwees. In u teenwoordigheid is oorvloedige vreugde.
Vergeef my my sonde, en help my om nie bitterheid in my hart rond te dra nie. Ek vergewe die mense wat my verstoot, dié wat nie na my uitreik nie. Help my om nooit te swig voor versoekings nie, en pas my op wanneer die duiwel my wil verlei om verkeerde dinge te doen.
U is die alomteenwoordige God. U regeer. Aan U behoort die krag en die heerlikheid, vir altyd en in alle omstandighede. Amen.


















